Wb Sokker

KYK: Koreane klits hul span met eiers

Suid-Koreaanse sokkerondersteuners was só ontstig nadat hul nasionale span nie die tweede ronde van die Wêreldbeker-toernooi in Rusland kon haal nie, dat hulle die span met eiers bestook het met sy terugkeer na die land.

Duitsland se Joshua Kimmich probeer 'n bal van Suid-Korea se Moon Seon-Min steel in dié spanne se groepwedstryd. Foto: Getty Images
Duitsland se Joshua Kimmich probeer 'n bal van Suid-Korea se Moon Seon-Min steel in dié spanne se groepwedstryd. Foto: Getty Images

Die Koreaanse Sokkervereniging (KFA) het besluit om nie klagtes aanhangig te maak teen die mense wat die spelers met eiers gegooi het nie.

Suid-Korea het sy eerste twee wedstryde in Rusland teen Swede en Meksiko verloor, voordat hy 'n skoksege oor die verdedigende kampioen, Duitsland, behaal het. Dié sege van 2-0 oor die Duitsers het die verdedigende kampioen uit die toernooi geboender, maar dit was nie genoeg om die Suid-Koreane na die ronde van 16 te laat deurdring nie.

Sekere ondersteuners was só kwaad dat hulle spelers wat Maandag by die Incheon-lughawe vir foto's geposeer het, met eiers begin gooi het.

Volgens Reuters het polisielede van die Incheon Internasionale Lughawe Dinsdag gesê die KFA gaan nie klagtes indien nie.

"Ons wou eers hoor of die KFA die saak verder wou voer en die oortreders wou straf voordat ons ons eie ondersoek sou loods," het 'n polisiebeampte van dié lughawe gesê.

"Om eiers te gooi word as aanranding gesien, maar dit is 'n oortreding wat nie gestraf kan word as 'n slagoffer nie klagtes indien nie."

Toe die span vier jaar terug nie die groepfase van die Wêreldbeker-toernooi in Brasilië oorleef het nie, het ondersteuners die spelers met toffies gegooi.- Reuters

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM