Flou Engelse net-net Samoane se baas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Danny Care nadat hy Saterdag sy drie teen Samoa gedruk het. Foto: Getty Images
Danny Care nadat hy Saterdag sy drie teen Samoa gedruk het. Foto: Getty Images

'n Drie deur die veteraan-skrumskakel Danny Care en doelskop deur Owen Farrell het Engeland Saterdag van vernedering gered teen Samoa in 'n kragmeting in die Wêreldbeker-toernooi.

Die Engelse het die Groep D-kragmeting naelskraap met 18-17 in Lille gewen.

Die 36-jarige Care, sy span se plaasvervanger-skrumskakel, het in die 73ste minuut oorgeduik, met Farrell wat verdoel het om die telling 18-17 te maak. Voor daardie drie en doelskop het dit gelyk asof die Samoane op pad is om die rugbywêreld te skok, aangesien hulle nog nooit daarin kon slaag om die Engelse te klop nie.

Selfs ná Care se drie, in die doodsnikke van die wedstryd, het Samoa nie gaan lê nie en baie naby daaraan gekom om die kragmeting te beklink.

Met die sege is Engeland, reeds verseker van 'n plek in die kwarteindronde, steeds onoorwonne in vanjaar se WB.

Die Samoane, wat nou huiswaarts keer, het Saterdag met vuur en durf op die aanval vertoon en boonop soos tiere verdedig wanneer dit saak gemaak het.

Voor in die koor vir Samoa was die voormalige All Black-losskakel Lima Sopoaga. Hy het agterlangs rigting aan Samoa se agterlyn gegee.

Maar die Engelse was ook hul eie grootste vyand. Hulle het 'n keer of wat bottervingers gehad, hul lynstane het nie die heeltyd op alle suiers gevuur nie en hulle is 'n keer of wat vir oortredings by die afbreekpunte gestraf.

Om sake vir Engeland te vererger, het Farrell laat in die tweede helfte aangelê pale toe toe die telling 17-11 was. Ongelukkig vir hom het hy die skop nie binne die toegelate tyd deur die pale gejaag nie - wat beteken die strafdoel is nie toegeken nie. Gelukkig het sy span gewen, anders sou dié Engelsman 'n nagmerrie of twee gekry het.

Lima Sopoaga, losskakel van Samoa, seil Saterdag in Lille onder die Engelse flank Courtney Lawes in. Foto: Getty Images
Lima Sopoaga, losskakel van Samoa, seil Saterdag in Lille onder die Engelse flank Courtney Lawes in. Foto: Getty Images

Farrell het Saterdag Jonny Wilkinson (44), wat 1 179 punte agter sy naam het, verbygesteek as Engeland se voorste puntemaker van alle tye.

Wilkinson, wat in 2011 sy laaste toets gespeel het, was deel van Engeland se span wat die WB-toernooi in 2003 gewen het - die enigste keer tot op hede dat die Rose die Webb Ellis-trofee omhoog kon hou.

Gegewe hoe die Engelse Saterdag teen Samoa gesukkel het, is die kans skraal dat Farrell en sy spanmaats vanjaar soos Wilkinson-hulle die WB kan verower.

• Puntemakers: Engeland 18 (8): Drieë: Ollie Chessum, Danny Care. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell (2). Samoa 17 (14): Drieë: Nigel Ah-Wong (2). Doelskoppe: Lima Sopoaga (2). Strafdoel: Sopoaga.

SPELETJIES VANDAG

CTA