Die Spaanse polisie het op ’n omvangryke kokaïensmokkelnetwerk toegeslaan wat drywende “see-basisse” in die Atlantiese Oseaan gebruik het om dwelms Europa in te smokkel.
10 ton kokaïen is in die operasie gekonfiskeer en 105 verdagtes in hegtenis geneem, het owerhede Maandag gesê.
Volgens die polisie het ’n jaar lange ondersoek, in samewerking met wetstoepassingsagentskappe in onder meer Kaap Verde, Colombia, Frankryk, Portugal en Amerika, getoon dat die groep na raming 57 ton kokaïen in dié tydperk Europa ingesmokkel het.
Die sindikaat het vinnige bote gebruik wat snags vanuit riviere in die suide van Spanje, die noordwestelike Galicië-streek en die Kanariese Eilande, asook vanaf Portugal en Marokko, diep die Atlantiese Oseaan binnegevaar het. Daar is die dwelms van vervoer- en stoorvaartuie na die kleiner bote oorgelaai voordat dit Europa toe geneem is.
“Hulle het daarin geslaag om ware waterplatforms te skep wat langer as ’n maand op ’n slag op see gebly en verskeie opeenvolgende operasies uitgevoer het,” sê die polisie in ’n verklaring.
Ander lede van die netwerk het intussen gesofistikeerde toerusting gebruik om veiligheidsagentskappe se kommunikasie en bewegings te monitor.
Beamptes het 30 bote, 70 voertuie en talle stukke hoëtegnologie-kommunikasie- en toesigtoerusting in beslag geneem.
Die ondersoek het ook aan die lig gebring dat die groep in ’n stadium sowat €12 miljoen (sowat R228 miljoen) aan die familie van ’n oorlede bemanningslid betaal het om hul stilte te koop.





















