Menings

Jo Prins: Bot, botter, trotsste

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit was soos 'n woeste rofstoeigeveg in die kleine toe sy jongste se bot in 'n toernooi teen ander kinders s'n getoets is, skryf Jo Prins.

Alexander Prins (regs) neem sy bot deur sy passies in die eerste ronde van vanjaar se Battle Bot Bash, aangebied deur Live Kaizen. Foto: JO PRINS
Alexander Prins (regs) neem sy bot deur sy passies in die eerste ronde van vanjaar se Battle Bot Bash, aangebied deur Live Kaizen. Foto: JO PRINS

Elke Saterdagoggend gaan doen jongste robotics.

Dis natuurlik iets waarin ek ook belangstel, maar ek dink altyd elkeen in die huis moet iets hê wat hul eie is. Iets wat hulle kan own.

Ons praat wel baie daaroor, oor die verhouding tussen ontwerp en funksie, maar ek hou myself doelbewus weg van die proses af.

So, elke Saterdag hier van 10:00 tot 11:00 neem my vrou hom na Rand Merchant Bank (RMB) se kantore in Sandton waar sy robotics-klas is.

Daar leer hulle eerstens om gemaklik te word met die idees - al is dit hoe abstrak - wat in hul tienerkoppe rondspoel.

Hy's darem al ses maande 'n 13-jarige.

Hulle leer hoe om coding te doen; hoe om prakties daardie kodering oor te dra in 'n sein na 'n afstandbeheerder; hoe om 'n op die oog af onskuldige Lego-mannetjie in 'n robot te verander . . .

'n Week of twee gelede laat weet my vrou my dat Alexander, jongste, sy eerste "battle bot"-kompetisie het. Hy moet sy eie bot ontwerp en bou. En, in 'n klein "arena", so groot soos 'n vingerbordtafel, moet hy meeding teen ander spanne se bots.

Ek vra hom of hy in 'n span is. "Nee," sê hy. "Ek's in my eie span." Oukei, dink ek. Maar ek weet hy't maatjies daar met wie hy goed oor die weg kom. Hier's waarskynlik issues met ontwerp en creative license, maar ek sê niks.

Elke nou en dan nader aan die groot dag hoor ek hoe die "bot" lyk. En, of hy reg is vir die groot fight.

Hy't dit heeltemal self ontwerp en gebou­.

"Ja," sê meneer.

"Dinge lyk goed."

Op die dag, verlede naweek, daag ons op by die ouditorium by RMB. Daar is 'n horde kinders met hul bots, en 'n groot skerm. Reg in die middel, voor, is die gebied waar 16 botspanne mekaar die stryd gaan aansê.

Lootjies word getrek en kort daarna is die "spanne" twee-twee aanmekaar vir die gehoor om aan te por.

Dis basies 'n uitklopfase - jou bot moet die ander ou s'n uitoorlê met vinnige beweging en maneuvers. Drie, vier beoordelaars besluit wie gaan deur na die volgende ronde.

Dis spannend, soos 'n rofstoei in die kleine.

Ouers skreeu uit die agterste gestoeltes uit. Die rondes is kort, drie minute of so, maar mens kan sien hoe die kinders intens konsentreer om hul bots deur hul passies te neem om die ander te uitoorlê.

Só gaan dit: van 16 deelnemers, dan agt, dan vier, en uiteindelik 'n algehele wenner wanneer twee bots mekaar in 'n eindronde pak.

Maar jongste verloor in sy eerste ronde teen drie meisies in eenderse span-onesies. Ek kyk hom só: so bietjie beskimmeld met die afstandbeheer in sy hand, en die drie girls wat hom jillende en gillende ore aansit.

In die post mortem vra ek hom: Yo, wat het gebeur?

"Nee," sê die knaap, "húlle het 'n 3D-printer gebruik om die onderste blade van hul bot te maak - en daai ding is vicious."

Ek kyk na sy ontwerp. 'n Eenvoudige driehoek met wiele agter wat nie regoor mekaar sit nie. Die punt van die driehoek sleep laag op die grond, so dis omtrent onmoontlik vir 'n ander bot om syne te skep en om te dop.

Maar wat is die beste ding van sy bot? Hy't dit heeltemal self ontwerp en gebou. Ek het eers op die dag van die kompe­tisie gesien waarmee hy vorendag gekom het.

En hoewel hy sy gat behoorlik gesien het, het hy dit mooi op die ken gevat. Hy's nie uit met 'n whimper nie, maar met 'n idee vir 'n beter bot en - hope­lik met 'n finansiële inspuiting van die borge (lees: sy ouers) - vir 'n meer high-tech ontwerp met die volgende smackdown.

By die prysuitdeling ná die tyd kry hy die tweede plek vir die beste ontwerp. Nie die mooiste bot op die vloer nie, maar ene wat met die hulpbronne tot sy beskikking 'n behoorlike praktiese implikasie gehad het.

Ek loer hom só; hy wil omtrent bars van trots. Die nederlaag teen die onesie-meisies lank reeds vergete.

En ék is mateloos trots op hom.

Hy sal waarskynlik eendag met kougom en skoenveters 'n tuig op Mars kan land.

Nou moet ek net Elon Musk se nommer in die hande kry.

Jo Prins.
Jo Prins.
  • Prins is 'n vryskutjoernalis van Johannesburg.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM