Eugene Gunning, George, skryf:
Om nou weer te karring om ’n straatnaam in George te wil verander wat die naam van PW Botha dra, is regtig vreemd (“ ‘PW-boulevard’ in George moet ander naam kry, vra Good”, 16.01).
Dis eintlik niks anders nie as ’n kortpad om goedkoop publisiteit te probeer kry. Ek kan nie anders as om te onthou dat daar later vanjaar ’n munisipale verkiesing moet plaasvind nie.
Ja, al is Botha oorlede (hy sou juis verlede Maandag 110 jaar oud gewees het), lok bloot die noem van sy naam verskillende reaksies uit. Vir sommige mense is hy ’n held. Vra gerus mense hier in George watter goeie werk het hy hier in sy kiesafdeling gedoen. Ry maar onder meer daar by die George-lughawe verby en onthou hom as jy weer dié gerieflike lughawe gebruik.
Vir ander landswyd is hy ’n boef. Hulle sien hom as ’n simbool van apartheid, en apartheid was boos. Hy was immers die leier van die destydse NP.
Ek het begrip vir beide kante, maar kry die prioriteite reg. Dit is ironies dat die straatnaamdebat juis nou (weer) opgedis word, want tans beleef George ’n erge waterkrisis. Gee eerder daaraan aandag. Hoe ’n naamsverandering kan help om water in ons krane hier in George te verseker, weet ek nie.
Natuurlik is daar nog pyn vir baie oor die verlede, en ek verstaan dit. Maar verskuif die oorheersende fokus. Bou en werk eerder aan vandag en die toekoms se uitdagings.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

















