Menings

‘Daddy, chill – ek dink ons begin mense van boekgesprekke afsit’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Dr. Reinhardt Fourie
Dr. Reinhardt Fourie

Die huis van die lettere het baie vertrekke. Ons hoef mekaar nie metafories met 'n stilus in enigeen van die vertrekke te vermoor nie, skryf Reinhardt Fourie.

In Boekevat skryf Jo Prins oor die sogenaamde "resepsiologie", na aanleiding van 'n onlangse polemiek oor die identiteit van LitNet se resensie-resensent, Crito. Dié saak is op die spits gedryf nadat Crito 'n resensie deur Mellet Moll (Rapport, 28 Julie) aangeval het. Die boek onder bespreking in die gewraakte resensie is Riku Lätti se Taboek (Naledi, 2024). Daarop volg die verveligste potjie literêre Cluedo wat enigiemand nog ooit gesien het. Die uiteinde is dat die misdaad toe gepleeg is deur Doktor Digbaard, in die biljartsaal, en met 'n stilus! Ja, Crito is toe nou al die jare ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach en Facebook en Netwerk24 het gegons van die verontwaardiging. Daddy, chill - ek dink ons begin mense van boekgesprekke afsit.

Die debakel het wel weer gesprekke aan die gang gesit oor die doel en rol van resensente en resensies. In sy stuk vat Prins nogal heelwat raak oor die aard en funksie van boekresensies: Dit is 'n mening van 'n leser wat waarskynlik met meer insae lees as die gemiddelde leser, die resensent ken gewoonlik die genre (en wil ek byvoeg, tradisie) van die teks wat hy resenseer, en 'n resensie is bloot 'n ingeligte mening - dis nog lank nie die laaste woord oor 'n teks nie.

Toevallig sluit Prins ook nogal aan by Kerneels Breytenbach se stuk "Hoe om 'n boekresensie te skryf" wat in 2017 op LitNet verskyn het.

Iets wat steur aan Prins se stuk is sy uitlating oor resensies in vaktydskrifte, en by implikasie sy beskouing van akademiese resensies (en resensente).

"Die idee is nie," skryf hy, "dat die resensent uit 'n hovaardige hoogheid afskryf na die koerantleser nie, hierdie is after all nie 'n literêre vaktydskrif nie."

Hiermee word seker bedoel dat die gebruik van vaktaal, saam met analitiese en dikwels baie kritiese benaderings tot tekste, blykbaar beskou word as neerbuigend teenoor "gewone" lesers (wat so 'n term nou ook al mag beteken). Vervolgens is resensies wat 'n akademiese inslag volg onwenslik, en koerantresensies is noodwendig beter.

Vaktydskrif en spreekkamer

Wat blykbaar buite rekening gelaat word, is dat vaktydskrifte juis afgestuur is op kundiges. Dit is waar akademiese menings verskyn naas die nuutste navorsing wat deur eweknieë beoordeel is.

Jo Prins
Jo Prins

Noem ons mediese wetenskaplikes hovaardig omdat hulle in hul vaktydskrifte in vaktaal skryf wat dalk nie dadelik toeganklik is vir iemand wat nie in die dissipline opgelei is nie? Ons kan tog almal oor ons liggame praat, maar is dokters dan noodwendig hovaardig as hulle praat van 'n "nevus" eerder as 'n "moesie"? Nee, daar is net 'n bepaalde plek en tyd vir 'n sekere soort taalgebruik. Vaktydskrif en spreekkamer, by wyse van skrywe.

Laat ek egter weer op boeke en boekgesprekke fokus. Waarom is dit dat die boekeredakteur van Netwerk24 voel dat die boekresensies wat in vaktydskrifte verskyn ontoeganklik is vir die lesers van die koerant? Het hy onlangs die resensies gelees in vaktydskrifte soos, onder meer, Tydskrif vir Letterkunde, Stilet en Literator?

Natuurlik volg resensies in hierdie publikasies 'n meer akademiese inslag - dit is immers 'n akademiese gemeenskap wat daardeur gedien word. Maar is hierdie resensies noodwendig almal hovaardig en ontoeganklik vir koerantlesers? Verskil hulle soveel van die soort resensies wat in koerante en op LitNet verskyn?

Ek dink Prins onderskat die vermoëns van sowel sy eie lesers as van akademici. Die genoemde vaktydskrifte se resensies is gratis aanlyn beskikbaar. Lesers wat belangstel in ingeligte gesprekke oor die letterkunde kan gerus ook hierdie soort boekresensies opsoek. Origens bewys die resensies deur letterkundiges wat wel op Netwerk24, LitNet en Vrye Weekblad verskyn dat hulle lankal nie meer in die ivoortoring vasgekeer is nie. Hoe meer stemme, hoe beter, of hoe?

Die tasbare skade

Daar is die afgelope jare baie geskryf oor die toename in die problematiese verset teen kundiges en kundigheid (wat nie verwar moet word met opregte, kritiese gesprekvoering nie). Ons het die tasbare skade van hierdie soort diskoers gedurende die Covid-19-pandemie gesien, en ook in die politieke gesprekke en propaganda wat sedert ongeveer 2015 dele van die nuusmedia oorheers.

Ook die literatuurstudie is nie hiervan gespaar nie, en gedurig word die kundigheid van letterkundiges in twyfel getrek, of bloot ontken. Hierdie idee is eintlik ook al baie oud. Wat weet hierdie akademici dan eintlik? Waarom wil hulle altyd boeke so uitmekaar trek? Kan ons nie maar net almal die boeke lees, hulle geniet en net positief wees daaroor nie? Ons moet tog net dankbaar wees dat ons nog Afrikaanse boeke kán lees! En so gaan dit aan.

Maar, wil 'n mens vra, waarom hierdie verdagmaking? Waarom word letterkundiges gereeld vanuit die staanspoor as hovaardig en uit voeling beskou en geskets? 'n Mens moet dalk in gedagte hou dat letterkundiges óók lesers is, en hul belangstelling in die letterkunde is van dieselfde oorsprong as van diegene wat Prins "koerantlesers" noem: die genot van lees en nuuskierigheid. Daar kan kwalik geargumenteer word dat diegene wat gewoonlik 'n dekade aan hul opleiding opoffer, en 'n hele loopbaan afstaan aan die bestudering van letterkunde, nié 'n liefde vir lees en boeke huldig nie. Boonop is boeke kultuurartefakte wat dikwels ontledings verdien, en sulke besprekings kan juis 'n mens se leesgenot verdiep.

Die alewige gemor

Die onlangse nuus oor die verdere sentralisering van Beeld, Volksblad en Die Burger onder die Netwerk24-vaandel, is ook hier tersaaklik. So 'n sentralisering en afskaling het jare gelede al in die kleine plaasgevind toe dié dagblaaie se onderskeie kuns- en boekeblaaie saamgevoeg is. Binne hierdie benarde konteks - en ja, benard raak dit - waarom sou enigiemand die waarde van akademiese gesprekke oor boeke wou verdag maak of afskryf?

Mellet Moll Foto: Facebook/Mellet Moll
Mellet Moll Foto: Facebook/Mellet Moll

Die alewige gemor oor wie hulle nou eintlik mag uitlaat oor boeke (en waar) dien net een doel, en dit is die onderdrukking van diverse en lewendige gesprekke oor die letterkunde.

Daar is ruimtes waar lesers, uitgewers, skrywers, resensente en akademici saam oor boeke kan gesels, en almal se bydraes kan mekaar aanvul. Hierdie gesprekke moet soms oorgaan tot baie kritiese debat, want só stimuleer ons verdere diepte en kreatiwiteit. Debatteer ons nie, hou ons skrywers dalk nie aan om ons wêreld vir ons vreemd te maak nie, en word ons as lesers ontneem van die geleentheid om die wêreld telkens vanuit ander perspektiewe te beskou.

Ek wil beaam wat Prins in die slot van sy stuk sê: "Wat ook belangrik is, is om die medium waarvoor jy skryf in ag te neem."

Boekgesprekke kan op baie vlakke en in verskillende ruimtes geskied, en dit staan enigeen vry om binne die konvensies van hierdie vlakke en ruimtes deel te neem. Hier hoop 'n mens dat boekeredakteurs juis sal help om die wisselwerking te vergemaklik. Geeneen is volmaak nie - as akademici te vakkundig wil raak in koerantresensies, gee raad en help voordat die resensie ter perse gaan. As 'n leser kla oor hulle iets ontoeganklik gevind het, of van 'n mening verskil het, laat toe dat daar gesprek gevoer word. Sodoende verdiep ons mos almal ons begrip, sonder dat een die ander bloot as hovaardig of oningelig afmaak. En dan vermy ons ook dat enkele name die boekeblaaie en boekgesprekke oorheers.

Die huis van die lettere het baie vertrekke. Ons hoef mekaar nie metafories met 'n stilus in enigeen van die vertrekke te vermoor nie. Kom ons sit eerder en gesels en debatteer - hetsy in die studeerkamer, eetkamer of sitkamer. Of in die biljartsaal.

• Dr. Reinhardt Fourie doseer letterkunde in die departement Afrikaans en algemene literatuurwetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en verteenwoordig nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Reinhardt Fourie

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM