(Koerant)ink in haar are

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Daniëlla van Heerden met haar twee dogters, Lana en Simoné.Foto: Cornel van Heerden
Daniëlla van Heerden met haar twee dogters, Lana en Simoné.Foto: Cornel van Heerden

Daniëlla van Heerden gesels met Hanri Wondergem oor haar jongste avontuur en haar lewe as nuusleser, joernalis, skrywer, eggenoot en ma van twee dogtertjies.

Daniëlla van Heerden, joernalis en nuusleser wat deesdae ook haar eie podsending het waarin sy oor moederskap gesels. Foto: Deaan Vivier
Daniëlla van Heerden, joernalis en nuusleser wat deesdae ook haar eie podsending het waarin sy oor moederskap gesels. Foto: Deaan Vivier

Op 'n sonnige wintersoggend swaai die voordeur van 'n huis in Allen's Nek in Johannesburg oop. 'n Vrou met 'n baba op die heup en drie hondjies by haar voete groet vriendelik.

"Kom in, ek maak koffie."

Kykers van eNuus op kykNET sal haar dadelik herken as Daniëlla van Heerden, maar vandag is sy "sommer net Daniëlla".

Die kenmerkende kiertsregop postuur en die goed versorgde bruin hare wat kykers met dié nuusleser vereenselwig is daar, maar van swaar grimering en formaliteit is daar nie sprake nie.

Sy gaan sit in die sonnetjie op haar stoep met haar kleinding op haar skoot en val sommer met die deur in die huis.

"Ons gaan seker oor die moontlike sluiting van Beeldpraat?"

Sy vra dit met deernis, want Beeldis immers die plek waar haar loopbaan begin het.

"Beeld is deel van my lewenstorie. Dit was op 'n Beeld- skoolkoerantkursus dat ek besef het watter werk ek wil doen - dit was bepalend vir my lewe en my loopbaan."

Op skool was sy reeds 'n Beeld -leser. Die koerant is - en word steeds - afge­lewer by haar ouerhuis in Potchefstroom. "My eerste werk was by Beeld. Ek het my man ontmoet by Beeld . . ."

Van Heerden vergelyk die moontlikheid van die sluiting van dié geliefde koerant met 'n familielid wat op 'n sterfbed lê. "Ek dink dit was prof. Anton Harber wat geskryf dat 'n koerant 'n persoonlikheid het. Beeldis soos 'n mens. Jy kan dink wie Beeld is. Beeld is anders as Volksblad. Beeld is anders as Die Burger. Beeld het 'n persoonlikheid wat 'n digitale platform nie het nie. Dit voel regtig soos iemand wat sterf."

Nuuskierig

Die skoolkoerantkursus wat rigting aan haar loopbaan gegee het, is destyds in Rustenburg aangebied. Sy onthou tot vandag toe die name, datums en details van dié gebeurtenis.

"Wyle Louise Laubscher, wat die nagredakteur by Beeldwas . . . Sy was nogal 'n legende daar . . . Louise en Phyllis Green, wat nou by Sariewerk en toe 'n fotograaf vir Beeld was, het die kursus aangebied."

Net daar is 'n vonk vir die joernalistiek in haar aangesteek - 'n loopbaan wat mettertyd behoorlik sou vlamvat.

"Dit was fantasties. Hulle het op banke geklim om te illustreer dat jy stories en foto's kreatief moet benader en ons het onderhoude met 'n sportster gedoen."

Dit was Hannes Hopley, Olimpiese diskus­gooier, met wie die jong verslaggewers kon gesels. "Louise het vir ons gesê die joernalistiek is die beroep waar jy betaal word, weliswaar nie baie nie, om nuuskierig te wees..."

Ná skool is sy na die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar sy vir 'n BA-graad in kommunikasiekunde studeer het en ook redakteur van die Wapad, die kampuskoerant, was. Daarna is sy na die Universiteit Stellenbosch met 'n Media24-beurs om 'n honneurs in joernalistiek te doen.

"In 2008, agt jaar ná daardie skoolkoerantkursus, het ek by Mediapark in Auckland Park ingestap om by Beeldte begin werk. Beeld is die beginpunt van soveel dinge in my lewe."

As iemand sê ek spreek nie my woorde mooi duide­lik uit aan die einde van 'n sin nie, is dit geldige­ kritiek.

Op die kassie

Ná amper drie jaar by die koerant het die televisiekameras gewink. In 2010 het eNuus op kykNET begin uitsaai.

Van Heerden was eers 'n nuusskrywer (wat veronderstel was om heeldag agter 'n lessenaar te sit) en toe veldverslaggewer "wat nooit stilsit nie".

Deesdae sit sy weer agter 'n lessenaar, maar nou as nuusleser - 'n rol wat sy vir die eerste keer in 2015 vervul het.

"Nog saam met Freek Robinson," onthou sy.

In 2018 is sy permanent as nuusleser aangestel. Volgens Van Heerden hou regstreekse nuusbulletins haar nederig - veral as haar tong knoop of sy 'n naam verkeerd uitspreek. Ja, daar is druk as jy skielik "volksbesit" word, maar sy sien dit as 'n voorreg.

"Die televisie is vir mense soos 'n companion in hul huishouding. Ek wat op tele­visie is, is soos 'n gas in hul sitkamer. Dis 'n voorreg en 'n eer om mense op die hoogte te hou, al kom dit met uitdagings en al doen ons dit nie altyd reg nie. Daar is druk op my, maar dis nie onregverdige druk nie. Ek besef ek het 'n verantwoordelikheid en neem dit daarom baie ernstig op."

Sy verwelkom geldige kritiek en kies om dit wat onnodig is maar liefs te laat gaan.

"As iemand sê ek spreek nie my woorde mooi duidelik uit aan die einde van 'n sin nie, is dit geldige kritiek."

Dan lag sy. "Om te sê ek lyk nie goed in geel nie of ek lyk oud as my hare vasgemaak is, is nie geldige kritiek nie."

Daniëlla van Heerden is self 'n formidabele vrou, maar sê regdeur haar lewe is dit die sterk vroue wat haar geïnspireer het om hoër hoogtes te bereik. Foto: Deaan Vivier
Daniëlla van Heerden is self 'n formidabele vrou, maar sê regdeur haar lewe is dit die sterk vroue wat haar geïnspireer het om hoër hoogtes te bereik. Foto: Deaan Vivier

Silwer-sentiment

Kort voordat Van Heerden in 2010 by Beeldbedank het, het 'n nuusfotograaf van die koerant haar aandag getrek en haar hart gesteel. Sy en Cornel het in 2013 in New York verloof geraak.

"Hy was baie dramaties met die groot vraag. Hy het gewag tot ons heel laaste dag in New York."

By 'n piekniek in Central Park het Cornel op sy knie neergesak. Die ring waarmee hy die jawoord gevra het, is gemaak van silwer wat herwin is uit die fotografiese proses waarin rolprente gemaak word. Van Heerden heg groot sentimentele waarde aan die ring en dra dit deesdae aan haar middelvinger.

Haar "steentjiering" vir hul troue op 1 Februarie 2014 in 'n klipkerk in Heidelberg het sy self gekies.

Die Van Heerden-egpaar het twee dogtertjies. Simoné is op 25 Maart 2020 en Lana op 8 Maart 2023 gebore. Haar gesin is die hoogtepunt van haar lewe, vertel Van Heerden.

"Ek is mal oor my werk en wat ek doen, maar hierdie (haar gesin) is eintlik wat saak maak. Dit beteken nie dit is maklik nie. Ek is moeg en uitgeput, ek sien my man minder, ek moet steeds werk en partykeer het ek 'n ruskansie nodig.

"Ons is nie perfek nie, maar ons is gelukkig. Dis 'n ongelooflike voorreg."

'n Laagtepunt? Die Covid-19-pandemie, sê sy. Sy het vir die eerste keer ma geword 'n dag voordat die inperking aangekondig is.

Toe die geleentheid om 'n jeugverhaal te skryf kom, het Daniëlla van Heerden dit met altwee hande aangegryp. Foto: Deaan Vivier
Toe die geleentheid om 'n jeugverhaal te skryf kom, het Daniëlla van Heerden dit met altwee hande aangegryp. Foto: Deaan Vivier

Woorde

"Skryf was nog altyd vir my die basis," vertel Van Heerden oor haar werk. Daarom lewer sy steeds, wanneer haar besige skedule dit toelaat, op vryskutbasis artikels vir verskeie publikasies.

Sy het ook 'n jeugverhaal, As jy droom, neergepen. "Dit het so half net oor my pad gekom," vertel sy oor die boek. Miemie du Plessis, 'n uitgewer van Pan Macmillan, het haar genader om die ware verhaal te vertel van jong mense wat van die Kaap na Kaïro gevlieg het.

"Ek het nog altyd baie van jeugliteratuur- en boeke gehou, so dit was altyd in my agterkop. Dit was 'n lekker geleentheid om aan te gryp."

Hoewel sy in die gedrukte en digitale media, televisie en deesdae in klank werk, wil sy nie tussen die verskillende mediums kies nie. "Dit hang alles af van die storie wat ek vertel. Die storie bepaal die medium."

Sy wil ook nie 'n rolmodel uitsonder nie. "In verskillende fases van my loopbaan was daar verskillende mense wat 'n invloed gehad het. Wat ek wel kan sê, is 'n string sterk vroue het my deurlopend gehelp."

Ander joernaliste, redakteurs, dosente en vroue wat hul verhale met haar deel, is vir haar rigtingwysers. En met haar nuutste projek, 'n podsending, is dit die gaste en die kenners met wie sy praat wat uitstaan.

Hoogtepunte in haar loopbaan sluit in van die gorillas in Rwanda tot wêreld­rekords in die Kalahari.

"Dit is 'n hoogtepunt elke weer wannneer iemand­ my toelaat om hul storie te vertel . . . mense wat hul huis vir my oopmaak en toelaat dat ek op die beste of die slegste dag van hul lewe toegelaat word om deel daarvan te wees."

Daniëlla van Heerden met haar twee dogters, Lana en Simoné. Foto: Cornel van Heerden
Daniëlla van Heerden met haar twee dogters, Lana en Simoné. Foto: Cornel van Heerden

Ma en mikrofoon

Van Heerden het uit eie ervaring as ma 'n leemte gesien en 'n rukkie gelede besluit om 'n Afrikaanse podsending oor ma-wees te begin.

"Daar is 'n aanlyn gemeenskap van Afrikaanse ma's wat met mekaar kommunikeer en raad gee. Dis 'n gevoel van gemeenskap. Ek het self hierdie amper onsigbare netwerk van Afrikaanse ma's ontdek."

Sy het haar podsending, 'n Ma & 'n mikrofoon, begin as virtuele bymekaarkomplek vir kenners en ma's wat in Afrikaans wil raad en wenke kry "en sommer net hoor hoe ander ma's dit doen".

Van Heerden kies die onderwerpe en gaste (hetsy kenners of ander ma's). Sy stel haar eie vrae op, neem die klank op en skaaf daaraan. Sy plaas dit op verskeie platforms waar dit dan gratis beskikbaar is. "Met 'n nuusbulletin wat net 'n halfuur lank is, het ek hierdie behoefte gehad om bietjie dieper te delf. Nou kan ek dit doen."

Sedert Februarie saai sy weekliks een episode uit. "En dit kom terug na daai joernalistieke beginsels toe: Opvoed, inlig en vermaak."

In 'n "inlig-episode" praat sy byvoorbeeld oor griep en verkoue met 'n dokter wat ook 'n ma is oor griep en verkoue. In "opvoed-episodes" gesels iemand wat byvoorbeeld betrokke is by die palliatiewe sorg van kinders. En in "vermaak-episodes" het die gaste interessante lewens - soos 'n ma van Pretoria met haar 12 kinders.

Die podsending is haar passieprojek. "Maar dalk sal dit eendag lonend word. Vir eers skep ek net inhoud en ek kry wonderlike terugvoering."

En sy kry die kans om te doen wat sy nog altyd wou: Sy vertel steeds stories.

  • Luister op Netwerk24 onder podsendings na 'n Ma & 'n mikrofoon.
  • Wondergem is 'n redaksielid van Beeld.

Potchefstroom se ‘Nooi Du Plooy'

Daniëlla, 'n "nooi Du Plooy" is op 15 September 1985 in die destydse Kallie de Haas-hospitaal (nou die Potchefstroom-hospitaal) gebore­, die jongste van Simon en Chrisda du Plooy se kroos.

"My pa was 'n boukontrakteur. Hy is nou afgetree en voltydse familienavorser. My ma was en is 'n tuisteskepper."

Van Heerden het 'n ouer broer, Simon.

"Hy het bedryfswiskunde en informatika gestudeer. Hy werk in die finansiële wêreld."

Sy was 'n haasbekkie met boksterte aan die Laerskool Baillie Park en het in 2003 aan die Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer.

Op hoërskool het sy 'n kombi gewen in 'n kompetisie waarin kinders advertensies moes uitdink hoe om Suid-Afrika te bemark.

Voordat die joernalistiekgogga gebyt het, het sy gedink sy gaan eendag 'n skrywer of 'n bibliotekaresse word.

Sy hou van oefen, veral draf, en is lief vir reis, veral in Suid-Afrika.

"Dit is so lekker om 'n kothuisie op 'n afgeleë dorp te ontdek en dan daarheen te gaan saam met my man en my kinders en die honde."

Sy is lief vir lawwe oomblikke saam met haar dogtertjies en verwys skertsend na haar gesin as die "Fun Heerdens" of "Pun Heerdens".

Gunstelinge

Boek: "Thula Thula van Annelie Botes is 'n baie donker boek wat 'n enorme indruk gemaak het."

Fliek: Love Actually

Filmster: Jennifer Garner

Sanger: Taylor Swift

Musiek: "Enigiets van Taylor Swift of Billy Joel, of iets waarmee ek lekker op die treadmill kan hardloop."

Kos: Pizza

Drankie: "Suikervrye Indiese tonic met gevriesde bessies en 'n cordial. Lekker bitter."

SPELETJIES VANDAG

CTA