Danksy sy pas afgelope kunstefees lê Clarens in die Oos-Vrystaat weer vol van die voetspore van toeriste en kunskykers en -kopers, skryf Charles Smith.
"Ek dink mense begin die Clarens-kunsfees ernstig opneem," sê Manie van Schalkwyk, die feesorganiseerder, oor die nuus dat die fees vanjaar sterk uitgebrei het en al hoe meer besoekers lok.
Die kunstefees het vanjaar 43 vertonings oor vier dae aangebied teenoor verlede jaar se 17 vertonings. Die kaartjieverkope is in net die een jaar verdriedubbel. Sowat 2 000 mense per dag het die dorp besoek.
"Wat kaartjies betref, het ons 3 000 vir die vier dae verkoop. Die vier afdelings van die fees - beeldende kuns, uitvoerende kunste, die werksessies en die musiek en boekbesprekings - is almal goed bygewoon."
Die fees se borgskappe het verdubbel, wat dit in staat stel om meer kunstenaars en skrywers te lok en kunswerksessies aan te bied. Die groot borge is Absa en die ATKV asook twee internasionale borge wat anoniem wil bly.
"Ons is nou 'n ware kunstefees. Ons gaan ná die fees in samewerking met die ATKV kyk watter werksessies ons volgende jaar kan aanbied. Die doel is om die kinders van die dorp by kuns te betrek. Ons kyk watter dans ons kan aanbied, wat hulle kan skilder en wil hulle leer om pottebakkery te doen."

Van Schalkwyk sê die Clarens-fees gaan nooit 'n Aardklop wees nie. Dit is nie dat hulle nie wil nie, maar daar is net meer venues en sale in Potchefstroom beskikbaar. In Clarens word mense se tuine en voorkamers vir aanbiedings en uitstallings gebruik.
"Dit maak (die fees) half uniek. Ek dink dit maak dit uniek. Die shows is miskien 'n bietjie kleiner, maar dit gee jou daardie intieme gevoel met jou gehoor."
Teatergangers kon nie uitgepraat raak nie oor die kabaret Vincent van Wela Kapela en Daniel Anderson waarin diep gedelf word in Vincent van Gogh se lewe. Van Schalkwyk sê net minder as 300 mense het die "ongelooflike wêreldklasvertoning" bygewoon.
"Ons sien reeds uit na volgende jaar. Die Clarens-kunstefees is nou gevestig. Ek moet vir jou sê, ek het deur 'n paar winkels en eetplekke gestap en mense se reaksie gevra. Van die mense sê dit is hul beste naweek tot nog toe. Dit is belangrik; die hele dorp vind baat by die fees."
Clarens het vier hotelle en nagenoeg 300 gastehuise, en almal was die naweek vol.

Landskap van kontraste en kleur
'n Rokie draai uit die skoorsteen in 'n paar van die skilder Neil Moss (74) se Oos-Vrystaatse natuurtonele wat in die markiestent op die dorpsplein uitstaan. Dit is tipiese plaastonele, met die huise ingeroes in die berge en valleie van die streek.
Moss, 'n eertydse kriminoloog in die polisie, is die afgelope 24 jaar voltyds kunstenaar. Hoewel hy in Pretoria woon, het hy 'n huis in Clarens en bly elke jaar hier om te skilder.
Hy het op die plaas Langberg by Paul Roux grootgeword en glo dit is waar sy liefde gebore is om die plaastonele in die Oos-Vrystaat te skilder. Die stiltes en reuke en geluide van 'n plaas bly hom altyd by.
"My hele lewe lank het ek van die Oos-Vrystaat gehou. Ek en Mary, my vrou, besit ook 'n huis hier in Clarens en ons kom gereeld hier. Elke slag vang die Oos-Vrystaatse tonele en sy landskappe my. Ek is absoluut geïnspireer daardeur. Dit is hoe dit gekom het dat ek meestal landskappe van die streek skilder."

Wat is dit wat hy van die wêreld probeer vasvang?
"Die kleur, nommer een. En die oopheid van die Oos-Vrystaat. En in daardie oopheid is daar soveel kontraste en kleur wat mekaar onderskep. Dit is wat ek op die doek probeer vasvang," vertel hy.
Dit gee hom intense plesier wanneer hy dit regkry. "Absoluut. Soseer dat ek van die skildery nie wil verkoop nie."
Hy wys op 'n skildery van 'n plaashuis met 'n geroeste dak met die geel populiere wat wagstaan langs die werf teen die agtergrond van geel veld, landerye en die sandsteenkranse in die verte. Op die voorgrond is die dam en 'n ou rooi trekker.
En die rokie wat uit die huis trek, wys daar is lewe op dié plaas.
Niks is perfek in dié prent nie. Dit is die ingeleefdheid van die werf, die ou huis en die oopheid wat die stemme en onthou in die mens losmaak.

Louise Hanson, ook 'n plaaslike skilder, is besig om die sagte geel en blou van die Oos-Vrystaat in 'n nuwe skildery te verewig. Sy meng en toets die verf totdat sy met sekere kwashale die landskap optower.
"Jy sien hoe maklik 'n eenvoudige skildery kan wees. Dit hoef nie baie betrokke te wees nie," vertel sy terwyl sy die groen van 'n vlei tussen die goudgeel herfslandskap en die poeierblou hemel invoeg.
"Ek verf altyd Oos-Vrystaatse tonele omdat ek hier woon. Mense is lief daarvoor om die Kaap en die see by Durban te skilder, maar ek verf hierdie wêreld, hier waar ek al 10 jaar woon."
Sy is lief vir die interaksie met die mense wat die fees besoek. Die fees is vir haar wonderlik omdat dit meer mense hierheen lok.
"Clarens was altyd 'n kunstedorp tot en met die grendeltyd. Ons wil dié gevoel en bedrywigheid van vroeër terugkry en ons wil ons dorp terugkry op die kaarte vir mense om kuns te kom koop. Ek dink dit gebeur nou."

Breyten se gedigte leef in Clarens
Dit is Sondagoggend in Clarens, die klein dorp in die hart van die berge in die Oos-Vrystaat. Die kerkklok weerklink luid en mooi deur die bome wat in geel jasse aantree vir die diens.
Die seunskoor van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria staan voor hul optrede met hul maroen baadjies buite die kerk. Wolke gly soos enorme wit lugballonne oor die kerktoring. In die strate word kinders met perde gelei.
Mense draf deur die strate en stap met hul honde tussen die bome deur. Onder langs die spruit speel mense gholf. Soms is hier 'n regte warmlugballon wat bo die dorp uitstyg. Besoekers gaan op 4x4-ritte, staptogte in die berg of besoek die Golden Gate- Nasionale Park.
In Clarens kan gesinne ook padel speel en fossiele gaan kyk of gaan forel vang en saans sterre kyk in die oop, skoon Vrystaatse naghemel. Mense kan in grotte gaan klouter en kunstoere doen. 'n Wegbreek na Clarens vir die fees is soos 'n minivakansie.

Op die stoep van die Country Hotel sing Laurinda Hofmeyr, Bibi Slippers en Koos van der Merwe getoonsette gedigte van Breyten Breytenbach, Afrikaans se ikoniese digter wat einde verlede jaar dood is, in hul treffende vertoning Breyten se boek.
"My hart is 'n toring sodat ek jou van ver af kan sien kom," dra Laurinda se melankoliese stem van die stoep af. Jy hoor die diep bas van die seunskoor in die kerk af in die straat en jy ruik die rook uit 'n plaashuis se kombuis soos in een van Neil Moss se skilderye.
Dit is 'n perfekte herfsdag in die Oos-Vrystaat met die son wat deur die geel bome loer. Clarens, 'n dorpie op die rand van die Vrystaat en aan die voer van die berge, maak sy hart oop vir die duisende besoekers en hulle kan nie genoeg kry van die kuns, klanke, stiltes en die ewige ruimtes nie.

• Smith is Netwerk24 se nuusredakteur in die Vrystaat en die Noord-Kaap. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.



















