Wb Sokker

Spanje huis toe ná skok in Moskou

Vreugde vir Rusland nadat hulle na die kwarteindstryd van die Wêreldbekertoernooi deurgedring het. Foto: Reuters
Vreugde vir Rusland nadat hulle na die kwarteindstryd van die Wêreldbekertoernooi deurgedring het. Foto: Reuters

Die Spaanse sokkerspan is Sondagaand in een van die grootste skokke in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi ná 'n strafdoelstryd deur Rusland uitgeskakel.

Die Russe het die strafdoelstryd met 4-3 gewen nadat die telling ná meer as twee uur se sokker met 1-1 gelykop was.

Dit was voor dié dramatiese wedstryd in Moskou se Loezjniki-stadion reeds 'n toernooi van skokke met Duitsland, Argentinië en Portugal wat huis toe is en met sterre soos Lionel Messi en Cristiano Ronaldo wat nie meer hul vaardighede ten toon sal stel nie.

Maar dié een het min mense verwag.

Spanje is 10de op die wêreldranglys en Rusland 70ste. Spanje het bykans 75% van die besit gehad en volgens die televisiekommentators se tellinghouers meer as 1000 aangeë suksesvol voltooi teenoor die Russe se skaars 200.

Rusland se enigste doelpogings was toe sy spelers van die strafkolletjie aangelê het. Die Spanjaarde het verskeie geleenthede gehad, maar almal verkwis.

Dit was boonop die eerste keer in Wêreldbeker-geskiedenis dat Rusland in 'n strafdoelstryd betrokke was. Dit was die vierde keer dat dit met Spanje gebeur het.

Nou speel die Russe in die een kwarteindstryd teen óf Kroasië óf Denemarke.

'n Nuwe Russiese sokkerheld: Igor Akinfeev, Rusland se doelwagter, keer die strafdoelpoging van Spanje se Koke in Sondagaand se Wêreldbeker-wedstryd in Moskou. Foto: Reuters
'n Nuwe Russiese sokkerheld: Igor Akinfeev, Rusland se doelwagter, keer die strafdoelpoging van Spanje se Koke in Sondagaand se Wêreldbeker-wedstryd in Moskou. Foto: Reuters

Die Russiese doelwagter en kaptein, Igor Akinfeev, was sy span se groot held nadat hy die strafdoelpogings van Koke en Iago Aspas gekeer het. Hy het in bykomende tyd ook goed gedoen om twee doelpogings van Rodrigo te keer.

Fyodor Smolov, Sergei Ignashevich, Aleksandr Golovin en Denis Cheryshev het in die uitskopstryd met strafdoele vir Rusland geslaag.

Veral Ignashevich sal bly wees dat hy David de Gea, die Spaanse doelwagter, geklop het omdat hy so lank gelede as die 12de minuut die eerste doel van die wedstryd aangeteken het deur die bal in sy eie doelhok te laat beland.

Hy en Ramos het met 'n Spaanse vryskop in 'n stoeiery voor die doelhok betrokke geraak en Ignashevich het met die valslag die bal getref en Akinfeev onkant betrap.

Dit was die 10de eie doel tot dusver in vanjaar se toernooi.

Rusland het die telling in die 42ste minuut gelykop gemaak toe Artem Dzyuba met 'n strafdoel geslaag het.

Björn Kuipers, die skeidsregter, het die 26ste strafskop van die toenooi toegeken nadat Gerard Piqué die bal met sy hand in die strafgebied geraak het.

Hoewel dramaties en by tye ondraaglik spannend, was Sondagaand se kragmeting beslis nie een van die toernooi se mees opwindende wedstryde nie.

Die Spanjaarde, wat nooit regtig in dié toernooi behoorlik hul ritme kon vind nie, kon nie veel met hul besit uitrig nie en het skynbaar verkies om dit bloot te behou deur die bal met kort aangeë van die een speler ná die ander te stuur.

Trane vir Spanje. Foto: Reuters
Trane vir Spanje. Foto: Reuters

Die taktiek van tiki-taka het miskien die Russe (en beslis die toeskouers) frustreer, maar kon nie die hegte Russiese verdediging deurpriem nie.

Die Spanjaarde het bykomende tyd ook op dié manier aangepak en kon, veral met 'n inspirerende Akinfeev in die doelhok, weer niks uitrig nie.

Dit het met bykomende tyd soms gelyk asof die moeë spelers in stadige aksie ronddraf en albei spanne kan bly wees 'n vierde plaasvervanger is vir die eerste keer toegelaat om in bykomende tyd opgestuur te word.

In die 115de minuut het die Spanjaarde 'n sprankie hoop gehad toe Kuipers die TV-blaser geraadpleeg het vir moontlike vuilspel in die Russiese strafgebied, maar hulle kon niks onbehoorliks raaksien nie.

'n Bietjie meer as vyf minute later het Akinfeev se twee oomblikke van glorie aangebreek. Dit is eintlik gepas dat Akinfeev die held was.

Die grootste sokkerheld in die Russiese geskiedenis en die man wat op die plakkaat van vanjaar se toernooi pryk, is immers die legendariese doelwagter Lev Yashin.

Nou is Yashin, die enigste doelwagter wat die Ballon D'Or kon wen, nie meer alleen in die Russiese roemsaal nie.

Uitklopwedstryde: Bepalings en uitslae

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM