Hanri Wondergem: Die val van hoë-hak-Hanri

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Hanri Wondergem se stiletto’s het plek gemaak vir gemaklike tekkies om agter ’n ondeunde kleuter aan te draf. Foto: Getty Images
Hanri Wondergem se stiletto’s het plek gemaak vir gemaklike tekkies om agter ’n ondeunde kleuter aan te draf. Foto: Getty Images

Haar stowwerige stiletto's is skielik net relikwieë uit die verlede toe ongemak 'n leefstylkeuse was. Vandag het die bloedblase plek gemaak vir gemaklike tekkies, skryf Hanri Wondergem.

Daar was 'n stadium in my lewe toe die idee van gemaklike skoene my laat sidder en beef het. My 25-jarige self het veel eerder die pyn van hamertone (wat oor 'n dekade in ongemaklike hakskoene gevorm is) verduur as om in 'n kuierplek gewaar te word met 'n hak korter as 15 cm.

Ek het onlangs hierdie prille jeug weer onthou toe ek op 'n lang vergete kartondoos met die bewyse afkom. Die peperduur ontwerperskoene met die (amper hemel-)hoë hakke.

Ek het onthou van die gesukkel - op die taai vloere van nagklubs as die sosiale voggies my reeds wankelrig gemaak het, op ongelyke sypaadjies, op klippies wat altyd by trou-venues op voetpaaie gestrooi is, op gras waarin ek weggesink het.

Maar selfs met die gesukkel het ek my laat-tiener- en vroeë-volwasse-jare op daardie einste hoë hakke omgedans. Elke Saterdagaand het klipharde musiek bloedblase op kloppende hakskene verbloem en ek het vas geglo dat om modieus en "mooi" te wees, inderdaad belangriker is as om gemaklik (en gesond) te wees.

Terwyl ek na die stowwerige skoene staar, onthou ek hoe ek bo mans uitgetroon het (ek is sonder die hoë hakke reeds 1,75 m lank) en hoe dit gevoel het asof almal gewéét het as ek op my haai polfaais (soos my ma my skoene genoem het) 'n vertrek betree.

Op die kruin van die golf

Hier sit ek nou, 'n bietjie meer as 'n dekade later, kruisbeen op die vloer. Dis skuins voor middernag en ek is besig om te pak.

Ons verhuis binnekort en met my peuter wat soos 'n warrelwind alles wat ek netjies inpak weer uitpak, is laataand die enigste tyd om werklik iets gepak te kry.

Sy salueer die weergawe van haarself wat die hakskoene verteenwoordig, maar sy verlang nie meer na haar nie. Foto: Unsplash
Sy salueer die weergawe van haarself wat die hakskoene verteenwoordig, maar sy verlang nie meer na haar nie. Foto: Unsplash

Die stowwerige stiletto's is skielik, soos ek hier sit, net relikwieë uit die verlede toe ongemak 'n leefstylkeuse was.

Ek bekyk 'n paar bloedrooi skoene van naderby en verwonder my aan die waagmoed wat ek gehad het - ek het die skarlaken skoen met militêre presisie aangetrek, geoefen om nie soos 'n pasgebore kalf te strompel nie en kort daarna vertrekke binnegestap asof ek op die loopplank van 'n internasionale modehuis was. Die kruin van die golf. Ek kon enigiets oorwin, behalwe, natuurlik, om na my voete om te sien.

Hierdie weergawe van my is beter

Ek skop my wollerige pantoffels uit en bekyk die einste voete. Littekens van 'n menigte operasies (om daai hamertone stokstyf te laat staan en eeltknobbels te verwyder) is nog sigbaar op my krom tone en voete.

Die krom tone, eens wreed in onnatuurlike onderdanigheid gedwing, sprei nou vrylik uit, amper genees van die gevegte van my jeug. Ek wikkel hulle in waardering.

Ek glimlag.

"Hierdie weergawe van my is beter," dink ek hardop.

Hanri Wondergem
Hanri Wondergem

Want hierdie weergawe het intussen haar eie styl ontdek (en steur haar nie aan modeneigings nie) en sy prioritiseer gemak en gesonde verstand.

Sy het geen begeerte om bo enige mens uit te troon nie. Dis nie nodig nie - sy het op 35 met haar droomman getrou (een wat seker genoeg in sy manlikheid is dat 'n lang vrou hom glad nie skeel nie - haar sukses is ook nie vir hom 'n bedreiging nie) en sy voel nie meer asof sy haar eiewaarde aan enigiemand hoef te bewys nie.

Vry van die tirannie van hakke

Die polsende ritme en mengeldrankies is verruil vir speelblokkies op die mat en bloedblase het plek gemaak vir gemaklike tekkies om agter 'n ondeunde kleuter aan te draf.

Ek maak die kartondoos toe en skryf in groot, rooi letters: "SKENK".

Ek het nie die hakskoene meer nodig nie.

Ek salueer die weergawe van myself wat die hakskoene verteenwoordig - die toewyding was werklik indrukwekkend - maar ek verlang nie nou meer na haar nie.

Ek is vry van die tirannie van hakskoene en ander se verwagtinge en my eie onsekerheid.

Ek stap die toekoms in, met gemaklike, praktiese skoene.

• Wondergem is 'n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

SPELETJIES VANDAG

CTA