Kallie Kriel skryf in sy repliek op 'n rubriek van Anton van Niekerk die werklikheid is dat die land uit 'n verskeidenheid kultuurgroepe eerder as bloot rassegroepe bestaan.
Met die lees van prof. Anton van Niekerk se rubriek "Wit en swart is sáám in Afrika" kon ek nie help om te dink dat sy skrywe die verouderde denkraamwerk van die 1980's versinnebeeld nie.
Dit roep beelde op van ou debatte oor verlig en verkramp en Nasionale Party (NP) teen Konserwatiewe Party (KP).
Volgens hierdie drogredenasie bestaan Afrikaners vandag steeds uit twee uiteenlopende pole. Aan die een kant is dié wat na swart gemeenskappe wil uitreik en bereid is om hul eie kulturele identiteit ietwat op die agtergrond te skuif om dit reg te kry.
Aan die ander kant is Afrikaners wat aktief meewerk om vir hul kultuurgemeenskap 'n toekoms te bou, maar hulle kwansuis van die ander bevolkingsgroepe in die land isoleer. Ook die polêre "wit-en-swart"-rassedenke wat Van Niekerk se standpunt onderlê, ignoreer die werklikheid dat die land uit 'n verskeidenheid kultuurgroepe eerder as bloot rassegroepe bestaan.
Om 'n toekoms vir Afrikaners te bou, vereis juis dat daar gepoog moet word om 'n gesonde verstandhouding te help vestig met elkeen met wie Afrikaners die land deel.
Van Niekerk se argumente oor die verdelingslyne onder Afrikaners mag dalk 'n paar dekades gelede geldig gewees het, maar ons is nou in 2024 en die landskap onder Afrikaners sien genadiglik totaal anders daar uit. Die ou linkse en regse pole is steeds daar, maar bestaan grootliks uit klein groepies wat steeds die broedertwis van die 1980's wil voortsit.
Vir die 80%- tot 90%-middelgroep-Afrikaners, wat besef dat die nuwe omstandighede vernuwende denke vereis wat op beproefde waardes gebou is, is dit breedweg belangrik dat 'n toekoms vir Afrikaners geskep moet word, terwyl hulle net so sterk voel dat hierdie toekoms gebou moet word op 'n grondslag van wedersydse erkenning van en respek vir al die bevolkingsgroepe in die land.
Anders as wat Van Niekerk aanvoer, is dié twee aspekte nie wedersyds uitsluitend nie, maar aanvullend. Om 'n toekoms vir Afrikaners te bou, vereis juis dat daar gepoog moet word om 'n gesonde verstandhouding te help vestig met elkeen met wie Afrikaners die land deel.
Veelheid van denke
Natuurlik dink hierdie middelgroep nie dieselfde oor alles nie. Dit is goed so, want 'n veelheid van denke te midde van 'n onderlinge verbondenheid werk aktief mee om 'n beter hede en toekoms te help vestig. Daar het breedweg onder die meeste Afrikaners 'n besef gekom dat, as hulle hipoteties gesproke oor 100 sake verskil en oor een saak saamstem, dit hulle nie verhinder om met verdraagsaamheid saam te werk aan die saak waaroor hulle saamstem nie.
AfriForum se meer as 300 000 lede wys vir die eerste keer sedert die broedertwis in die ou bedeling dat samewerking tussen Afrikaners te midde van verskille wat mag bestaan, wel in praktyk moontlik is. Hierdie lede stem vir verskillende politieke partye, soos die DA en VF Plus.
Dié gesamentlike doelwit is om 'n toekoms te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig en op 'n grondslag van wedersydse erkenning en respek met ander bevolkingsgroep hier aan die suidpunt van Afrika kan leef.
Wat hul Christenskap betref, is party gereformeerd en ander charismaties. Sommige is minder behoudend as ander. Ten spyte hiervan stem hierdie ledebasis saam dat Afrikaans en hul kulturele identiteit beskerm moet word, terwyl hulle self moet meewerk om hul plaaslike gemeenskappe sterk, veilig en selfstandig te maak. Dit maak dit vir mense moontlik wat andersins mag verskil om sáám in een buurtwag te kan saamwerk om hul buurt veiliger te maak. Hulle kan sáám paaie regmaak en hul dorp opknap.
Hierdie nuwe gees van samewerking vind ook neerslag in die groter kultuurgemeenskap. In die Solidariteit-beweging werk 'n veelheid van selfstandige instellings - wat op byna elke lewensterrein fokus - baie goed saam om hulle gesamentlike doelwit met 'n "ons sal self"-ingesteldheid te bereik.
Dié gesamentlike doelwit is om 'n toekoms te skep waarin Afrikaners blywend vry, veilig en voorspoedig en op 'n grondslag van wedersydse erkenning en respek met ander bevolkingsgroep hier aan die suidpunt van Afrika kan leef.
‘Klein elite'
Ook in die Afrikanerleiersnetwerk (ALN) word gewys dat Afrikaners wat in die verlede in verskillende politieke kampe was te midde van verskille - wat steeds oor baie sake mag bestaan - ook baie nou kan saamwerk om gemeenskaplike doelwitte te bereik.
Dit is onsinnig om aan te voer dat mense wat trots is om Afrikaners te wees, hulle van ander bevolkingsgroepe isoleer. Dié argument word weerlê deur byvoorbeeld die feit dat AfriForum amptelike samewerkingsooreenkomste met verskeie kultuurgemeenskappe - soos die Barolong Boo Seleka en AmaBhele - gesluit het en landbouprojekte saam met hulle uitvoer; ook dat AfriForum nou met Kaapse Forum saamwerk om behoeftige bruin mense deur onderwysprojekte te help ophef.
Adv. Gerrie Nel en sy span ondersteun talle mense vanuit ander kultuurgroepe, soos die vermoorde Senzo Meyiwa se familie.
Adv. Gerrie Nel en sy span ondersteun talle mense vanuit ander kultuurgroepe, soos die vermoorde Senzo Meyiwa se familie. Dit is dus moedswillig dat mense soos Van Niekerk hulself blind hou vir die feit dat die Afrikaners wat hy van isolasiedenke beskuldig, juis diegene is wat betrokke is by die grootste projek in die land om samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe te bewerkstellig.
Dit is ook ironies dat die klein elitegroep wat die grootste eier te lê het oor pogings om vir die nuwe geslag Afrikaners 'n toekoms te skep, juis tel onder mense wat die voorreg gehad het om in Afrikaans te studeer en hul loopbaan (en pensioene in 'n beskermde omgewing te kon bou. Nou wil hulle vanuit die hoogte van bevoorregting neersien op pogings om vir die komende geslagte Afrikaners dieselfde geleenthede te gun om in Afrikaans te studeer soos wat hulle gehad het.
Gelukkig is hierdie groep die minderheid in hul geslag. Talle ouer Afrikaners werk tans met ywer met die jonger geslagte in AfriForum en die Solidariteit-beweging saam om 'n nuwe toekoms vir Afrikaners te bou wat op geregtigheid vir almal geskoei is. Van Niekerk is welkom om saam te kom bou en as hy sy goeie reg uitoefen om dit nie te doen nie, versoek ek hom om ten minste nie dié Afrikaners wat dit wel wil doen, af te skiet nie.
Kriel is die uitvoerende hoof van AfriForum.




















