Profiele

Frank Opperman: ‘ ’n Ou is maar eintlik op jou eie’

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Frank Opperman tydens die onderhoud in Woodstock, Kaapstad. Foto: Jaco Marais
Frank Opperman tydens die onderhoud in Woodstock, Kaapstad. Foto: Jaco Marais

So baie van sy vriende is in die onlangse tyd dood en saam met hulle het die stories wat hy met hulle gedeel het, gesterf, sê Frank Opperman aan Murray La Vita.

Die onderhoud met Frank Opperman (63) vind plaas by 'n tafeltjie op die sypaadjie buite 'n restaurant in die ou Kaapstadse woonbuurt Woodstock, waar hy en sy gesin sedert Junie 2022 woon.

"Ek het net een oggend in Melville gegaan: Nee man, ek bly nou al vir 40 jaar hier. Dan mag jy op 'n oggend opstaan en dink: Hierdie is 'n k*k plek. Dis nou tyd . . ."

Hoewel baie mense Opperman steeds met 'n karakter soos Ouboet in Orkney snork nie assosieer, is sy uitstraling veel meer kompleks en grinterig. Wanneer hy later in die onderhoud sy bewondering vir Burt Reynolds uitspreek, dink 'n mens onwillekeurig aan die ooreenkomste tussen dié twee.

Opperman se gesig is dié van iemand wat gelééf het, maar hy val allermins op as oud en afgeleef. Hy is 'n man wat gereeld ver ente stap en sy lenige lyf getuig daarvan.

Die rol van 'n speurder genaamd Harry Herselman wat hy in die televisiereeks Trompoppie op Showmax vertolk, is die vertrekpunt van die onderhoud.

Frank Opperman in 'n toneel in ‘Trompoppie'.
Frank Opperman in 'n toneel in ‘Trompoppie'.

"Ek was 'n paar jaar gelede in die movie Dis koue kos, Skat waarvan Etienne Fourie die regie gedoen het. En toe hy my bel en sê hy het vir my die rol van hierdie polisieman toe het ek net gesê: Yes, ek is in. En dit was 'n verskriklike lekker ervaring gewees. Ek is mal oor Etienne; hy is baie talentvol.

"Dit is hierdie beautiful reeks oor hierdie klomp trompoppies en dan word een van hulle vermoor en ek is nou die polisieman wat probeer uitvind wié het vir trompoppie vermoor - die classic polisieman wat gatvol is en nou hierdie klomp kak moet ondersoek.

"Die wonderlike ding van televisie is jy doen die ding en jy is klaar met hom. Jy kan nie nog kom performer's remorse of iets hê nie - dís die wêreld van TV. Met teater kan 'n ou vir jouself sê: Jís, 'n ou kan hom nog beter doen! Of: Hierdie ding kan nog beter! Dit was vir my lekker, maar ek is een van daai ouens wat as ek hom gedoen het, dan's ek klaar met hom en jy weet dis in die hande van 'n regisseur. Jy beweeg aan."

‘Jou gewone ou se storie - dís wat ou Dana kan regkry.' Foto: Jaco Marais
‘Jou gewone ou se storie - dís wat ou Dana kan regkry.' Foto: Jaco Marais

Hy praat oor die soort rolle waarom hy veral bekendheid verwerf het.

"Daar is so 'n paar sulke ouens wat ek in my lewe al gespeel het . . . 'n Ou word seker so half ge-typecast want iets soos byvoorbeeld Orkney snork nie . . . Die ding daarvan is hulle hersend dit al vir 40 jaar. Hulle saai hierdie goeters oor en oor en oor en oor uit en ons word, needless to say, nie daarvoor betaal nie.

"Hoewel, met Orkney . . . dit is aan AfriForum se TV geskénk, so dit wys gratis op húlle kanaal en 'n ou sit maar net so en jy gaan: jy is nou maar daar; jy word nie betaal nie . . .

"Dan is dit sulke klein kindertjies [hy beduie omtrent 60 cm hoog] wat na my toe kom en dan sê sy pa: ‘Dís Ouboet daai!' En dan kyk hy so op en dit lyk of hy dink: F*k, maar hiérdie ou is oud!' Ja, ek kry sulke klein laaitjies wat deesdae kom en vir my sê: ‘Hallo, Ouboet!' want hulle kyk dit op AfriForum se TV en op YouTube, en dit is al hoeveel keer op kykNET uitgesaai.

"Ag, maar dit was nog van die min skoon, familievermaak, so I don't mind it. 'n Mens is nou maar net deel van so 'n . . . Jy weet, 'n mens doen dit nou al vir so lank, 'n ou karring maar net aan. Dit wat jy misloop as hulle jou nie vir 'n re-run betaal nie . . . Daar sal wél iets anders kom; ek het so ander tipe prosperity consciousness - te hel met hulle, 'n mens gaan net aan," sê hy en lag.

"Maar ons is ook maar in 'n Mickey Mouse-bedryf hier, so 'n ou kan ook nou verwag dat dinge nie hierso so gewax is nie. Daai Amerikaners gaan op strike omdat hulle nie genóég re-run betaling kry nie; óns kry glád nie re-run betaling nie."

Hulle is dood

Opperman sê hy kan baie goed wat in sy lewe gebeur het, nie meer onthou nie.

‘En ék het ook 'n fassinasie met die gewone man.' Foto: Jaco Marais
‘En ék het ook 'n fassinasie met die gewone man.' Foto: Jaco Marais

"Wanneer jou beste vriende dood drop rondom jou besef jy skielik: My army-stories . . . dis net ék wat dit oor het. My beste vriend Rob D'Alessandro, wat my groot tjommie was, hy's dood die anderdag, so dis net jý wat sit met die storie. Dan vergeet 'n ou maar die goeters.

"Maar ek kom agter jou sharing-stories raak minder; jou akteursvriende wat dood is . . . Here, al daardie projekte wat ek en Gerrit Schoonhoven saam gedoen het. Hy was nou iemand verskriklik naby aan my en nou dat hy dood is, is al daardie stories gone; ek kan lieg oor daai stories want die ander ou wat daarvan weet, is gone.

"Die ouens met wie jy jou stories gedeel het en wat kon beáám dis die waarheid, is nie meer daar nie. Jy sit al hoe meer met jou eie storie. Jy is ál een wat weet: f*k dis die waarheid."

Laat dit hom eensaam voel?

"Néé, dis nou maar net wat 'n ou besef. En as daar een ding is waarvoor ek nie bang is nie, dan is dit die dood. Dit is darem nou een ding wat onafwendbaar is. Ek is glád nie bang vir hom nie, maar 'n ou besef net al hierdie goed - as vriende doodgaan, gaan daar stories dood; hy's net oor en uit. Is dit die moeite werd om dit met ander mense te deel?"

Hy bly stil.

"Ek het 'n klomp vriende verloor in daai Covid en aan kankers . . . Here, hy het darem maar ingespring onder my vriende: Rob D'Allesandro . . . Gerrit Schoonhoven . . . Piet Snyman, 'n kameraman-vriend van my . . . Ben Kruger - net sulke klomp mense, en dan begin jy besef 'n ou is maar eintlik op jou eie.

"Ek wil nie eens grim klink daaroor nie, maar dis so half sulke goeters waarvan 'n ou skielik bewus word."

‘Skryf vir my 'n play'

Ons praat oor sy jare lange samewerking met Dana Snyman.

‘So, dan moet jy maar ander oumense speel.' Foto: Jaco Marais
‘So, dan moet jy maar ander oumense speel.' Foto: Jaco Marais

"Twintig jaar terug lees ek 'n storie van Dana in Beeld en ek bel hom en ek sê vir hom: ‘Jy moet vir my 'n play skryf; dis wat jy moet doen.' En hy het 'n play gaan skryf - Die uwe Pottie Potgieter - en dis twintig jaar en so tien of elf projekte later en ek en hy karring nog steeds aan.

"Elke tweede jaar doen ons 'n nuwe play. Dís wat ek doen vir 'n lewe: ek toer rond met one-man shows. So nou en dan doen ek televisie, maar for the rest I'm pretty much . . . Staan op 'n stage en vertel jou storie.

"Wat ek hou van 'n one-man show is in die worst case scenario maak jy of jy flou word en lê op die grond. Terwyl, ek was 'n ruk gelede in The Promise saam met agt ander akteurs en hulle sou die móér in vir jou gewees het as jy dít doen," sê hy laggend.

"In The Promise het ek weer agtergekom wat se dissipline dít verg. Dit was vir my baie lekker om net gou weer te gaan leer by Sylvaine [Strike, regisseur] en agt ander akteurs. Nou is 'n ou weer 'n bietjie slimmer. Maar ek verkies maar die one-man shows.

"Ek het 'n moerse hit show waarmee ek en De Klerk Oelofse [regisseur] nou gaan rondtoer - Reünie, 'n stuk wat Dana geskryf het."

Opperman is onlangs vir 'n Fiësta benoem as beste akteur vir sy rol in dié eenmanstuk.

"Hierdie mal idee: Kom, wees ál 14 mense by 'n matriekreünie . . . Die meisie wat pregnant geraak het; die ou wat weermag toe is; die ou wat in Irak gaan werk het. Dit is net so 'n fantástiese play; hy het net so beautiful uitgewerk! Ek gaan weer in middel-Maart KKNK toe met hom en daarna toer ek."

‘Die gewone man'

Wat is die gemene deler van die stukke wat hy en Snyman saam doen of gedoen het?

‘En as daar een ding is waarvoor ek nie bang is nie, dan is dit die dood.' Foto: Jaco Marais
‘En as daar een ding is waarvoor ek nie bang is nie, dan is dit die dood.' Foto: Jaco Marais

"Jou gewone ou se storie - dís wat ou Dana kan regkry. élke mens het 'n storie en ou Dana het die vermoë om 'n storie te kan vertel van die gewone man.

"En ék het ook 'n fassinasie met die gewone man. Ek wil dit veel eerder speel as . . . ek is nie 'n vreeslike Shakespeare-ou nie.

" 'n Pel van my gaan nou 'n Shakespeare-rol doen en as ek dink aan sulke Shakespeare-woorde leer dan ríl ek. Ek is maar happy met die gewone mense . . .

"So, ek droom nie oor groot Shakespeare-rolle nie, ek droom daaroor om 'n mooi storie te vertel van Adam Boshoff, 'n gewone ou wat na 'n matriekreünie toe gaan.

"Dana was, soos ek, ook in 'n klomp skole want hulle het baie rondgetrek omdat sy pa 'n dominee was. Daai tyd wat ons so baie rondgemove het [sy ma was 'n onderwyser], was dit óf bankbestuurders se kinders óf dámbouers - in Worcester kan ek onthou, was daar dambouers . . . Dít is die soort kinders wat in so 'n klomp skole was. So, dis nog iets wat ek en Dana in common het."

‘Wat sou Burt gedoen het?'

Ek pols hom oor sy rol as die pa in Nêrens, Noord-Kaap.

"Ek kry nou die dag 'n brief van 'n uitsaaier waarin hulle my laat weet ek is nou te oud vir my droomrol. [Hy verkies om nie te sê wat die rol is nie.] So, dan moet jy maar ander oumense speel. Toe ek dit so lees toe gaan ek: Ja, oukei, dís wat gebeur. Ek is seker iemand het al vir Burt Reynolds ook gesê: ‘Sorry, Mr. Reynolds, you are too old.'

Hy is my ou favourite van toe ek 15 of 16 was. Wat is daai een classic? Mean Machine . . . Ek scheme altyd: Wat sou Burt gedoen het?" sê Opperman en lag uitbundig.

Opperman vertel oor die mooiste present wat hy gekry het toe The Promise in Johannesburg opgevoer is.

"Gert van Niekerk, Louis van Niekerk se seun, het vir my 'n foto by die Markteater kom afdrop van toe ek 25 was en saam met sy pa en Frans Marx gespeel het in Tartuffe van Molière. Die foto was pragtig geraam en daar was 'n boodskap by wat ou Louis van Niekerk geskryf het voordat hy oorlede is.

"Dit was vir my nou so 'n lekker klein reminder. Niémand anders gaan dit onthou nie. Louis het dit onthou en nou is Louis ook nie meer daar nie. Frans Marx is ook nie meer daar nie. Dis net ék wat dit onthou. Dis net ék wat oor is."

CTA