Wb Sokker

Spanje se vroue 1ste keer in WB-eindstryd

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Spanje se spelers vier die wendoel in Dinsdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Swede.  Foto: Getty Images
Spanje se spelers vier die wendoel in Dinsdag se Wêreldbeker-halfeindstryd teen Swede. Foto: Getty Images

Spanje se vrouespan sal Sondag vir die eerste keer in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi speel nadat hulle Swede Dinsdag op Eden Park in Auckland met 2-1 geklop het.

Die wedstryd tussen dié twee Europese reuse het deurentyd baie spannend en gelykop verloop, met Spanje wat veral in die eerste helfte die botoon gevoer het met meer gebiedsvoordeel en balbesit. Die doelkanse was egter maar min aan albei kante.

In die tweede helfte het Swede meer druk toegepas en veral met lang aangeë die Spanjaarde laat sweet.

Die wedstryd het egter eers in die 80ste minuut behoorlik vlamgevat, toe die 19-jarige Spaanse plaasvervanger, Salma Paralluelo, die nette laat raas het.

Die 19-jarige Salma Paralluelo (nr. 18) het Spanje se eerste doel aangeteken.   Foto: Getty Images
Die 19-jarige Salma Paralluelo (nr. 18) het Spanje se eerste doel aangeteken. Foto: Getty Images

Paralluelo, wat in die kwarteindstryd die wendoel teen Nederland aangeteken het, het in die 57ste minuut in Alexis Putellas se plek opgekom. Haar spoed en vernuf het die Sweedse verdedigers groot probleme besorg. Sy het tien minute voor die einde op 'n losbal in die doelgebied toegesak en met 'n skoot Swede se doelwagter, Zecira Musovic, geen kans gebied nie.

Dié doel het egter nie die Sweedse span se spoed gebreek nie. Skaars sewe minute daarna was die telling weer gelykop, met nog 'n plaasvervanger wat sukses behaal het. Dié keer was dit Swede se Rebecka Blomqvist wat toegeslaan het en met 'n vurige skoot die bal verby Spanje se doelwagter, Cata Coll, gespeel het.

Swede se spelers en ondersteuners het egter nog nie behoorlik kans gekry om fees te vier nie, toe Spanje weer sukses behaal het. Skaars 90 sekondes ná Blomqvist se gelykmaker het Olga Carmona ná 'n hoekskop die bal net buite die doelgebied gekry en met 'n goeie dryfskoot die doelhok opgesoek.

Musovic kon niks doen om dié skoot uit te hou nie. Swede het gevolglik vir die vierde keer in dié toernooi se geskiedenis in die halfeindstryd uitgeval.

Paralluelo, wat in haar kort internasionale loopbaan van 13 wedstryde reeds agt doele aangeteken het, gaan beslis 'n sleutelspeler in Sondag se eindstryd in die Olimpiese Stadion in Sydney wees.

Spanje, wat reeds 16 doele in dié WB-toernooi in Australasië aangeteken het, sal eers Woensdag weet teen wie hy gaan speel wanneer Engeland en Australië mekaar in die ander halfeindstryd in Sydney aandurf.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM