John Serfontein, Annlin, skryf:
Die VSA se optrede in Venezuela, asook die strafregtelike aanklagte teen president Nicolás Maduro, het wêreldwyd sterk verdeelde reaksie ontlok. Plaaslik ook.
Dit is duidelik dat standpunte grootliks gevorm word deur die geopolitieke dampkring waarbinne lande funksioneer. Suid-Afrika, Rusland, China, Kuba en ander beklemtoon internasionale reg, staatssoewereiniteit en die gevare van buitelandse inmenging. Westerse lande, en andere daarenteen, voer aan dat Maduro se bewind nie uit vrye en regverdige verkiesings spruit nie, dat sy regering met dwelmhandel verbind word en dat Venezuela streekstabiliteit ondermyn. Ek probeer die “Weste” se argument te rasionaliseer deur te redeneer dat internasionale wetgewing en bestaande magstrukture dikwels nie daarin slaag om dwelms, misdaad, oorloë en ander negatiewe wêreldgebeure effektief hok te slaan nie, en dat sekere ingrypings daarom as noodsaaklik beskou word.
Dit is ook denkbaar dat Venezuela se omvangryke oliebronne teen ’n uitgesproke anti-Westerse groepering beskerm moet word. Moontlik is president Trump se slagspreuk “America First” die dryfveer. Moontlik Mammon? Indien die meerderheid Venezolane werklik hierdie optrede sou steun, kan dit as morele regverdiging aangevoer word.
Die ander kant van die munt is egter dat ons grootgemaak is met respek vir die oppergesag van die reg, en dit ontstellend is om te sien hoe hierdie beginsels selektief en buigsaam toegepas word.
Wat as ’n uitsondering begin, kan maklik ontaard in die normalisering van magsoptrede deur ander lande – ’n gevaarlike presedent.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.
















