Menings

Borsvoeding is ’n (duur) voorreg

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Onlangs word daar gepraat oor al die sente wat ons deesdae (met die sukkelende ekonomie, stygende lewenskoste en 'n baba) moet omdraai. 'n (Kinderlose) vriend sê: "Gelukkig borsvoed jy en dis mos gratis."

Of hierdie opmerking uit 'n plek van onkunde, domastrantheid of beterweterigheid kom, maak nie regtig saak nie. Selfs al is dit goed bedoel, is dit bloot onwaar.

Foto: ISTOCK
Foto: ISTOCK

Borsvoeding is nie gratis nie. Inteendeel. Om 'n baba te borsvoed is dalk die oudste, mees natuurlike ding wat ma's sedert die begin van tyd doen, maar borsvoeding in moderne tye is 'n perd (of koei?) van 'n ander kleur. Veral vir werkende ma's.

Dit kos geld om 'n ma wat borsvoed gesond en gemaklik genoeg te hou sodat sy kan aanhou borsvoed. En dit kos tyd. Baie tyd. En tyd is geld.

En ja, ek is deeglik bewus daarvan dat borsmelk "vloeibare goud" genoem word.

Maar anders as Repelsteeltjie kan vroue nie goud uit strooihalms weef en spin nie.

'n Ma wat kies om vir die eerste jaar van 'n baba se lewe te borsvoed, sal sowat 1 800 uur in daardie jaar aan borsvoeding bestee, berig die tydskrif Time.

Ek skuif my borsvoedende baba na die linkerbors sodat ek my regterhand kan gebruik om die somme maak.

Gestel ek werk Maandag tot Vrydag van 08:00 tot 17:00, dan werk ek 45 uur per week. Daar is 52 weke in 'n jaar.

Dus: 45 (uur) x 52 (weke) = 2 340 werks­ure per jaar.

Ek is geregtig op 21 dae verlof per jaar.

21 (dae) x 9 (uur per dag) = 189 uur.

Suid-Afrika het 12 openbare vakansie dae per jaar. Indien ek elkeen van hierdie dae nié werk nie, is dit 12 (dae) x 9 (werksure per dag) = 108 uur.

Met al die syfers in ag geneem, werk ek dan 2 043 uur per jaar.

"Maar dan is borsvoeding darem nie heeltemal 'n voltydse tweede werk vir jou nie," laat einste vriend weer van hom hoor.

Maar vriend weet nie van die tye wat my baba elke 45 minute wil borsvoed (bekend as cluster feeding) of dat hy by tye nagte om met my tepel in sy mond (in iets wat ek as 'n grendelsuig sal beskryf) wil slaap nie.

Vriend weet ook nie van die ure wat ek gesit en praat het met 'n borsvoedingskonsultant, 'n pediater, 'n arbeidsterapeut, 'n oor-neus-en-keelspesialis en 'n spraak­tera­peut omdat my baba niks van die tietiebottel wil weet nie.

So ek klop myself op die skouer - borsvoeding is werklik soos 'n tweede, voltydse werk wanneer die tydfaktor in ag geneem word.

In 'n ander bootjie

"My moeg is moeg, man," dink ek. Om elke 60 of 90 of 120 minute 'n bors uit te pluk om 'n honger magie te stil is nie bevorderlik vir 'n goeie nagrus nie. Maar voor ek kan kla, besef ek die boot waarin 'n ander vriendin die storm trotseer, is meer lendelam as my eie.

Haar borspomp maak zzzzzt-zzzzzt-zzzzt terwyl sy vertel dat haar baba wel uit 'n tietiebottel drink, maar ook maar net omdat sy ma se anatomie dit nie toelaat dat hy aan haar drink nie.

Die borspomp word ook elke twee uur aangeskakel.

Dis 12 keer per dag, 40 minute op 'n slag.

Weer met die sakrekenaar. Dis 8 uur per dag - 'n 40-uur-werksweek vir haar en haar borste.

Dan herinner sy my dat ek nie die tyd wat dit neem om die baba met die bottel te voer ingereken het nie. Ook nie tyd wat dit vat om tietiebottels te was en te steriliseer of die beplanning wat dit verg om seker te maak daar is genoeg borsmelk as sy haar baba by sy dagmoeder aflaai nie.

Haar "werksdag" lyk anders as myne, maar is nie korter nie.

En ons al twee is deeglik bewus daarvan dat borsvoeding jou sak kan ruk (al is dit op 'n ander manier as formulemelk).

Saam-saam sit ons en lysies en somme maak. Vriend se oë rek.

As jy terugkeer werk toe en aanhou borsvoed, is jy in dieselfde bootjie wat zzzzzt-zzzzzt-zzzzt maak.

Borspomp: tussen R300 (as jy bereid is om met die hand te pomp) en R15 000 (as jy die duurste, elektriese, luukse pomp wil koop).

En dis nie 'n one size fitsall nie - soms moet jy ekstra toebehore koop om by die vorm en grootte van jou bors te pas. En net soos alles­ in die lewe hou borspompe nie vir ewig nie en moet jy in 'n stadium van die onderdele vervang.

Baie van die pompe het elektrisiteit nodig om te werk - 'n duur kommoditeit in Suid-Afrika. Weens beurtkrag is dit wys om 'n pomp met 'n herlaaibare battery te koop. Indien jou pomp ouer is en met gewone AA-batterye werk, moet jy daarvoor ook begroot.

Vriend se oë rek. "Kan jy nie net met jou hand . . . um . . . uitmelk nie?"

Jy kan, maar as jy terugkeer na jou werk (die een wat 'n salaris betaal), het jy beperkte tyd om melk uit te kry sodat jou baba die volgende dag kan eet, so dis nie altyd prakties moontlik nie.

Jy moet sakkies of bottels (om borsmelk in die ys-/vrieskas in te stoor) en tietiebottels (sodat jou baba die uitgepompte borsmelk kan drink; tien verskillende soorte as jou baba vol draadwerk is) by jou begroting inreken.

Vir verstopte melkkliere of melkkoors moet jy koolblare (as jy boereraat volg) of yspakke en warmwatersakke onthou. 'n Salfie vir jou brose tepels, breast pads (sodat jy nie met nat kolle op jou bloes rondloop nie), 'n aanvulling (sodat jou baba jou nie heeltemal uitteer nie), borsvoedingbra's en knopieshemde, dinge om die bottels mee te ontsmet (mikrogolfoond-steriliseerder of Milton) en 'n koelboks (om die melk te stoor as jy ver van 'n yskas af is) moet ook op die inkopielys kom.

Boonop moet iemand wat borsvoed meer kalorieë inneem om staande te bly.

En dis net die dinge waaraan ons dadelik kan dink. Die lys sal langer word en anders lyk vir elke ma.

Navorsing deur die mediese skool by die Yale-universiteit in Amerika het bevind dat borsvoeding 'n gesin tot $10 500 per jaar kan kos. Die bevindinge van die studie is in Maart vanjaar in die Journal of Perinatology gepubliseer.

"Maar in Suid-Afrika is dinge darem seker 'n bietjie goed­koper?" sê-vra vriend.

'n Klein bietjie.

Vyf vet vingertjies

As iemand in Suid-Afrika 'n minimum loon betaal sou word om te borsvoed, sou daardie persoon jaarliks minstens R49 644 verdien. Dis R4 137 per maand, wat glad nie te versmaai sou wees nie. En dis sonder al die ekstra ure bygereken.

Vriend sug; hy is amptelik oortuig en verkeerd bewys.

"Ek sal liefs almal nou aanraai om twee keer te dink voordat hulle weer sê borsvoeding is gratis."

Dankie tog daarvoor, en nie net omdat dit onwaar is nie, maar ook omdat dié uitlating 'n vrou wat borsvoed laat voel asof haar tyd, moeite en gesondheid (fisiek en psigies) nie waarde het nie.

Ons kan nie die koste (regstreeks en onregstreeks) verbonde aan borsvoeding misken nie.

"As jy weer 'n baba het, sal jy weer borsvoed?" vra vriend.

Sonder om te twyfel kom die antwoord: "Ja." Vriendin knik ook haar kop ritmies op die maat van die borspomp.

Want om te borsvoed is 'n belegging wat baie kos, maar die opbrengste is 100% die moeite werd.

Dis nie sonder goeie rede dat die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aanraai dat babas vir minstens die eerste ses maande van hul lewe net op borsmelk lewe nie. Die WGO raai ook aan dat borsmelk steeds deel bly van 'n kind se dieet tot op tweejarige ouderdom (en selfs langer indien moontlik).

Die gesondheidsvoordele van borsvoeding is legio. Dis goed nagevors en gedokumenteer. Borsmelk (ongeag hoe die baba dit inneem) is werklik vir die kind se gesondheid vloeibare goud werd.

Maar borsvoeding gaan vir my oor veel meer as die voedingswaarde en om my baba teen siektes te beskerm. Jy kan nie geldwaarde koppel aan dit wat my moederhart voel wanneer ek my kleinding borsvoed nie.

Die gebolde wangetjies, kreungeluidjies en ogies wat lag terwyl ek my seuntjie voed, is meer werd as miljarde rande.

Om daardie warm lyfie styf teen my vas te druk terwyl die res van ons wêreld douvoordag nog dut, is van onskatbare waarde.

Geld kan nie die gevoel koop van vyf vet vingertjies wat uitreik om aan sy ma se wang te vat nie.

Die wete dat my lyf so geskape is dat ek alles kan gee wat my baba nodig het, is wonderbaarlik.

Ongeag die koste is dit 100% die moeite werd.

Ek is nie Repelsteeltjie nie, maar ek is 'n ma. Maar 'n ma wat hoop om nooit weer die geykte stelling "borsmelk kos niks" te hoor nie.

  • Wondergem is 'n redaksielid van Beeld.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM