Dr. Stuart Gardiner, Stellenbosch, skryf:
Amerika se Nasionale Veiligheidstrategie, wat in Desember 2025 bekend gemaak is, is waarskynlik een van die belangrikste beleidsdokumente in dekades.
Waar vorige Amerikaanse veiligheidstrategieë vaag was oor hoe die land werklik sou optree, is dit nie die geval met hierdie dokument nie. Die 2025-strategie is duidelik, direk en onomwonde oor hoe Amerika die wêreld sien en hoe dit daarin wil optree.
Die dokument dui op ’n groot verskuiwing in wêreldpolitiek. Dit wys dat Amerika glo dat die wêreld weer werk soos in antieke tye – mag tel meer as reëls.
In vandag se terme beteken dit eenvoudig dat daar nie meer ’n reëlsgebaseerde wêreldorde is nie, maar ’n magsorde.
Volgens die strategie beskou Amerika die hele Westelike Halfrond as sy eie invloedsgebied. Dit impliseer dat die belange en soewereiniteit van Latyns-Amerikaanse lande min gewig dra.
Die aanspraak op invloed strek verder as net Latyns-Amerika. Groenland word ook as noodsaaklik vir Amerika se nasionale veiligheid beskou, met min aandag aan Denemarke se soewereiniteit.
Die strategie bring ook die ou Monroe-doktrine uit die 1800’s weer na vore en brei dit uit om ander groot moondhede uit die Amerikas te hou.
Vir Suid-Afrika maak hierdie wêreldorde dinge besonder ingewikkeld. Ons verhouding met Amerika is reeds gespanne en toegang tot handelsvoordele soos Agoa is onder druk.
Om Suid-Afrika se regte as ’n soewereine staat te probeer regverdig, gaan waarskynlik min indruk maak. Wat nou van ons kant nodig is, is geduld, omsigtigheid en selfbeheersing.
Vir Suid-Afrika lê die pad vorentoe nie in isolasie nie, maar in ’n nugtere, goed berekende nie-gebondenheid, gegrond op eie nasionale belange.
Laat hoor van jou: Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.















