Wb Sokker

Cristiano Ronaldo 3, Spanje 3

'n Briljante Cristiano Ronaldo van Portugal en 'n blaps of twee het Spaanse harte Vrydagaand in dié twee sokkerspanne se Wêreldbeker-wedstryd gebreek.

Hoe is daai? Cristiano Ronaldo het Vrydagaand met 'n driekuns aan doele teen Spanje gewys waarom hy een van die beste sokkerspelers in die wêreld is. Foto: Reuters
Hoe is daai? Cristiano Ronaldo het Vrydagaand met 'n driekuns aan doele teen Spanje gewys waarom hy een van die beste sokkerspelers in die wêreld is. Foto: Reuters

Ronaldo het die 51ste driekuns van sy loopbaan en ook die 51ste in Wêreldbeker-toernooie aangeteken om 'n gelykop-uitslag van 3-3 af te dwing nadat dit gelyk het of Spanje dié wedstryd in Groep B gaan wen.

Ronaldo het sy derde doel in die 86ste minuut aangeteken met 'n vryskop wat die Spaanse verdedigingsmuur én doelwagter, David de Gea, gefnuik het.

Ondersteuners het uitgesien na die wedstryd tussen die Europese kampioen, wat vierde op die wêreldranglys is, en die wêreldkampioen van 2010 (tiende op die ranglys). En hulle is nie teleurgestel nie.

Ronaldo kon voor Vrydagaand se kragmeting nog nooit 'n doel teen Spanje aanteken nie, maar het dié sakie binne die eerste vier minute met 'n strafdoel reggestel nadat Nacho, 'n spanmaat by Real Madrid, hom gepootjie het.

Spanje het 20 minute later teruggeslaan toe Diego Costa die Portugese verdediger Pepe letterlik uit die pad gevee en nog drie ander geklop het om die gelykmakende doel aan te teken.

Spanje het daarna beheer oorgeneem en glad nie gelyk na 'n span wat ontwrig is omdat sy afrigter twee dae gelede die trekpas gekry het nie.

Maar die Spanjaarde het nie met Ronaldo rekening gehou nie. Hy het Portugal in die 44ste minuut teen die verloop van die spel laat voorloop. Dit het gelyk of De Gea 'n doelskoot van dié Portugese superster maklik sou keer, maar die bal het van sy een knie in die doelhok gespat.

Costa het in die 58ste minuut weer toegeslaan en sy tweede doel ná 'n Spaanse vryskop aangeteken. Nacho het drie minute later vergoed vir die strafskop wat hy afgestaan het met 'n kanonskoot van buite die Portugese strafgebied wat die telling 3-2 gemaak het.

Dit het gelyk of Spanje die Portugese aanslag sou afweer - tot Ronaldo met sy vryskop gewys het jy kan nooit gerus wees as hy teen jou speel nie.

WB-bepalings

WB-puntelys

WB-uitslae

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM