Sy naam het sinoniem geword met een van Suid-Afrikaners se geliefkoosde aktiwiteite.‘Jan Braai vir erfenis' word Saterdae om 19:30 op kykNET uitgesaai. Jan Scannell, oftewel Jan Braai, beantwoord die Proust-vraelys.
Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Nasionale Braaidag is vanjaar 21 jaar oud.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
'n Braaibroodjie, gebotter aan die buitekant, goudbruin gebraai met die beleë cheddarkaas gesmelt in die middel, net mooi genoeg sout en peper op die uie en tamatie en die dun lagie blatjang net-net opmerklik.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Konsentrasie. Ek is besig om 'n lys ernstige vrae oor die lewe te beantwoord.
Wat is jou gunstelingberoep?
My eie beroep.

Wat is jou kosbaarste besitting?
Die Jan Braai Boerewors-resep.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
Droë hout.
Wat is jou gunsteling-reis?
Basmati-rys vir potjies en risotto-rys vir paella.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek diskrimineer nie teen diere nie, ek braai hulle almal.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Wanneer die vuur brand.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Nat hout.
Wat is jou grootste vrees?
Nat hout.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek verkies my mengeldrankies gemaak met klein blikkies koeldrank, teenoor koeldrank uit groot plastiekbottels. Dit voel vir my varser en asof die gasborrels beter is.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Mense wat nie genoeg ys in hul drankies gooi nie.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Dat ek nie vroeër in my lewe al 'n industriële ysmasjien vir my huis aangeskaf het nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Om vure te kan aansteek sonder vuuraanstekers.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Stil.

Wat beskou jy as die grootste ellende?
Treurige substandaard-boerewors.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
As hy 'n digitale vleistermometer besit.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
As jy vir jou man my nuutste boek, Atmosvuur, as present koop. Dis 'n opsomming van al my braaikennis van die afgelope meer as 20 jaar, sedert ek die loopbaan volg. As almal Jan Braai: Atmosvuur besit, dan gaan die hele wêreld beter eet.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek vergeet soms om gou genoeg 'n nuwe vrag braaihout te bestel wat kan begin droog word en verouder. Teen die tyd dat ek die nuwe vrag bestel en my vorige hoop hout is op, moet ek met effens opmerkbare nat hout braai.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Mense wat hul steak deurgaar (well done) eet.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
As hulle nie "ninja bomb" nie.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Bennie Griessel.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Die mense wat so netjies met bordkryt die restaurante se spyskaarte neerskryf.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Neels van Jaarsveld in sy rol tydens die ikoniese Klipdrift-advertensie van so 20 jaar gelede.
Wie is jou helde in die ware lewe?
Al die motorfietsryers wat daagliks die dinge wat ek met apps op my selfoon bestel by my huis kom aflewer.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Die vlieënier van die klein vliegtuigie met die Mavericks-banier. Dit is 'n prestasie om 'n werk te hê wat so ikonies bekend is, maar tog heeltemal anoniem te wees. En dit moet baie lekker wees as mense jou vra wat jou werk is, en dit is jou antwoord. Niemand gaan weet of jy ernstig is nie.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Om hare te kan jel.
Wanneer vertel jy leuens?
Wanneer ek braaikompetisies beoordeel.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Eina". Ek sal verkies om minder my hande met roosters, tange en potjies te brand en daardie woord derhalwe minder te gebruik.
As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?
Dat ek minder gereeld sonbrille verloor.
Wat is jou gunsteling-name?
Jan.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Vinnig.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Stoetbul, dan is my nalatenskap vreeslik baie steaks.
Wat is jou motto?
24 September is National Braai Day. Unite Around a Fire, Share our Heritage and Wave our Flag.

















