
Engeland se sokkerspan het Sondagmiddag in Nizhny Novgorod vir die eerste keer sedert 2010 tot die tweede ronde van 'n Wêreldbeker-toernooi deurgedring toe hy Panama met 6-1 geklop het.
Engeland se ondersteuners sal verheug wees dat hul span nie die skandes van 2014 in Brasilië gaan herhaal nie toe hy nie die groepfase oorleef het nie.
Maar wat sê 'n mens anders van 'n wedstryd waarin spreekwoordelike kuikenmoord gepleeg is?
Dit is Panama se eerste Wêreldbeker-toernooi en jy moet ver gaan soek om hom in die 55ste plek op die wêreldranglys te kry.
Engeland, in die 12de plek, het die wedstryd van die begin af beheer en John Stones het reeds in die agtste minuut die eerste doel ná 'n hoekskop aangeteken.
Harry Kane, Engeland se kaptein, het in die 22ste minuut met 'n strafdoel geslaag waarna doele deur Jesse Lingard (36ste minuut) en Stones (40) gevolg het voordat Kane in die 46ste minuut die rustydtelling 5-0 gemaak het met 'n tweede strafdoel.
Die Engelse kaptein het sy driekuns in die 62ste minuut behaal toe Ruben Loftus-Cheek die bal teen hom vasgeskop en dit in die doelhok gespat het.
Die 37-jarige Felipe Baloy het 12 minute voor die einde Panama se enigste doel ná 'n vryskop aangeteken.
Dié doel, wat tot groot vreugde onder Panama se ondersteuners in die stadion gelei het, sal die Engelse omkrap omdat hulle graag hul verdedigingsrekord vlekkeloos sou wou gehou het.
Kane se twee strafdoele sal Gareth Southgate, die afrigter, weer 'n klein bietjie beter laat slaap. Engeland is nie juis bekend vir sy vermoë met strafskoppe in Wêreldbeker-toernooie nie en Kane het Sondag veral met die eerste een beïndruk toe hy lank moes wag vir die jawoord van die TV-skeidsregter en spelers van Panama boonop hul bes probeer het om hom te ontsenu.
Kane het boonop Sondag net die derde Engelse speler ooit geword wat 'n driekuns in 'n Wêreldbeker-toernooi aanteken. Hy was wel gelukkig met sy derde doel, maar sy vermoë om altyd op die regte plekke op te duik, bly eenvoudig verstommend.
Raheem Sterling, daarenteen, het wéér teleurgestel. Dié doelskieter se naam is eers in die 26ste minuut genoem toe hy onkant was en hy het minstens een uitstekende geleentheid verspeel om sy eerste doel vir Engeland sedert Oktober 2015 aan te teken.
Dit is nog te vroeg om te sê hoe goed Kane se Engelse span wel is, maar ondersteuners sal hulle daaraan troos dat die laaste nederlaag in 'n mededingende wedstryd teen Ysland in die Euro 2016-toernooi was.
Vir beter durf hulle seker nie nou al te vra nie.




















