Kommentaar: Motsoaledi se NGV-propaganda is onverskillig

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid. Foto: Argief
Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid. Foto: Argief

Die verkwisting van belastingbetalersgeld om die omstrede Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in advertensies te besing, is tekenend van 'n ministerie van gesondheid waar bestedingsprioriteite verwronge is. Sedert April is nagenoeg R3 miljoen per maand op advertensies vir NGV vermors, terwyl die gesondheidsorgstelsel wankel.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, sê daar is nie geld om die sowat 2 000 vakante poste in staatshospitale te vul nie en te midde van die onttrekking van Amerika se gesondheidshulp moet provinsiale departemente raap en skraap om vigsbehandelingsprogramme te probeer voortsit.

Maar tog is daar geld om op sosiale media en op advertensieborde langs hoofweë die lof van onbekookte NGV te besing. Dit is dan einste Motsoaledi wat uiters traak-my-nie-agtig is wanneer dit by die geldsake van die NGV kom. Terwyl hy tot dusver volhou dat dit "irrasioneel en onlogies" is om 'n raming van die NGV-koste te doen, is hy kennelik heeltemal gemaklik daarmee om onverskillig met gesondsheidsgeld om te gaan.

Hy is juis verlede week voor stok gekry deur finansminister Enoch Godongwana, wat gesê het daar is heeltemal te veel onduidelikheid oor wat NGV gaan kos: "Min. Motsoaledi moet nog 'n dokument aan die kabinet verskaf wat toon hoe die inwerkingstelling gaan plaasvind sodat almal van ons die volle koste daarvan, en oor watter tydperk, kan verstaan."

Maar Motsoaledi dink mos dit is "irrasioneel en onlogies" om deeglike begrotingsbeplanning te doen - in hoofsaak omdat hy maar te goed weet dat NGV benewens onwerkbaar ook onbekostigbaar is.

Wanneer hy die somme maak, sal dit 'n swart-op-wit-erkenning daarvan wees.

So, wat hy intussen doen, is om 'n fortuin uit te gee aan die reklamering van 'n onwerkbare ego-projek waarvoor daar in die eerste plek nie die geld is nie. Dít, min. Motsoaledi, is nie net "irrasioneel en onlogies" nie, maar uiters onverantwoordelik. Dis die soort truuks wat mens sou verwag van oudpres. Jacob Zuma, wat onhaalbare beloftes van gratis tersiêre onderrig gemaak, verwagtings opgejaag en toe sy hande in onskuld gewas het toe ons land se kampusse in chaos gedompel is met die #FeesMustFall-beweging.

SPELETJIES VANDAG

CTA