Profiele

Lag-lag Lynthia

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Lynthia Julius wil die berge in vlug so bang is sy vir ma-wees en haar eerste roman. Maar vandeesweek het die familie uit Springbok en haar kêrel uit Pretoria in Kimberley aangekom vir die geboorte van Aria (alias Artjie Vartjie skottelgoed­was), haar eersteling. Johan van Zyl het kort voor die bevalling gaan gesels.

Lynthia Julius, afgeneem by haar lessenaar in haar huurhuis in Kimberley waar sy skryf aan haar eerste roman, Outa Willem Dik-aantrek. Die pastel-en-akrielverfportret deur Louis Jansen van Vuuren laat haar lag: "Toe dit in my ma se huis gehang het, was sy te skaam, so sy't my pramme met 'n stuk tape toegeplak." Foto's: Peter Van Noord
Lynthia Julius, afgeneem by haar lessenaar in haar huurhuis in Kimberley waar sy skryf aan haar eerste roman, Outa Willem Dik-aantrek. Die pastel-en-akrielverfportret deur Louis Jansen van Vuuren laat haar lag: "Toe dit in my ma se huis gehang het, was sy te skaam, so sy't my pramme met 'n stuk tape toegeplak." Foto's: Peter Van Noord

Vir die skrywer Lynthia Julius en haar kêrel, die Pretoriase advokaat Eugene Muller, oorspronklik van Lutzville, is die afgelope Dinsdag 'n meisiekjeent gebore: Aria het die wêreld met 'n keisersnee binnegekom, knap drie weke ná die verskyning van haar ma se tweede digbundel, Kinderlê, waarin temas soos kinders, moederskap, swangerskapverlies, kindermoord, erotiek en geestesgesondheid onder die vergrootglas is.

In Hadison Park wag Lynthia, uitgevat in 'n bont kaftan, by 'n skuifhek wat lei na 'n stegie wat eindig in die vuurhoutjieboks-huurhuis waar sy onlangs ingetrek het en "net drie bankietjies" kan inpas. Sy sit boonop met 'n diep lus vir wortelkoek - en nee, verseker sy jou, 'n swanger vrou maak nooit grappe oor wortelkoek nie.

"26 Maart is eers oor twéé weke - nóg twéé-héé weke!" groet sy. "Weet jy hoe lank is twee weke as jy soos 'n walvis lyk en heeltyd toilet toe moet gaan? Ek sukkel, man, ek's evil, baie evil . . . met die swangerskap moes ek mos die psych-medikasie los, so nou moet ou Lynthia cope met die Panado-weergawe."

Die hitte dryf die gesprek oombliklik by die kombuisdeur uit tot in die klein binnehof waar 'n mens jou 'n trek kan verbeel.

"Aria se pa - ons was eers vriende gewees, toe begin ons date in 2022 - wou eerste die naam Eugenia gee, toe sê ek nee-nee-nee! In 2024? Met so 'n ouma-naam gaan die arme kjeent mos gekoggel word op skool."

Sy laat waai met haar aansteeklike lag wat op dié benoude Maandagmôre soos 'n koortjie deur die gesprek loop. "Ek dink sy gaan 'n voorbarige kind wees, want sy het dan déúr die voorbehoed gekom! My ma - o, daai vrou is snaaks! - sy't mos vir Eugene gesê julle van die Weskus is net 'n spul druiwetrappers en visvreters, dis wat julle so vrugbaar maak!"

Moederskap is seker die hoofstuk waarvoor ek die heel, heel bangste is.

Sy lag, vat eers weer 'n groot sluk water uit 'n bottel waarin die ysblokkies rinkel: "Nee, man, wie droom nou daaroor om 'n ma wees! Ek is die cool, rich aunt - my suster noem my glad Katriena Geldgat! Ek issie die ma nie, ek gee die kinders terug vir hulle se mense. Ma-wees was nog nooit op my lysie nie, maar ek het 'n ding agtergekom: Goed wat ek jare terug geskryf het, word later waar, so ek moet versigtig wees wat ek skryf.

"Ek moes byvoorbeeld al 'n kortverhaal geskryf het oor 'n vrou wat 'n beurs ontvang, maar sy is eensaam.

"Toe kry ek die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs, en vir 'n tyd kort daarna het ek verskriklik eensaam gevoel en gedink: Oe, jou woorde is 'n gevaar, jy moenie goed uitspreek nie.

"Moederskap is seker die hoofstuk waarvoor ek die heel, heel bangste is," sê sy. "Ek was eens op 'n tyd die grootste aanhanger van Philip Larkin se gedig ‘This Be The Verse' . . . ‘They fuck you up, your mum and dad. / They may not mean to, but they do. / They fill you with the faults they had / And add some extra, just for you' . . . en dan eindig hy met ‘Get out as early as you can, / And don't have any kids yourself.' Daai gedig was ék, Lynthia gaan nooit kinders hê nie, en hier kom Aria nou oor my pad . . .

"As jy swanger is, begin jy anders dink oor die lewe, dis asof jy so half uit die bloute meer empatie het met jou eie ma, want jy besef nou foute met kinders is regtig iets ánders. Ek kan 'n sleg boek skryf, resensente kan my uitmekaar uit skeur en ek kan oor dit kom, maar as jy 'n kind opmors . . . Hoe sê Fiela: God vergewe ons baie, maar hy vergewe ons nie die kwaad wat ons 'n kind aandoen nie."

Anthea, 'n verpleegkundige (tans by die Matjieskloof-kliniek 6 km buite Springbok), en Jules "Franklin" Julius het hulle drie kinders streng grootgemaak in die militêre basis Diskobolos, waar Jules gewerk het tot met sy aftrede verlede jaar.

Lynthia se jonger suster, Sisca, wat ook skryf, en haar broer, Carl, is albei onderwysers in Kimberley en albei besig met 'n meestersgraad in onderskeidelik leksikografie en sosiolinguistiek.

Haar ma het vir hulle gedigte opgesê en gelees, sê Lynthia, terwyl haar pa weer "verskriklik erg is op hoe Afrikaans in die huis gepraat word".

"Jy mag glad nie Kimberley-sleng in die huis gebruik nie, soos . . . in Kimberley sê hulle mos nie ‘syne' nie, hulle sê ‘homne'; hulle sê nie ‘ek weet nie', hulle sê ‘ek ken nie'; dis nie ‘goeters' of ‘goed' nie, dis ‘daai spanne'. My pa het ook 'n broertjie dood aan ‘ek doen' - jy kan uit die huis uitgesit word daarvoor!

"Ek is baie streng grootgemaak, en ek weet ek gaan ook 'n streng ma wees. Ek sien dit met kinders, hoe ek met kinders is, ook met my suster se kjeend, Cairo.

Lynthia, hierdie kind gaan jou leer wat weerloosheid is . . .

"Ek dink dis omdat ek van 'n soldaat grootgemaak is. Jy kan nie agt minute oor ses by die huis kom as die curfew 18:00 is nie; jy sal buite bly tot môreoggend. Maar ek sien ook deur die strengheid weet ek nou hoe om met 'n grootmens te praat, ek weet hoe om respek te hê vir iemand ouer as ek, ek weet hoe om dankie en nee dankie te sê. Party mense se bundles of joy is net te evil, hulle het geen maniere nie, hulle spring teen alles op, hulle gooi jou met goed en die ma's dink dis snaaks. Dit gaan nie fly by my nie.

"Ek dink nie ek gaan so militant soos my pa wees nie - hy was nou iets anders - maar ek weet ek gaan 'n streng ma wees. Jy kan nie nié streng wees nie, want dan eindig jy met 'n spoiled brat, en 'n ding wat bederf is, moet weggegooi word."

Sy lag. "Klink dit bietjie cruel? Anderdag sê prof. Johann Rossouw vir my 'n baie mooi ding: Lynthia, hierdie kind gaan jou leer wat weerloosheid is . . .

"In alle eerlikheid weet ek nie hoekom ek nou 'n kjeent loop kry as ek 'n roman moet skryf nie, maar die lewe werk altyd anders uit as wat jy dit beplan. Natuurlik het ek 'n beurs gekry vir die roman, en daar is soveel ander mense wat dit ook verdien het, maar hulle het vir jou gekies, so jy kan nie teleurstel nie. Maar ek gaan nie lieg nie: Ek is bitter bang om die roman aan te vat, en ek raak nóg banger soos ek nou Triomf van Marlene van Niekerk en Steven Pinker se The Sense of Style: The Thinking Person's Guide to Writing in the 21st Century lees."

Vir dié voorgenome roman oor 'n Nama-medisyneman, voorlopig getitel Outa Willem Dik-aantrek, sit sy drie jaar opsy.

"Ek is 'n stadige skrywer, ek weet waartoe ek in staat is. Dis hoekom ek my PhD-graad in kortverhale by Tukkies vir vanjaar op ys gesit het. Ek kan eenvoudig nie 'n roman skryf, met 'n baba sit én 'n doktorsgraad doen nie. Maar volgende jaar spring ek in, die kjeent moet opgepas word van mense hier, van anties en goed, want ek wil baie graag 'n doktor word, ek wil eendag skryfkuns aanbied, dis die groot droom."

Outa Willem Dik-aantrek is gebore uit 'n kortverhaal wat sy lank gelede geskryf het.

"Ek het nie gedink die kortverhaal is enigsins goed nie, maar eendag stuur ek dit vir dr. Francois Smith en hy sê ek moenie die ding weggooi nie . . . ek het naderhand self begin dink dié karakter kan mee gewerk word. Een aand kuier ek by Eugene in Pretoria en kyk na van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans se video's op YouTube en hoor van die Nama-mense en hulle gebruike oor plante en babas en besef weer, soos in my gedig ‘Kokerboom', hoe ver ek van my gronde af is. Toe weet ek daai outa Willem Dik-aantrek moet daar vasgeskryf word in Namakwaland, en dis ek wat vir hom moet lewe gee.

"Omdat outa Willem se vrou van die Richtersveld af kom, bel ek gereeld my ouma se suster antie Dassie van Port Nolloth wat saam met my ouma in die Richtersveld grootgeword het. Ek hang aan haar lippe as sy my vertel wat was daai jare geëet, hoe het die skerm gelyk, wat was geplant, hoe die klere gelyk het wat hulle gedra het, of hoe met 'n Nama-vrou gemaak is wat 'n baba gehad het.

"Die netvet was gekou en op die kind se nael gesit, en as jy met jou baba by 'n nuwe huis inkom, moet jy by die stoep of die ingang eers stof op jou vinger sit en teen die kind se voorkop vryf sodat die kind nie huil in die vreemde plek nie.

"Eerste vat jy sulke stories nie kop toe nie, jy dink: Ag, dis ou goed, dis niks nie, en nou besef ek hoe kosbaar dit is as antie Dassie met my gesels. Sy is honger om te vertel, want ek dink nie die jong mense in ons familie stel belang in sulke goed nie."

Lynthia Julius
Lynthia Julius

Die oorspronlike titel van haar pasverskene tweede digbundel, Kinderlê, wat sy as deel van haar meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi het, was Klipkont, Gariepafrikaans vir hardkoppig, hardegat of vernuftig. Dit word steeds as titel van een van die afdelings gebruik, "maar soos my vriend en klasmaat Natie gewaarsku het, was daai bundeltitel uiteindelik 'n bietjie moeilik om te verkoop en ook nie iets wat mense maklik op radio of TV sou sê nie".

"Ek het met hom gestry, maar Natie het toe glad nie te kwaai gelieg nie."

Haar twee dosente, prof. Henning Pieterse en dr. Francois Smith, "is baie kwaai, al lyk hulle so chris, hulle is nie mense by wie jy met nonsens kan aankom nie, maar hierdie benadering het gewerk vir my, want ek is 'n lat-donkie, ek's nie 'n wortel-donkie nie".

"Moenie vir my sê hoe gorgeous is my goed nie, want ek gaan niks by jou leer nie. Sê vir my wat nie werk nie.

"Wat ek altyd sal onthou van Kinderlê, is hoe ek grootgeraak het in die skryf daarvan en my kuns ernstiger begin opneem het. Met Uit die kroes was dit . . . aag, hier drink ek 'n biertjie, hier skryf ek 'n gedig, hier laat waai ek, maar met Kinderlê het ek besef ek wil skryf vir 'n lewe, so dié's my werk, en toe begin neem ek dit op soos . . . ek wil nie sê 'n wérk nie, maar ek het ernstiger begin word oor die poësie."

Maar die roman is 'n ander storie.

"Dialoog kom maklik, maar tussen daai dialoog moet handeling wees, jy moet suggestie gebruik, niks kan toevallig wees nie; daai goed maak 'n bietjie bang, man.

"Ek kan ook nie net gaan sit en skryf nie. Ek moet vir myself sê: Jy gaan môreoggend gaan sit en skryf. Ek's te chris partykeer, so ek moet myself force. Alles is gedwonge met my, anders kom die goed nie klaar nie. Ek's ook meer een vir die oggende, dit moet stil wees."

Sy lag en sê hopelik huil Aria nie so baie soos toe sy 'n kind was nie, want Lynthia het baie van tjank gehou! En lag.

"Die lag is deel van ons kultuur, veral in die familie waaruit ek vandaan kom.

"My suster se seuntjie, Cairo, die liefde van my lewe, het eendag een van hierdie BB-staal-guns in my handsak weggesteek, en toe ek op die Kaapse lughawe kom, toe's dit 'n moerse ding met die gun in die sak. Hulle roep die security. Ek's angstig en ek bewe en ek sweet en ek begin dink ek kry 'n panic attack, so ek bel my ma, en daar lag almal en ek's die grap vir 'n week lank oor 'n gun wat ek nie in my sak gesit het nie.

"Hulle het my 'n 8-en-8 begin noem oor ek nou glo 'n 28's-gangster is wat uit die tronk in die Kaap kom. Is maar net hoe ons bestaan; jy maak grappe van alles wat gebeur het, want dis hoe jy deur dit kom. Ek het geleer om dit my super power te maak, maar Sisca sê vir my, as ek die dag te snaaks is: ‘Jy is weer hartseer, nè?' "

1 Gepubliseerdiërs 13

Al herskryf ek Tristia

en studeer filosofie,

is ek net bruin metaal,

'n klinkende identiteitsimbaal.

Al ontleed ek oupa wat ry

op 'n fark,

is ek bruin grond.

Al deel ek my hartseer,

maar skryf in my´ wêreld se Afrikaans,

is ek nog steeds net 'n bruin digter.

Al gee ek gestalte aan my Dasein,

maar ek skryf nie soos hulle nie,

is ek 'n bruin teef wat blaf.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM