
Sy was 'n eenkantkind en het maar gesukkel om vriende te maak. Wie sou ooit kon dink Greteli de Swardt was die grootoog, skaam enetjie wat verskimmeld agter haar ma weggekruip het?
Op sterk aanbeveling van haar ouers ontdek sy toe as tiener die wonder van dramaklasse op skool en nadat sy daardie adrenalien deur haar are voel pomp het, was daar geen keer meer aan Greteli nie. Skielik was sy dol oor die towerwêreld waar haar teruggetrokkenheid nie bestaan nie. Waar die aspirant-aktrise kon wees net wie sy wou.

En so natuurlik soos haar speeltalent is, was sy min gespin oor aktrise word, gesels sy uit haar huis op Stellenbosch.
"Ek het nooit enigsins in daai rigting gedink nie. Ek het regtigwaar nie maklik maats gemaak as kind nie. My ouers kon dit later nie meer uithou met hierdie skaam kind nie. Toe stuur hulle my vir dramalesse."
En toe sy daardie heel eerste keer haar voete op die verhoog sit, was sy versot op dit wat in haar binneste gebeur.
In gr. 10 het sy vir die grap drama as 'n vak gekies en toe is dit tickets met enige ander drome wat dalk nog besig was om te broei. "Ek onthou ek was in gr. 11 toe ek vir 'n oudisie gegaan het vir die reeks Dwaalster (2019). Ek het die rol gekry en toe weet ek: Dis wat ek vir die res van my lewe wil doen."

Moenie dink die skaamheid het nou ná soveel jaar op TV verdwyn nie. "Ek is beslis nog 'n introvert. My 13-jarige sussie, Elwené, meng gou met vreemdes, maar ek raak steeds benoud as ek by groot partytjies aankom. Tussen my eie mense is ek 'n grapjas, maar dis 'n ander storie voor wildvreemdes."

‘Nou wag ons op ons babatjie'
Self doen Greteli ook nie te sleg nie. Sy doen ekstra moeite voor enige rol wat sy aanpak en klim dan pens en pootjies in haar karakter se skoene, vertel sy entoesiasties. "Ek doen ongelooflik baie karakternavorsing en later sit ek met 'n dik joernaal - alles daarin is dan die ruggraat van daardie karakter. Dit help my baie om dan fisiek die karakter te word."
Luister jy na haar terwyl sy praat, hoor jy die selfvertroue in Greteli se stem, sien jy aan haar lyftaal hoe gemaklik sy eintlik in haar vel is - en dan besef jy skielik: Die eens teruggetrokke meisie is baie wyser as haar 21 jaar.
"My kinderjare was lekker deurmekaar. My pa, Newton, is 'n argitek en ons het maar baie rondgetrek. Ons het tien keer in nege jaar getrek. Ek is in Potchefstroom gebore en nou woon ons almal in Stellenbosch. Ek was in verskillende skole en in my matriekjaar het my rolle in Alles Malan en Blood and Water gekom. Daardie druk van 12 uur op stel wees en dan nog eksamen skryf, het my ook vinniger ryp gedruk. En nou is ek 21, ek het getrou, twee keer getrek, baie gewerk en nou wag ons op ons babatjie wat in April kom," sê sy.

"Ek en Juan het nie lank uitgegaan nie. Dit is asof die hele proses net baie natuurlik gebeur het en ek kon nie my toekoms sonder hom insien nie. Ek glo baie mense gaan jou pad kruis, maar ek en Juan het 'n keuse gemaak om mekaar te kies. Hy is ouer, maar ek werk al vier jaar professioneel. Dan word 'n mens vinnig groot. Ek weet nou al baie goed hoe om in die grootmenswêreld te operate, selfs al is ek eintlik nog baie jonk."
‘Volmaak beplan'
Die aktrise Marguerite van Eeden het hulle van mekaar vertel, begin sy die ontmoetingstorie. "Maar sy het ons nog nie voorgestel nie, toe spring ons haar voor en ontmoet mekaar op Instagram en toe later in persoon."
Daar is eintlik 'n baie interessante storie rondom die swangerskap, onthou sy. En nee, hulle het glad nie probeer nie, dit was eintlik 'n groot verrassing. Maar . . .
"Daar het 'n hele klomp mense rondom my swanger geraak. Ek erken ek was later effe jaloers. En omdat my ma tussen my en my sussie soveel miskrame gehad het, het ek hierdie vrees gehad dat dit met my ook sal gebeur. Toe praat ek een aand met die Here: Ek het sleg gevoel en my gebede neergeskryf, gesê ek is jammer dat ek jaloers was, vergewe my en help my besef dat wanneer ons 'n kindjie gaan kry, is dit in Sy wil. 'n Maand en 'n week later het ek 'n toets gedoen en dit was positief. Ek het my gebed weer gaan lees. Daar sien ek toe dat ons babatjie gemaak is in dieselfde week toe ek daardie gebed neergeskryf het. Die Here het my diepste hartsbegeerte gehoor. So, onbepland, maar ook so volmaak beplan in die Here se tyd."

Geen vyfjaarplan nie
En binnekort sien ons haar as Mila Guy se opvolger in die rol as aanbieder van Eendag (VIA, kanaal 147). "Ek wou nog altyd graag my eie kletsprogram gehad het, maar het nooit gedink daar sou die geleentheid wees nie. Ek dink nie eens my agente het gedink aanbieding is iets waarin ek sou belangstel nie. Maar sjoe, ek geniet die aanbieding baie."

Nou kry sy die geleentheid om elke dag iets nuuts te beleef saam met die Eendag-span, want om 'n troue in net een dag gereël te kry is nie kinderspeletjies nie. "Ek sien baie nuwe plekkies en werk met elke opname met 'n nuwe paartjie, 'n nuwe venue, heeltemal ander mense. Dis verfrissend, want ek weet nooit wat wag nie."
En ja, sy raak ook nogal paniekbevange saam met die paartjies wat hul troues in net een dag moet beplan. "Ons het darem nog nie trane afgevee nie. Ek moes al baie bruide motiveer en paai, maar daar was nog nooit 'n geval waar ek hartseertrane moes afvee nie. Daar was gelukkig nog nooit 'n groot krisis nie. Die span weet wat hulle doen en hoe om hierdie soort show te maak. Maar ja, ek stres ook maar lekker saam met daardie bruide, maar probeer dit altyd positief hou."
Drome is daar baie, maar geen vyfjaarplan nie, beklemtoon Greteli. "Die lewe is onvoorspelbaar. Ek wil net nog lank in die bedryf werk en dan ook leer hoe om balans te vind tussen werk en my gesin. En dit gaan vir seker 'n interessante balans wees - ek en Juan hou albei van ons werk. Ek bid vir gesondheid en dat ek altyd besig kan bly met my hande. Ek is nie iemand wat kan sit en niksdoen nie."

• Die meeste mense neem maande - selfs járe - om 'n troue te reël. Wat nou nog van één dag! Dié keer vat die akteur Greteli de Swardt die leisels oor by Mila Guy in Eendag en help paartjies om hul troue in 'n enkele dag te reël.
Hier is 'n lusmaker:
Vanaf Woensdag 11 Januarie om 20:00 met heruitsendings op Vrydae om 21:00 en Sondae om 18:30.







