Ja, dit was broekskeur. Ja, dit was senutergend. Maar o vet, dié sege is soet!
Die Springbokke is weer - nee, stééds - op die kruin van wêreldrugby, nadat hulle gisteraand in 'n nat Parys die eerste span tot nog toe geword het wat rugby se Wêreldbeker-kroon vier keer wen, deur Nieu-Seeland se magtige All Blacks met die kleinste wenmarge moontlik te verslaan.
Die Bokke was met 12-11 baas oor 'n Kiwi-span wat vir meer as 50 minute sonder hul kaptein, Sam Cane, moes regkom nadat hy met 'n rooi kaart gestraf is vir 'n kopstamp met Jesse Kriel. Maar die All Blacks se hardnekkigheid is in hul DNS vasgestempel, en die feit dat hulle met 14 man moes klaarkom, was uiteindelik genoeg motivering dat hulle so byna-byna steeds die kroon gebuit het.


Hulle het die enigste drie van die wedstryd gedruk en sal vanoggend lang trane huil oor die twee stelskoppe - 'n doelskop deur Richie Mo'unga en 'n strafdoel deur Jordie Barrett - wat nie die teiken getref het nie.
Om vas te haak by wat die All Blacks gepootjie het, sal die Bok-brekers wat so hardnekkig aan die voortou geklou het en vir 80 minute lank hul lywe op die spel geplaas het, 'n enorme onreg aandoen.
Eerstens: Kom ons bou 'n standbeeld vir Pieter-Steph du Toit - meneer Kanniedood homself wat gisteraand 28 duikslae gemaak het en sonder huiwering ingeseil het onder enige All Black wat naby hom gekom het.
Dié skoongesig-flank lyk dalk soos 'n teddiebeer, maar daar is min ander spelers in wêreldrugby wat soveel uitstyg in die groot oomblikke. Vier jaar ná hy as Wêreldrugby se Speler van 2019 bekroon is - ná hy ook toe min aanvallers beweegruimte gegun het - het hy gisteraand weer met 'n enorme werketiek en absolute vreesloosheid vir die wêreld gewys wat hy kan doen.
Ook Kwagga Smith was gisteraand weer sy gewig in goud werd. Baljagter van formaat, kliphard op die verdediging, gevaarlik met die bal in die hand . . . daar is waaragtig niks wat dié breker nie op die rugbyveld kan doen nie.
En Eben Etzebeth was so giftig soos altyd. Hy het Mo'unga vroeg in die toets met 'n duikslag soos 'n Wimpy-strootjie gebuig en in die 23ste minuut binne Suid-Afrika se kwartgebied 'n belangrike lynstaanbal gesteel. Dit was verreweg sy voorste vertoning in die toernooi.

Dit was danksy helde soos hulle, en die koelkoppe van 'n groep mans wat die afgelope vyf jaar al uit menige moeilike situasie moes glip, dat die Bokke gister 'n derde Houdini-uitslag in drie weke kon lewer.
Soos in die kwarteindstryd teen Frankryk en die halfeindstryd teen Engeland het Siya Kolisi-hulle weer gemaak dat Bok-ondersteuners hul naels tot in die lewe afkou terwyl hulle 'n skrale eenpunt-voorsprong in die laaste minute verdedig het. Daarvoor sal hierdie span vir ewig onthou word - en natuurlik vir die feit dat geen ander groep al so 'n klipperige pad na die Webb Ellis-trofee moes loop nie.
Hou in gedagte dat hierdie Springbokke se Wêreldbeker-veldtog wedstryde teen vyf van die wêreld se voorste ses spanne ingesluit het (en dat hulle as die wêreld se nr. 1-span die sesde van daardie spanne is).
"Ek reken ons hou van drama," het Du Toit laat hoor.
Die rekordboeke sal hopelik ook weerspieël dat 2019 se grootste sensasie, die Bomb Squad, dié keer oortref is deur 'n Nuke Squad op die reserwebank, wat sewe voorspelers en slegs een agterspeler ingesluit het.
Voor afskoptyd gister was daar reën en wind, maar die 7/1-samestelling van die bank was 'n versekeringspolis daarvoor. Die reën wat eindelik die grootste impak gehad het, was die kaart-vloed.
‘n Engelsman, Tom Foley, het as TV-skeidsregter eindelik ‘n massiewe invloed op sake gehad.
Hy het vier keer ingegryp en sy landgenoot, die blaser Wayne Barnes, oortuig om geel kaarte uit te deel.
Die eerste daarvan het reeds in die derde minuut gekom, toe Shannon Frizell by 'n losgemaal met sy volle gewig op Bongi Mbonambi se regterbeen beland het.
Mbonambi se wedstryd is in die proses beëindig en Frizell moes koelkas toe.
Ses-en-twintig minute later het Cane se wedstryd tot 'n einde gekom weens daai kopstamp met Kriel, en het heelwat Bok-ondersteuners waarskynlik gedink die koeël is deur die kerk. Maar dié All Blacks ken nie van gaan lê nie . . .
Toe Kolisi in die 46ste minuut ook geel gesien het vir 'n hoogvat op die All Blacks se instaankaptein, Ardie Savea, het die gevaarligte begin flikker. En toe raak die wêreld selfs warmer vir Suid-Afrikaners toe die immer gevaarlike Cheslin Kolbe in die 73ste minuut 'n bal afklap en met 'n geel kaart gestraf word.
Die Bokke het weens die nat speeltoestande byna dieselfde bloudruk in die eindstryd gebruik waarmee hulle die beker in 2019 in Japan gewen het.
Hulle het die bal 37 keer uit die hand geskop (die meeste van enigiemand in dié toernooi) om die All Blacks tot oorgawe te help dwing.
Die Bokke het die meeste gebiedsvoordeel van 53% gehad op die aand, terwyl die All Blacks 56% balbesit gehad het.
Weens Mbonambi se besering het Suid-Afrika vier belangrike lynstaanballe verloor, maar Deon Fourie het dubbel en dwars daarvoor vergoed met sy spel by die afbreekpunte en sy ongelooflike werkverrigting.


Elke Bok verdien krediet vir hul bydraes. Vermeulen was uitstaande as baldraer en Kolbe het verskeie invloedryke oomblikke gehad.
Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se besluit om die Kiwi's met 'n 7/1-bank te pak was niks minder as meesterlik nie. Erasmus is 'n rugbygenie.
Nienaber en die res van die afrigtingspan se bydraes durf natuurlik ook nie onderskat word nie.
Vir alle Suid-Afrikaners was gister 'n aand om te onthou. Dat die Bokke dié een - nes in 2019 - vir ons almal gewen het, was duidelik in Kolisi se opmerkings.
"Dis onmoontlik om te beskryf," het hy volgens Albert Heenop gesê. "Alle eer aan die All Blacks; hulle het ons na 'n donker plek geneem en onder ongelooflike druk geplaas, maar ons het nooit opgehou veg nie.
"Mense besef nie wat dit vir ons land, wat op die oomblik deur so baie gaan, beteken nie. Dit wys vir kinders van die Derdewêreld dat enigiets vermag kan word. Alles is moontlik. Daarvoor is ek so dankbaar vir hierdie span."
PUNTEMAKERS:
Springbokke (12):Strafdoele: Handré Pollard (4)
All Blacks (11): Drie: Beauden Barrett, Strafdoele: Richie Mo'unga (2)












