Piet Claassen, Stellenbosch, skryf:
Ek het die brief van Izak Smalman oor Ellispark (“Wat op aarde gaan deesdae op Ellispark aan?”, 13.01) baie geniet. Veral sy beskrywing van Jack van der Schyff, wat net voor die einde van die wedstryd mis geskop en gemaak het dat die Bokke met een punt teen die Britse Leeus verloor.
Ek en my beste vriend, Louis Wildenboer, was daar. Op pad terug huis toe het Louis se pa sy geduld verloor oor ons gekla en gesê: “Hou nou op met mor – dit is nie die einde van die wêreld nie!” Dit was 1955 en ek was 17 jaar oud en ’n eerstejaar by Wits.
As skoolkinders het ek en Louis dikwels na Ellispark gegaan – maklik met die trein van Florida af. Ek sal Ryk van Schoor en Tjol Lategan (senters) se lekker hardloop met die bal, en uitgee op die regte oomblik, nooit vergeet nie. Dit was lekker hardlooprugby in daardie dae.
Die insident wat egter die grootste skok vir my was, en ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het, was die volgende: Dit was 1954 en ek was in matriek. Op Ellispark is ’n klein stukkie van die pawiljoen agter die doelpale aan die suidekant van die veld vir mense wat toe bekend was as “nie-blankes” toegelaat. Daardie deel was ook altyd gepak met toeskouers.
By ’n internasionale wedstryd, ek dink dit was die destydse Transvaal teen ’n buitelandse span, was ek en Louis weer daar. Die pawiljoen was gepak. Skielik breek die buitelandse span deur en gaan druk ’n drie reg onder die pale aan die suidekant, voor die “nie-blanke” skare. Die hele res van die pawiljoen was stil, maar die skare agter die pale bars uit met ’n luidrugtige en lang gejuig.
As 16-jarige was dit vir my heeltemal onduidelik hoekom daardie deel van die skare so bly is oor ’n buitelandse span ’n drie gedruk het, en dat ons span gaan verloor. Maar selfs op daardie jong ouderdom het ’n stemmetjie agter in my kop vir my gefluister: “Is dit nie dalk omdat daar teen hulle gediskrimineer word nie?” Dit het die saadjie gesaai vir my latere anti-apartheid-aktiwiteite.
















