Aktueel

Terug op die spore van die eerste Kaapse kerkgeboue

Die Groote Kerk in Kaapstad is een van Suid-Afrika se oudste alleenstaande plekke van aanbidding. Die kerk is op 6 Januarie 1704 ingewy. 
Die Groote Kerk in Kaapstad is een van Suid-Afrika se oudste alleenstaande plekke van aanbidding. Die kerk is op 6 Januarie 1704 ingewy.  (Skets: Argief)

Albert Geldenhuys het op ’n speurtog gegaan op soek na die Kaap se eerste kerkgeboue.

Waar is die eerste kerkgebou in die Kaap opgerig? Tog seker in Kaapstad: die huidige Groote Kerk-gemeente se eerste gebou?

Dit is nie heeltemal korrek nie. Toe Jan van Riebeeck in die Kaap aankom, was die Hervormde Kerk die staatskerk van Nederland en dus ook van die VOC. Daar is vanaf 1652 kerk gehou in ’n saal in die Fort de Goede Hoop, die eerste militêre gebou in die Kaap.

Later, in 1666, tydens die aanbou van die Kasteel de Goede Hoop, is ’n houtskuur binne die bouperseel van ’n klipvloer en voorgewel voorsien sodat dit kon dien as ’n plek vir kerklike samekomste van die jong gemeente. In 1677 is plek gemaak vir ’n “nieuwe kerkje” in die vleuel tussen die Kasteel se Leerdam en Oranje bastions.

In 1695, lank ná die voltooiing van die Kasteel, is ’n saal in Het Nieuwe Kat tot die gemeente se beskikking gestel. Dit was in dieselfde deel waar die goewerneur se kwartiere was.

Kerk ingewy

Goewerneur Willem Adriaan van der Stel het eers in 1700 die eerste stene vir ’n nuwe alleenstaande kerkgebou gelê. Dit was by die kerkhof langs die slawelosie aan die bopunt van die huidige Adderleystraat.

Die gemeente het verwag dat die VOC die gebou sou finansier, maar Van der Stel het die gemeente se Armefonds daarvoor aangewend. Daaroor was daar groot ongelukkigheid.

Dit is seker net logies dat die boustyl van die staatskerk sy beslag sou kry aan die suidpunt van Afrika. Die Noorderkerk in Amsterdam was waarskynlik die voorbeeld waarop die eerste kerk van die Kaapstadse gemeente gegrond is.

Die uitlegplan was soortgelyk, maar effens kleiner, as die “plattegrond” van die Noorderkerk, en ook volgens Sentraalbou-beginsels ontwerp. Die kerkraadsnotules meld die VOC se baastimmerman Jacobus van der Steen en timmerman Jan Thriex as die bouers. Die argitek is onbekend, maar ds. Petrus Kalden, ’n redelik omstrede figuur, het waarskynlik sy invloed laat geld. Hy het, volgens sy teenstanders, meer belanggestel in sy boerdery op Zandvliet (in Stellenbosch se omgewing) as om te fokus op sy taak as prediker.

Kalden was ’n goeie vriend van Van der Stel en moes uiteindelik die Kaap verlaat kort nadat dié goewerneur teruggeroep is na Nederland.

Só lyk die skets wat Albert Geldenhuys van die plattegrond van die Groote Kerk gemaak het ná aanleiding van ’n tekening Hans Fransen.
Só lyk die skets wat Albert Geldenhuys van die plattegrond van die Groote Kerk gemaak het ná aanleiding van ’n tekening Hans Fransen. (Skets: Albert Geldenhuys)

Die kerk word op 6 Januarie 1704 ingewy. Die gebou was gou te klein vir die groeiende gemeente. Galerye word in die 1740’s bokant die twee ingangsdeure gebou en die preekstoel word teruggeskuif.

In 1779 word die kerk verder vergroot deur al vier hoeke tussen die arms van die kruis uit te bou en van ’n plat dak te voorsien. Die preekstoel word vervang deur die huidige een, ontwerp deur Anton Anreith.

Gesloop en herbou

Soos meermale die geval is, het die plat dak gou lekplekke ontwikkel. Lt.kol Robert Thompson van die Royal Engineers het aanbeveel dat die dak vervang moet word. Die kansel is tydelik toegebou om dit te beskerm.

Nadat die dak verwyder is, het dit duidelik geword dat die bestaande fondamente nie opgewasse is om die las van die nuwe hoër mure te dra nie.

Met die uitsondering van die konsistorie en toring is die hele gebou toe gesloop en tussen 1837 en 1841 herbou volgens die ontwerp van die bejaarde bouer Hermann Schutte. Hy sterf in 1844 as 83-jarige. Die boustyl is al as Kaaps-Goties of Klassiek Grieks-Goties beskryf, maar eintlik is dit intern steeds Sentraalbou-gebaseerd.

Die Groote Kerk se kansel en Barok-roset.
Die Groote Kerk se kansel en Barok-roset. (Foto: Albert Geldenhuys)

Om die gebou beter te leer ken, besoek ek en ’n paar vriende die kerk. Nico Schoeman, die 80-jarige opsigter van die Groote Kerk, is ons gids. Hy vertel van die dak- en plafon-struktuur. Dit houtdak-kappe oorspan ’n reuse- oop ruimte van 1 023 vierkante meter: een van die grootstes onder ’n houtstruktuur in die wêreld. Die indrukwekkende gestukadoorde (stucco) plafon met Barok-rosette rondom die ligte is iets besonders. Daar het vroeër kandelare onder die rosette gehang. As kind was ek te bang om daaronder te sit. Dit het vir my gevoel of dit enige tyd kan val.

Schoeman nooi ons die toring in. Dit dateer uit 1704. Ons klim drie steil stelle trappe uit tot by die klokke – die oudste een dateer uit 1726. Dit het ’n klok vervang wat in die toring afgestort het.

Nog twee stelle trappe neem ons tot by die horlosiewerke. Dit is in 2017 kundig gerestoureer deur Darryn Clark met die hulp van die Van der Stel Stigting. ’n Deur neem ons na ’n balkon wat die toring omsoom. Ons kyk uit oor die dak na Tafelberg. Twee vlakke laer klim ons deur ’n luik tot binne in die dakstruktuur.

Albert Geldenhuys se naam pryk op hierdie klok.
Albert Geldenhuys se naam pryk op hierdie klok. (Foto: Albert Geldenhuys)

Ons trap versigtig op die 185 jaar oue balke en beskou die latwerk wat daaraan hang om die plafon in plek te hou. Die ervaring maak mens stil van verwondering.

’n Model van die Groote Kerk se dakkappe.
’n Model van die Groote Kerk se dakkappe. (Foto: Albert Geldenhuys)

Ander Kaapse gemeentes en kerke

Die gemeente van Stellenbosch is in 1686 gestig en daarna volg Drakenstein, deesdae Paarl (1691), Roodezandt, tans Tulbagh (1743), die Lutherse Kerk (1779) in Kaapstad, Zwartland (1743), Graaff-Reinet (1792) en Swellendam (1779).

Stellenbosch word in 1686 deur goewerneur Simon van der Stel gestig. Die eerste kerkgebou word in 1687 ingewy. Die eenvoudige saalkerk met ’n toring en grasdak is ontwerp en gebou deur Adriaan van Brakel.

Stellenbosch se eerste kerk soos uitgebeeld in ’n tekening deur E.V. Stade. Die kerk is in 1687 ingewy.
Stellenbosch se eerste kerk soos uitgebeeld in ’n tekening deur E.V. Stade. Die kerk is in 1687 ingewy. (Illustrasie: Stellenbosch-museum)

Dit was die eerste ware kerkgebou in die Kaap. Die ontwerp is ontleen aan die Hervormde Kerk se gebou in Schoondijke (1656), Nederland. Die kerk was waar die Oude Werf-hotel deesdae in Kerkstraat staan.

Die saalkerk is, saam met baie ander geboue, in die groot brand van 1710 verwoes wat by die Drostdy ontstaan het. Die Wium-losieshuis is in 1805 op die ou kerkhof opgerig en daar word sedertdien, behalwe vir onderbrekings as gevolg van twee brande, ononderbroke ’n hotel op die perseel bedryf.

‘Vuile hokje’

Joannes van Steelant was admiraal van die retoervloot wat laat in November 1712 uit Batavia vertrek. Tydens sy verblyf van twee maande aan die Kaap het hy, as kommissaris, opdrag gegee dat die kerk herbou moet word, maar dit is eers in 1722 vervang met ’n Griekse kruisvormige kerk, waarskynlik ontwerp deur Christoffel Meerman. Dan Sleigh vertel daarvan in sy boek Retoervloot gegrond op Van Steelant se joernaal.

Dié vloot was verantwoordelik vir die verwoestende pokke-epidemie van 1713 aan die Kaap. Minstens 30% van die bevolking is dood. (Die admiraal van ’n retoervloot het ’n hoër rang gehad as ’n goewerneur en het dus die Kaap regeer tydens sy verblyf.)

Die Stellenbosse kerk word meer as een keer vergroot. In 1814 word al vier arms met vier meter verleng, volgens ’n ontwerp van George Wiehahn.

’n Plan van die Paarl se eerste kerk.
’n Plan van die Paarl se eerste kerk. (Skets: Kaapse Argiefbewaarplek)

Die Drakenstein-gemeente (tans die Paarl Strooidakkerk) word in 1691 gestig. Die eerste gebou wat as kerk gebruik is, was ’n skuur van hout en modder in Simondium. Volgens vele kerkgangers was dit ’n “vuile hokje” en ’n “gevaarte”. Dit word in 1720 vervang met ’n agtkantige gebou naby die huidige kerk in Paarl se Hoofstraat. Twee uitlegplanne, asook ’n skets deur Meerman, oorleef, maar daar heers steeds onsekerheid oor hoe die gebou uiteindelik daar uitgesien het. Volgens Hans Fransen was Christoffel Meerman, die VOC se baastimmerman, die bouer.

Oude Kerk

Die huidige Paarlse Strooidakkerk se gebou is ontwerp en gebou deur majoor Georg Conrad Küchler nadat die eerste ontwerp van Louis M. Thibault nie die kerkraad bevredig het nie. Dit word in 1805 ingewy en is tans die oudste NG kerkgebou wat steeds sy oorspronklike doel dien.

Die Paarl se Strooidakkerk soos dit vandag lyk.
Die Paarl se Strooidakkerk soos dit vandag lyk. (Foto: Albert Geldenhuys)

Dit is ’n tipiese Kaaps-Hollandse gebou met ’n Griekse kruisvorm en met gewels aan die einde van die kruisarms. Die kerk se arms is wyer as dié van Stellenbosch en die kansel is in die hoek van twee arms geplaas. Die konsistorie word as ’n vierde arm bygevoeg, maar met ’n laer dak.

’n Skets deur Charles D’Oyly van die Roodezandskerk in ‘T Land van Waveren met die oorspronklike eenvoudige gewel.
’n Skets deur Charles D’Oyly van die Roodezandskerk in ‘T Land van Waveren met die oorspronklike eenvoudige gewel. (Foto: Albert Geldenhuys)

Die vierde Kaapse gemeente word in 1743 gestig as die Roodezandskerk in ‘t Land van Waveren, die huidige Tulbagh. Konstruksie van die kerk begin reeds in dieselfde jaar met stene ingevoer uit Batavia. Dit word eers in 1748 ingewy.

Dit was aanvanklik ’n oneweredige Griekse kruisvorm, maar is in 1793 vergroot tot die huidige Latynse kruisvorm. ’n Laat-Barokgewel word bygevoeg tot die ingangsvleuel. Dit is die oudste oorlewende kerkgebou in Suid-Afrika genaamd Oude Kerk, maar is al reeds sedert 1925 ’n museum.

Graanskuur

Hierna word die Lutherse Kerk in Kaapstad gestig. Hoewel hulle reeds in 1744 godsdiensvryheid verwerf het in Batavia, moes die Kaapse Lutherane wag tot 1779. Goewerneur Rijk Tulbagh het vir jare ’n stokkie daarvoor gesteek. Martin Melck, ’n gesiene handelaar, het egter in 1774 ’n pakhuis in Strandstraat aan die nie-amptelike gemeente beskikbaar gestel as vergaderplek.

Die Graanskuur met die drywende kantoorblok regs van die Lutherse kerk en pastorie.
Die Graanskuur met die drywende kantoorblok regs van die Lutherse kerk en pastorie. (Foto: Albert Geldenhuys)

Dit is kort ná 1779 behoorlik ingerig as ’n kerk en in 1792 is die Anton Anreith-ontwerpte fasade gebou. Dit is ’n saaltipe-kerk, soortgelyk aan die Lutherse Kerk in Edam (1741).

Só lyk die minder bekende agterste fasade van die Lutherse kerk.
Só lyk die minder bekende agterste fasade van die Lutherse kerk. (Foto: Albert Geldenhuys)

Die gebou word steeds gebruik. In 2022-’23 is die naasliggende graanskuur netjies gerestoureer ná jare van verval. Bokant dit dryf ’n moderne woonstelblok ontwerp deur Gawie Fagan. Oor dié projek was daar wyduiteenlopende menings en sterk opposisie, wat die bouwerk lank vertraag het.

Na Nederland verban

Die NG Kerk Swellendam word in 1798 as die sewende gemeente van die Kaapse kerk gestig. Swartland (1745) was die vyfde en Graaff-Reinet (1792) die sesde gemeente van die Kaapse Kerk.

Die eerste kerkgebou word in 1802 deur Christoffel Koents (Sleigh sê dit was Johann Kuntz) opgerig in Kaaps-Hollandse styl. Volgens die enigste skets daarvan, wat ek in 2023 toevallig in die Drostdy-museum in Swellendam raakloop, lyk dit na ’n T-vorm. Sleigh bevestig dit en vertel dat Kuntz deur goewerneur Van Plettenberg summier na Nederland verban is en dat sy skip, die Woestduijn, by Walcheren vergaan het.

Hy is egter gered, onskuldig bevind deur die VOC en teruggestuur as ’n vryburger. Hy word met sy gesin herenig en word ’n bouer. Die kerkgebou word in 1875 vergroot en omskep in die neo-Gotiese modegier van die tyd.

Stop, kyk en kuier

’n Soortgelyke maar kleiner gebou as die Lutherse kerk word in 1804 in Langstraat vir die SA Sending Gesticht opgerig, waarskynlik ontwerp deur Johan Gotfried Mocke. Die byvoeging van twee lang galerye skep die illusie van ’n basilika. Daar is ’n apsis agter die kansel. Dit is aanvanklik net vir gebedsgeleenthede vir die slawe gebruik. Sedert 1970 is dit ’n museum.

’n Hele paar van die Kaap se vroeë kerkgeboue bestaan steeds en is oop en toeganklik. Die Groote Kerk het daagliks rondom middagete ’n kundige gids aan diens. Daar is deesdae ook ’n koffiewinkel op die grondvlak van die toring. Stop volgende keer daar en gaan kyk en kuier. Dit is dubbel en dwars die moeite werd.

• Geldenhuys is ’n siviele ingenieur, ten tyde van sy aftrede besturende direkteur van Aurecon Suid-Afrika en direkteur van Aurecon Global PL, in Melbourne gebaseer. Daarna was hy medestigter van Marche Media.

Die Lutherse kerk van binne.
Die Lutherse kerk van binne. (Foto: Albert Geldenhuys)
albert geldenhuys

CTA