Menings

Agterblad: Die laafnis van mooi

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Illustrasie: Derika Volpi
Illustrasie: Derika Volpi

My ouma het haar laaste jare in 'n kamer in 'n ouetehuis op Calvinia deurgebring.

Daar was plek vir haar naaimasjien, die ou rottangstoel waarin sy graag gesit het en, langsaan, 'n rakkie vir haar Bybel en die radio. Haar venster het uitgekyk op 'n treurgroen peperboom in 'n kaalgeharkte agterjaart. En 'n stukkie van die Hantamberge.

Sy was tevrede, my ouma.

My herinnering aan die kamer is vaag - meer indruk as presies. Ek onthou die warm reuk van kraaknuwe lap wat sy heen en weer, zirrrr, onder haar naaimasjien se sigsagvoetjie stoot, stofrafels wat lui in die sonlig dans en die goue lig wat laatmiddag oor haar rottangstoel val.

Maar nou en dan duik daar tog 'n helder moment uit die newels op, onthou ek ineens iets meer spesifieks: die fyn, gehekelde kantversiering al langs die raamwerk van daardie rakkie af - self gemaak en met drukspykers al langs die rande van die rakkie vasgesteek.

Ook die prentjie van twee dogtertjies wat 'n skoenlapper jaag wat tussen haar familieportretjies teen die muur gehang het.

Twee dapper pogings tot mooimaak, twee maniere van sê: Hier woon 'n mens. Arm en eenvoudig, miskien, maar ene met siel.

Noudat ek ouma (al lank saliger) in jare van agter begin inhaal, dink ek meer dikwels aan haar en dié beskeie uitdrukkings van haar siel.

Destyds al het ek opgemerk dat sy anders kyk na die prent van die meisietjies (later in my lewe het ek ontdek dis 'n afdruk van die agtiende-eeuse skilder Thomas Gainsborough se The Painter's Daughters Chasing a Butterfly).

Haar oë het stil en diep geraak daar agter hulle oumensvliese. Ek glo sy't verby die kinders gekyk na die groter goed wat die prentjie suggereer, goed soos onskuldige ontwaking, vreugde en hoop - te midde van die lewe se swaar en sy breekbaarheid, die tydigheid.

Sy't 'n bitter harde lewe gehad, hierdie ouma van my. Neerdrukkende armoede geken, haar lewe as jong moeder in 'n tent in die ongenaakbare wind en weer van die Boesmanlandse oopveld begin.

Ses seuns en 'n dogter grootgekry met kook oor oop vure en in klei-oonde, haar eie seep gekook, eie medisyne uit die veld met bokvet aangemaak en self baksteen gelê vir hul eerste huis op daardie liefdelose vlaktes.

Oupa was 'n verbete werker, fel en toornig en soms woes vol aggressie. Sy kon dit nie maklik gehad het nie. Tog het sy in skoenlappers bly glo. En in kant.

Soms, as ek by 'n verkeerslig stop en die fraai manier sien waarop die smouse hul ware uitstal - of dit nou hopies lemoene is wat goud gloeiend in helderblou kommetjies uitgestal word of 'n streep spikkelbont krale-en-draad-hoenders wat komieklik-kordaat oor die verkeer uitstaar - dan verwonder ek my weer aan hierdie alledaagse klein offerandes aan mooi.

Dis op hierdie punt, dink ek dan, waar ons mekaar aanraak, vreemdelinge soos ons is. Jy gooi 'n plesierige gebaar die wêreld in, en ek sien dit raak en dit vrolik my dag op.

Dankie, my broer, die mooi in my groet die mooi in jou.

Ek hoor dikwels mense sê hulle sal nie in 'n lelike omgewing kan oorleef nie. En ek stem. Die behoefte aan mooi is by elkeen van ons ingelê, diep in ons DNS ingeweef. Jy't dit nodig soos asem.

Dwarsdeur die eeue heen soek denkers en filosowe al na redes hiervoor. Dis ons manier van sin soek in hierdie verwilderende wêreld, sê sommige.

Ons strewe na konneksie met die ewigheid, sê ander. Ons bly soekend na 'n beter wêreld, na 'n meer edele aardse bestaan, na ons beter selwers, volkomenheid.

Vir my is die antwoord baie eenvoudiger: Dit maak my gewoon bly.

'n Blou dag word effe ligter by die raak kyk van 'n mooi ry bome op 'n Overbergse horison. Of die speelse swier in 'n wit Kaapse gewel.

En ek is bly dat ek oopstaan vir mooi. Dis soos om God se handskrif te kan lees, aldus Ralph Waldo Emerson, die Amerikaanse digter-denker.

En nou dat dit winter is, dink ek soms weer aan my ouma in die vlymskerp koue van 'n midwinter-Karoo. Met haar sewe kinders in haar outydse tent.

Maar ek verknies my nie oor haar lot nie.

Sy't 'n oog gehad wat vol kon loop van die teerblou lig van 'n Hantamse daeraad. Wat met vreugde kon vul van 'n botterblom se geel.

En wat God se lawende boodskappe kon lees.

Illustrasie: Paula Dubois
Illustrasie: Paula Dubois

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM