Lesers sê

BRIEF | Reddingsboei eerder as ’n roeping?

Llewellyn Prince
Llewellyn Prince (Netwerk24)

Semper pro populo, Langebaan, skryf:

In Llewellyn Prince se rubriek “Wil hulle dien of soek hulle werk?” (14.08) skets hy ’n onrusbarende prentjie van demokrasie op plaaslike-regeringsvlak.

Meer as 100 000 kandidate jaag net 10 000 posisies vir raadslede na, terwyl die stemopkoms tot ’n historiese laagtepunt gedaal het.

Dié kontras dwing Prince, en ons, om te vra: Wil dié rekordgetal kandidate werklik die gemeenskap dien, of soek hulle bloot ’n gerieflike werkie en ’n lekker salaris?

In ’n land met stygende werkloosheid het die pos van raadslid vir baie ongelukkig ’n ekonomiese reddingsboei en uitkoms geword eerder as ’n roeping. Terwyl miljoene mense daagliks worstel met die ineenstorting van basiese dienslewering, blyk dit dat politieke opportunisme vir baie belangriker is.

Dit is ironies verby dat die getal wannabe-politici nog nooit so groot was nie, terwyl die publiek se vertroue in hulle nog nooit so klein was nie.

Wanneer selfs die tesourie toekennings aan 69 munisipaliteite moet weerhou weens finansiële wanbestuur, weet ons die stelsel is besig om te faal – ten koste van die belastingbetaler.

Die suiwer motivering om ’n raadslid te wees, behoort gemeenskapsdiens en morele aanspreeklikheid te wees. ’n Raadslid moet gedryf word deur ’n passie om die gemeenskap te dien en die stem van gewone mense in die raadsaal te wees.

Plaaslike regering is die basis van die samelewing, want dit is waar beleid die realiteit van die man op straat ontmoet.

Die korrekte motivering is noodsaaklik op drie vlakke van ons samelewing:

  • Plaaslike regerings: Dit verseker vaardige, etiese bestuur wat finansiële dissipline toepas en munisipale ineenstorting stuit;
  • Kiesers/burgers: Dit herstel die diep geknakte vertroue in demokratiese instellings; en
  • Die land: Suid-Afrika kan nie ekonomies gedy as sy plaaslike ekonomieë weens wanbestuur deur plaaslike regerings verbrokkel nie. Stabiliteit op grondvlak bou ’n florerende nasie.

Verkiesings mag nie toenemend in diens van die politici pleks van die publiek staan nie. Ons het raadslede nodig wat besef dat ’n setel nie ’n loopbaangeleentheid is nie, maar ’n verantwoordelikheid om te dien.

Laat hoor van jou:Stuur jou brief na dbmening@dieburger.com Briewe moet vergesel wees van die skrywer se naam, adres en telefoonnommer. Briewe korter as 350 woorde sal voorkeur kry. Die Burger behou hom die reg voor om briewe te redigeer en verkort. Publikasie van briewe word nie gewaarborg nie en berus by die brieweredakteur. Geen kommunikasie sal hieroor gevoer word nie.

CTA