Menings

Rapule Tabane: ‘Staatsgreep’ wek kommer

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
RAPULE TABANE
RAPULE TABANE

Nobuhle Nkabane, wat 'n doktorsgraad in administrasie het, was relatief onbekend toe sy verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa aangestel is as minister van hoër onderwys. Mense het haar die voordeel van die twyfel gegee, gegrond op haar akademiese kwalifikasie en omdat sy nie by skandale betrokke was nie.

Binne 'n jaar wou omtrent almal van haar ontslae raak. Nkabane het haar kantoor gebruik om politieke bondgenote te bevoordeel en swak opgeleide mense in sleutelposte aangestel. Dis skadelike ANC-praktyke. Maar haar politieke graf is gegrawe toe sy geweier het om voor die parlement aanspreeklikheid te aanvaar en leuens vertel het om haar aksies te probeer regverdig.

Sy is nou geskiedenis nadat die president haar afgedank het. Maar ons kon voorspel het wat volgende sou gebeur. Nadat sy Dinsdag in die pad gesteek is, het sy te kenne gegee dat sy nie regtig verras is nie omdat sy "weet daar is magte wat teen haar gekant is".

In my jare as politieke joernalis gaan daar altyd by my 'n rooi vlag op wanneer politici beweer hulle is vergiftig. Ons weet dat veiligheidsmagte in apartheid gif as wapen teen vryheidsvegters gebruik het. Die bekendste voorbeeld was die erkenning van Adriaan Vlok, oudminister van wet en orde, wat erken het daar was pogings om eerw. Frank Chikane, destyds sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, te vergiftig.

Maar in ons demokrasie is ek skepties as politici beweer hulle is vergiftig. Dis altyd diegene met verdagte rekords wat hulle tot dié verklaring wend sodra hulle onder druk kom om hul mislukkings te verduidelik. Oudpres. Jacob Zuma is berug hiervoor, maar bewyse is nooit verskaf nie. Een van sy vorige vroue is deur veiligheidsbeamptes geteister weens dié bewering.

Zuma, wat in samesweringsteorieë glo, beweer ook - sonder enige bewyse - daar was al meer as een aanslag op sy lewe. Dit help hom om soos 'n slagoffer te lyk en die publiek se simpatie te wen. Sy hele aanslag op die presidentskap was daarop gegrond dat hy 'n slagoffer is omdat staatshulpbronne teen hom ingespan is. Hy speel dieselfde kaart steeds by sy MK-party.

Dieselfde geld vir wyle David Mabuza. Hy sal nie in die rol van gewese premier van Mpumalanga óf adjunkpresident onthou word vir enige projekte wat mense se lewens verbeter het nie. Hy sal onthou word as 'n slinkse man wat geweet het hoe om die ANC-dinamika tot sy voordeel te gebruik. Dit het gehelp dat hy adjunkpresident geword het, maar die presidentskap was 'n trappie te hoog vir hom.

Mabuza was jare lank siek en het dit op gif blameer, maar hy het niemand ooit openlik beskuldig nie.

Nog 'n voorbeeld van vervolgingswaansin by politici is wanneer regeringsamptenare beweer daar is mense wat die regering met geweld uit die kussings wil lig. Dit kom meestal voor by regerings wat misluk en ongewild raak by die massa. Sulke regerings vrees openbare rebellie, maar vind maniere om individue te isoleer, te blameer en te vervolg.

Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, se onlangse bewering dat planne vir 'n staatsgreep deur intelligensiedienste geïdentifiseer is, was kommerwekkend, hoe hard sy ook al probeer het om dit af te maak. Die geskiedenis leer ons sulke uitsprake berei die weg voor vir regerings om toe te slaan op individue en organisasies.

Ramaphosa is nie bekend daarvoor dat hy sy opponente stilmaak, meningsverskille onderdruk of mag gewelddadig misbruik nie. Maar as sulke uitsprake uit sy presidensie kom, is daar rede tot kommer.

• Tabane is politieke redakteur van City Press. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.