Menings

Rapule Tabane: ANC tree steeds nes sindikaat op

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rapule Tabane. Foto: Netwerk24
Rapule Tabane. Foto: Netwerk24

'n Navraag oor Gwede Mantashe, minister van minerale en petroleumbronne en ANC-voorsitter, se seun Buyambo se aanstelling as voorsitter van die raad van die sektorale onderwys-en-opleidingsowerheid vir vervaardiging, ingenieurswese en verwante dienste (Merseta) het 'n katnes oopgevlek. Die doel van sektorale onderwys-en-opleidingsowerhede (Setas) is om vaardigheidsontwikkeling in die ekonomie te fasiliteer deur opleiding met bedryfsbehoeftes te belyn en om lewenslange leer te bevorder. Maar die ANC het ander idees hieroor.

Sihle Ngubane, 'n lid van die portefeuljekomitee van hoër onderwys, het in 'n brief aan die voorsitter van die komitee navraag gedoen oor die aanstelling van voorsitters en raadslede vir Setas. Dit volg nadat komiteelede op sosiale media bewus geword het daarvan dat Seta-rade gelaai is met ANC-kaders.

Senior poste word onder meer beklee deur Mike Mabuyakhulu, ANC-sameroeper in KwaZulu-Natal; Philemon Mapulane, gewese adjunkminister van kommunikasie; Amanda Mapena, voormalige LUR vir sport, kuns en kultuur in KwaZulu-Natal; Loyiso Masuku, ANC-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir korporatiewe bestuur en gedeelde dienste in Johannesburg en vrou van Bandile Masuku, gewese LUR vir gesondheid in Gauteng; en Nomusa Dube-Ncube, oudpremier van KwaZulu-Natal.

Nobuhle Nkabane, die minister van hoër onderwys en opleiding, moes al hierdie aanstellings goedgekeur het.

Die ANC kom al jare daarmee weg om instellings te kaap tot voordeel van sy lede en om dit te gebruik vir die finansiering van aktiwiteite soos konferensies en verkiesingsveldtogte. 'n Mens sou dink dat sake anders sou verloop onder die regering van nasionale eenheid (RNE), maar dit is duidelik dat daar areas is waar die ander partye in die RNE nog nie gaan rondkyk het nie.

Wat regtig kommerwekkend is, is wat gebeur het toe Ngubane gevra het dat die minister voor die portefeuljekomitee moet kom verduidelik. Tebogo Letsie, komiteevoorsitter, het eers die kwessie probeer uitstel in 'n klaarblyklike poging om die minister te beskerm.

Toe Sihle Lonzi, 'n EFF-LP, probeer het om vrae aan die direkteur-generaal te stel, het dit tot so 'n bekgeveg gelei dat Lonzi uiteindelik deur die parlement se veiligheidsbeamptes uit die vergadering verwyder is.

Dit herinner ons daaraan dat die ANC 'n sindikaat is waar lede nie net betrokke is by onbehoorlike gedrag nie, maar ook daarin slaag om lede aan te stel in invloedryke posisies én hulle dan te beskerm teen enige aanspreeklikheid.

Dit is verstommend dat die minister en haar meelopers voorgee dat daar geen ander bevoegde Suid-Afrikaners is wat hierdie poste kan vul as reeds hoogs betaalde ANC-lede nie. Daar is duisende bekwame professionele mense met vaardighede wat geskik is vir hierdie poste. En duisende werklose gegradueerdes wat geleenthede soek.

Die ANC preek hardop oor hernuwing en beweer hy het 'n nuwe blaadjie omgeslaan om verlore steun terug te wen. Maar dis duidelik net woorde, terwyl ANC-leiers steeds dieselfde onbehoorlike praktyk pleeg. Niks is geleer uit die slae wat die party die laaste jare by die stembus gekry het nie.

Dit help nie ons gooi ons hande in die lug en weeklaag nie. 'n Ondersoek is nodig en die aanstellingsproses moet van nuuts af begin. Die land betaal al lank genoeg 'n prys vir die aanstelling van onbevoegde mense in magsposisies.

Word daar eens regtig gedink aan die welsyn van die studente wat opreg hoop om vaardighede deur die Setas te bekom om hul omstandighede te verbeter?

•Tabane is politieke redakteur van City Press. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

CTA