Net wanneer jy trots wil voel op die land, vind die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) 'n manier om 'n baie eenvoudige saak waarin 'n vermeende reeksverkragter aangekla is te verbrou.
Timothy Omotoso, 'n omstrede Nigeriese pastoor, het in die Oos-Kaap tereggestaan op 60 aanklagte van verkragting, seksuele aanranding en mensehandel. Woensdag het hy en twee medebeskuldigdes skotvry weggestap nadat die hooggeregshof in Gqeberha hulle op alle aanklagte vrygespreek het.
Omotoso is agt jaar gelede in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om landuit te vlug nadat verskeie vroue na vore gekom het met bewerings van misbruik. Puik speurwerk het tot sy arrestasie gelei. Maar ongelukkig was dit ook wetstoepassers wat veroorsaak het dat Omotoso nou 'n vry man is.
Regter Irma Schoeman het in haar uitspraak skerp kritiek gelewer teen die optrede van die NVG. Sy het gesê sy was nie oortuig van die weergawe wat die aangeklaagdes aangebied het nie, maar sy kan tot geen ander gevolg kom as om hulle vry te spreek nie, omdat hul weergawe nie deur die staat uitgedaag is nie.
Sy het uitgewys dat Omotoso 'n hele dag lank sy weergawe van gebeure gegee het, maar net vir die helfte van 'n oggend onder kruisondervraging was.
"Geen poging is aangewend om teenstrydighede of onwaarskynlikhede uit te wys nie. Die kruisondervraging was vlak, sonder die bedoeling om die waarheid bloot te lê," het sy gesê. Die regter het ook uitgewys dat die kruisondervraging van die medebeskuldigdes "ondoeltreffend en oppervlakkig" was.
Die saak laat die rooi ligte flikker oor die agteruitgang van een van die instellings in die land waarop ons tot nou toe trots was. Suid-Afrika se regstelsel was nog altyd onafhanklik, maar as aspekte daarvan wanfunksioneel is, hoe behou ons vertroue in die stelsel?
Die saak word vererger omdat al hoe meer vroue in die land verkrag en vermoor word. In die lig van die woede oor die vryspreking van Omotoso, het Lisa Vetten, 'n vroueregte-aktivis, uitgewys dat die NVG 10 jaar gelede 5 000 verkragtingsake per jaar hanteer het. Dit het intussen tot omtrent 3 000 verminder, terwyl aanmeldings by polisiekantore nie afgeneem het nie.

Dit beteken tussen die polisie en die NVG kry hulle dit nie meer reg om verdagtes te vind en waterdigte sake teen hulle op te bou nie. En dit beteken eenvoudig dat daar verkragters tussen ons rondloop wat vervolging nie vrees nie.
Dit is 'n verbysterende krisis, gegewe die feit dat ons een van die lande in die wêreld is met die hoogste misdaadsyfers. As pres. Donald Trump van die VSA sê "baie slegte dinge gebeur in Suid-Afrika", is dít waarna hy behoort te verwys.
Die NVG is ook onder skoot weens sy onvermoë om suksesvolle vervolgings te kry uit sake wat spruit uit die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping. Zondo, wat reeds as hoofregter afgetree het, het verskeie aanbevelings aan die polisie en NVG gedoen oor sake wat verder ondersoek en vervolg moes word. Min het sedertdien gebeur.
In wat regtig 'n groot verleentheid vir die NVG behoort te wees, het regter Nompumelelo Gusha twee jaar gelede in die hooggeregshof in Bloemfontein verwys na die "komiese hantering" van 'n saak waarin die omstrede Gupta-broers betrek is waarin niemand suksesvol vervolg is nie.
Suid-Afrika staan tans voor nuwe probleme, met die VSA se tariewe en die regering se probleme om die begroting deurgevoer te kry. So, ons behoort regtig bekommerd te wees indien een van die grootste steunpilare van ons demokrasie stadig in duie stort.
• Tabane is politieke redakteur van City Press. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.












