Antie Seffie is dood. Gôt het daai mens net aan ons geleen en geleende goed. Geleende goed moet terug gegee word. Al huil jy ook bloed, skryf Lynthia Julius.
Wat maak jy met die dood? Jy gaan op ’n Saterdagoggend na die dooie se groothuis toe. ’n Tent staan van al die dienste wat daai week gehou is. Jy kom begrawe. Jy kom begrawe al wil jy nie. Jy kom sê bye. Jy kom sê bye al wil jy nie.
Julle staan in die straat. Die ongeteerde straat en luister hoe ’n predikant van ’n mic af preek. Die jaart is te klein. Almal kan nie daar in nie. Jy staan langs antie Mary wat brêk oor haar kleinseun en met trots praat van haar dogter se nuwe werk. Haar dogter is op pad J’wannesburg toe vir opleiding. Jy is bly. Jy gun haar dit. Die lug bly al blouer en die straat word al ongeteerder en die predikant hou aan preek.
My ma. My ma.
Skree die jongste dogter van antie Seffie. Jy hou jou hart met jou spoeg in plek. So loop julle. Stukkie vir stukkie om die lyk te gaan kyk. Om jou brein te laat sien dié mens is rêrig oorlede en sy kom nie terug nie. Jou ma keer. Sy wil nie hê jy moet vir antie Seffie só sien nie. Jou antie keer. Sy wil nie hê jy moet vir antie Seffie dood sien nie. Maar jy moet. Jy wil. Jy wil hê jou brein moet sien jy gaan haar nooit weer in haar viervertrek kan kuier nie. Jy wil hê jou brein moet sien sy lê dood. Dood om nooit weer lewend te wees nie. En wat. Wat is hartseerder as ’n viervertrek met ’n oop kis in haar sitkamer gedurende Namakwalandse blommetyd?
Jy vat Ryan se ma, antie Brenda, se hand en julle loop saam by die hek in.
My ma. My ma.
Jy sluk jou huil. Daar lê sy. Daar lê antie Seffie sonner ’n Pall Mall blou in haar hand. Sonner haar glimlag. Sonner haar sin vir humor. Sy bly lê en jy begin huil en Maloes hou jou vas. En Netta, Ryan se antie, hou jou vas.
My ma. My ma.
Skree Jessica, antie Seffie se jongste dogter. En die sitkamer raak al donkerder. En die dood word al doder en antie Seffie hou aanhou dood lê. Met haar klein struktuur en haar toe oë. Die mens is maar net geleen, hoor ons aamekaar by die dood. Gôt het daai mens net aan ons geleen en geleende goed. Geleende goed moet terug gegee word. Al huil jy ook bloed. Geleende goed moet terug gegee word en die hand van die dood kan jy nie afkap nie.
Vygiestraat is vol rou. Almal loop. Na hulle karre toe. Na hulle bakkies toe. Na die bus toe wat gereël is vir die mense wat nie rygoed het nie. Metodistekerk toe. Die laaste keer toe jy daar was, het antie Seffie se oudste dogter getrou. “Toe kom Prediker en hy kom maak als xhouboe (sleg),” sê die predikant wat die diens lei. “Hy kom maak als sleg en hy sê vir ons, daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf.”
Dit het ek gelees, maar hoe sal ek dit ooit verstaan?
Laurika kom staan saam met jou agter in die kerk. Daar is nie genoeg stoele nie. Jy staan en jy staan en jou hart gee onner jou uit en jou wange raak al natter en antie Seffie het gevra hulle moet Juanita in die kerk speel:
Maar ek laat jou los
Ek laat jou gaan
Al die spore na die reënboog
Dit roep jou naam
Jou drome wag
Gaan haal dit nou
Ek sal hier wees as jy omkyk
Om jou hoog te hou
Hierdie keer kan ek nie saam gaan nie my lief
Ek laat jou gaan
Maar ek wil da nie laat gaan nie. Nog nie. ’n Gehuil. ’n Diep huil. ’n Breekhuil.
My ma. My ma.
Begraafplaas toe. Tarkastad toe. Grondpad. Verby die sjoeriesdam (riooldam). Verby die mop (waar vullis gegooi word). Dis da’m wreed dat bruin mense moet begrawe word annerkant die sjoeriesdam. Annerkant die mop. Grondpad. Gousblomme. Hoe mooier die blomme daai jaar in Namakwaland is, hoe meer mense sterf daai jaar, glo die grootmense. En die toeriste kom en neem foto’s, maar hulle weet nie gousblomme verklap tydings nie.
’n Kis word gedra. Eerste skof. Tweede skof. Aria huil. Sy wil loop. Die anties sing gesange. Van ’n eikeboom wat geplant is by waterstrome. Van vir Jesus weer ontmoet. Van bemindes wat in die hemel is. Jy bly kyk die grond en jy wil nie die kant van Ryan se graf kyk nie.
Wit ballonne word die lug op gestuur. Vlieg. Vlieger. Vliegste. Jy staan kyk hulle. Jy staan kyk die oop aarde voor jou. ’n Namakwalandse pastoor preek in Engels. Jy kry seer. Hy haak kort-kort vas. Jy kry seer. Hy bid Engels en jy kan nie jou oë toemaak nie. Sy am is or ares is nie reg nie. Hy haak vas en sê: “Jesus take the force.” Waffer force?
’n Kis wat sak. Dolly wat by sy ma se oop graf op sy knieë sak. Mammie Lieta wat vooroor leun en die kis streel tot sy nie meer kan nie. Sy gaan sit in die sand met haar doek oor haar kop. En die kis hou aan sak. En die kis sak die aarde se keel af. Jy staan kyk. Op. Af. Daar is nie ’n voël wat bokant jou kop vlieg nie. Net leegte vlieg bo jou kop. Jy ruik na rou. Jy ís rou. Jy wil nie rou wees nie. Jy vrot na rou.
Aria raak moeilik. Sy wil met die groot kjeeners gaan speel. Jy vat haar en loop af die pad af. Uit die begraafplaas uit. Weg van antie Seffie af. Gesange. Grawe wat grond grawe. Anties wat sing. Aria wat nie na haar pa toe wil gaan nie. Weg van antie Seffie af. Weg. Wegder. Wegste. Jy haal nie jou donkerbril af nie. Jy wil nie hê Artjie moet sien jy huil nie.
Daar is ’n tyd om te sterf en ’n tyd om gebore word.
Geleende goed moet teruggegee word. Jy verstaan dit nie. Jy wil dit nie verstaan nie. Die gousblomme skree die hemele al in. Hoe mooier die blomme daai jaar in Namakwaland is. Hoe meer sterf Namakwalanders. En die toeriste sal kom foto’s neem. En die gousblomme sal aanhou van tydings getuig.
En die toeriste neem foto’s. Hulle hoor nie die dood nie. Hulle kan dit nie hoor nie. Namakwaland het hulle nie gekraam nie. Hulle hoor nie, maar jý hoor:
My ma. My ma.
100003





















