Prof. Johan Janse van Rensburg, Bloemfontein, skryf:
As u ’n lidmaat van die NG Kerk is, is u nie bekommerd oor u kerk se kerkbegrip nie? Dié vraag ontstaan nadat ds. Jan Lubbe in ’n RSG-onderhoud gesê het Jesus het nie die kerk gestig nie. Dit is volgens sy oortuiging ’n menslike instelling vol foute.
Oor die baie foute stem ons hartlik saam, maar as Jesus nie die kerk gestig/begin het nie, is die kerk dan soos ’n vereniging of ’n politieke party? Kan jy dan die kerk afskaf? Nee wag, dit is nie ’n absurde vraag nie. Is dit nie wat ’n vorige moderator bedoel het toe hy voor getuies in ’n ope vergadering verklaar het: “My aim is to dismantle the church” nie?
Watter motief skuil agter sodanige stellings? Wat moet kom nadat die kerk as formele instituut afgebreek is? Klaarblyklik, volgens prof. Nelus Niemandt se boek Nuwe drome vir nuwe werklikhede moet die kerk deur ’n informele kerk vervang word.
Daar ontwaak (“emerge”) ’n nuwe vorm van kerkwees waarin leerstellings deur verhoudings vervang word. In só ’n “kerk” word daar nie oor sonde en straf gepreek nie; is daar nie veroordeling nie maar aanvaarding en is die liefde eksklusief alles.
Vir so ’n kerk is dit moontlik om met ander gelowe saam te aanbid en mag elkeen sy/haar eie oortuiging oor Skrif en belydenis hê, solank lede mekaar net aanvaar en vashou. Wanneer die struikelblok van ’n institusionele kerk afgebreek is, kan die eenheid van lede ook na alle gelowe uitgebrei word omdat elke geloof ewe geldig en gelykwaardig is.
Die ideologie van ’n ontluikende kerk, wat niks anders as universalisme is nie, is lank reeds in die NG Kerk gevestig. Dit word nie alleen bevestig deur talle besluite van die Algemene Sinode nie, maar dit is ook opmerklik dat al genoemde oortuigings oor die kerk, die Skrif en die belydenis nooit en nêrens deur die Algemene Sinode of sy kommissies weerlê of verwerp is nie.
Selfs die ingrypende teologiese ontleding van ds. Lubbe se onderhoud in die boek Kla jou moeder aan, is met stilswye deur die verantwoordelike kommissies (Algemene Kommissie vir Leer en Aktuele Sake, asook die Algemene Sinodale Moderamen) geïgnoreer.
Die vrot kersie op die suur koek is egter die stelling dat Jesus nie die kerk gestig het nie. Hoe moet Bybel-getroue lidmate dit sluk terwyl ons in Efesiërs 1:22-23 lees: “Ja, aan Hom (Jesus) het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
Lidmate moet daarom ter wille van die gekruisigde liggaam van Christus verantwoordelikheid aanvaar om die Algemene Sinode tot orde te roep en aan lidmate te bewys dat hy steeds aan die gesag van Christus en die Woord onderwerp is. Bedienaars van die Goddelike Woord (VDM) kan hierin die inisiatief neem as hulle die titel waardig is.
100001
















