Harry Kane het Engelse sokkertrots Maandagaand in die doodsnikke van hul Wêreldbeker-wedstryd teen Tunisië gered.

Engeland moes tot in die 91ste minuut wag vir 'n sege van 2-1 in dié wedstryd in Groep G in Volgograd.
Voor dié doel was Engelse ondersteuners maar bra mismoedig en het dit gelyk asof hul span weer op die grootste verhoog gaan teleurstel.
Kane het Engeland 'n hele 80 minute vroeër laat voorloop met sy eerste doel toe hy die bal in die Tunisiese doelhok getik het toe die doelwagter dit net kon deflekteer ná 'n hoekskop.
Tunisië, die Afrika-span in die hoogste posisie (21) op die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) se wêreldranglys, het 10 minute voor rustyd sy doel aangeteken danksy 'n strafdoel van Ferjani Sassi.
Tunisië het tot in daardie stadium, en eintlik ook vir die res van die wedstryd, nie veel van 'n bedreiging vir die Engelse doelhok ingehou nie.
Hy het dié strafskop, die agtste tot dusver in vanjaar se toernooi, gekry ná 'n stukkie onsinnige vuilspel van die Engelse verdediger Kyle Walker.
Engeland het anders as sy teenstander die een aanslag ná die ander geloods op soek na nog 'n doel, maar die Afrikane se befaamde verdediging het hom keer op keer gefnuik.
Engeland het self ook tot sy eie frustrasie bygedra met swak afronding en aangeë wat verlore gegaan het. Daar sal ook opnuut vrae gevra word oor hoe doeltreffend Raheem Sterling, wat veronderstel was om die Tunisiërs saam met Kane besig te hou, werklik op internasionale vlak was.
Marcus Rashford het nuwe lewe in Engeland se spel geblaas toe hy Sterling in die 68ste minuut vervang het.
Engelse ondersteuners moes al teen die einde gesigte begin sien het van nog 'n teleurstellende Wêreldbeker-veldtog voordat Kane vir 'n tweede keer toegeslaan het.
Dié keer het Kane, Engeland se jongste Wêreldbeker-kaptein tot nog toe, die bal met die kop in Tunisië se doelhok gestamp.
Daar is vooraf heelwat van Kane verwag en hy het Maandagaand ondanks die druk van hoë verwagtinge nie teleurgestel nie.




















