Wb Rugby

Wayne Barnes dra fluitjie in WB-eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die Engelsman Wayne Barnes dra die fluitjie in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd.  Foto: Getty Images
Die Engelsman Wayne Barnes dra die fluitjie in Saterdag se Wêreldbeker-eindstryd. Foto: Getty Images

Die Engelsman Wayne Barnes se aanstelling as skeidsregter vir Saterdag se Wêreldbeker (WB)-eindstryd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika hier in die Franse hoofstad is Maandagaand deur Wêreldrugby bevestig.

Hy is die tweede Engelsman om in 'n WB-eindstryd te blaas.

Sy landgenoot Ed Morrison was die blaser toe Suid-Afrika en Nieu-Seeland mekaar die vorige keer in 'n eindstryd, in 1995 in Johannesburg, gepak het. Die Bokke was toe met 15-12 baas.

Barnes en Suid-Afrika se Jaco Peyper was die twee blasers in die wedloop vir die eindstryd. Aangesien 'n neutrale aanstelling gemaak moet word, is Peyper nie meer oorweeg nie ná die Springbokke se oorwinning van 16-15 oor Engeland.

Peyper is om dieselfde rede nie vir 2019 se eindstryd oorweeg nie.

Barnes se landgenote Karl Dickson en Matthew Carley is as sy assistentskeidsregters vir die eindstryd aangewys. Tom Foley van Engeland is as die TV-skeidsregter aangestel.

Barnes, wat in Londen woon, blaas vanjaar in 'n rekord vyfde WB-toernooi. Hy en die Walliese skeidsregter Nigel Owens was voor vanjaar se skouspel in Frankryk die gesamentlike rekordhouers met vier toernooie.

Die 44-jarige Barnes is ook die mees ervare blaser in die Sesnasies-reeks, met 26 wedstryde.

In November 2022, met die toets tussen Wallis en Nieu-Seeland, het Barnes naas Owens slegs die tweede skeidsregter geword om beheer van 'n 100 toetse te neem.

'n Week later het hy die rekord sy eie gemaak toe hy toesig gehou het oor Frankryk en Suid-Afrika se toets in Marseille. Hy trek nou al by 110 toetse.

Die kragmeting in Marseille was die 16de Springbok-toets waarin Barnes geblaas het. Net Owens (18 toetse), Steve Walsh (Nieu-Seeland, 18) en Alain Rolland (Ierland, 17) was in meer Springbok-toetse as Barnes betrokke.

Volgens die rugbystatistiek-webwerf genslin.us/bokke het Suid-Afrika 12 van die 16 toetse gewen waarin Barnes die skeidsregter was. Slegs een van daardie 16 toetse was teen die All Blacks.

Dít was in 2014 toe die Bokke danksy 'n doodsnik-langafstandstrafdoel deur Pat Lambie op Ellispark met 27-25 gewen het.

Barnes was ná verlede jaar se toets teen Frankryk nie in die Bokke se goeie boekies nie en Rassie Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het opnuut in die sop beland toe hy agterna van die Engelsman se beslissings op sosiale media bevraagteken het. Die Engelse Rugbyunie het daarna onthul dat Barnes en sy gesin aanlyn dreigemente gekry het.

Barnes was vir lank ook nie 'n geliefde figuur in Nieu-Seeland nie. Hy was die skeidsregter in 2007 se kwarteindstryd tussen Frankryk en die All Blacks waarin die Hane 'n skoksege behaal het. Barnes is deur Nieu-Seelanders verkwalik vir 'n oënskynlike vorentoe aangee wat tot Frankryk se wendrie aanleiding gegee het.

Luidens 'n berig op stuff.co.nz was Barnes al in 23 All Black-toetse die skeidsregter. Die Nieu-Seelanders het 15 van daardie kragmetings gewen en agt verloor. Hy was egter voorverlede week in hul kwarteindsege oor Ierland die fluitjiedraer.

Barnes het regte studeer aan die Universiteit van Oos-Anglia, waar hy vir die eerste rugbyspan gespeel het.

Hy het in 2002 lid van die balie geword. Hy is 'n advokaat en 'n vennoot by die internasionale regsfirma Squire Patton Boggs, waar hy maatskappye adviseer oor sake van omkopery, korrupsie en bedrog. Hy ondersteun ook nasionale beheerliggame en sportinstellings met interne ondersoeke en gee advies oor beste bestuurspraktyke.

Barnes was die wêreld se jongste voltydse skeidsregter toe hy op 25-jarige ouderdom in April 2005 by die Engelse Rugbyunie aangesluit het.

In die WB-toernooie van 2007, 2011, 2015 en 2019 het Barnes in twee bronseindstryde, een halfeindstryd, drie kwarteindstryde en 15 groepwedstryde geblaas.

Hy was in 2009 en 2021 in altesaam drie toetse op die Britse en Ierse Leeus se toere na Suid-Afrika die fluitjieblaser.

In klubrugby het Barnes beheer geneem van twee eindstryde van die Europese Kampioenebeker (2010 en 2018), drie in die Europese Uitdaagbeker (2012, 2019 en 2022) en 'n rekord van tien in die Engelse Premierliga.

In Januarie 2021 het hy die eerste beampte geword om in 250 Engelse Premierliga-wedstryde te blaas.

Wêreldrugby het ook Maandag bevestig dat die Aussie Nic Berry as blaser vir Vrydag se uitspeelstryd om die bronsmedalje tussen Engeland en Argentinië aangewys is. Nika Amashukeli van Georgië en Ierland se Andrew Brace is sy assistentskeidsregters met Wallis se Ben Whitehouse as die TV-skeidsregter.

• Hendrik Cronjé doen uit Frankryk vir Netwerk24 verslag oor die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog.

Hendrik Cronjé in Parys

CTA