Motors is in Marnus se bloed

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Marnus Hattingh het onlangs van sy wedervaringe en van die vreugdes en uitdagings in die motorjoernalistiek met die lede van 'n Bloemfonteinse motorklub gedeel. én na hul eie stories geluister, berig Gert Coetzee.

Van Zyl van Pletsen en Marnus Hattingh by Van Pletsen se Mercedes-Benz 190 C van 1963 met die oorspronklike Duitse nommerplaat. Foto: Gert Coetzee
Van Zyl van Pletsen en Marnus Hattingh by Van Pletsen se Mercedes-Benz 190 C van 1963 met die oorspronklike Duitse nommerplaat. Foto: Gert Coetzee

'n Groot en luukse model Mercedes-Benz van die rapper Puff Daddy, oftewel Sean Combs wat hy van Amerika na die vervaardiger in Duitsland teruggestuur het sodat 'n groter bekerhouer vir sy Starbucks-koffie ingesit kan word.

Nog Mercedes-Benze waarvan spesiale materiaal, wat pas by die persoonlike smaak van Arabiese kopers se vroue, in die stoffering ingewerk moet word.

Dít is onder die uitsonderlike motors wat Marnus Hattingh, motorredakteur van Netwerk24, Volksblad, Die Burger en Beeld, eerstehands gedurende sy loopbaan van 25 jaar in die motorjoernalistiek beleef het.

Hattingh het as spreker by die Mercedes-Benz-klub van Suid-Afrika se sentrale streek in Bloemfontein die lede oor sy belewenisse as motorjoernalis vertel en van uitsonderlike oomblikke wat hy onthou.

Die motors van Puff Daddy - met die ekstragrootte-beker as voorbeeld daarby - en die sjeiks het hy gesien tydens 'n besoek aan die motorfabriek in Duitsland toe joernaliste toegelaat is op die werkvloer waar versoeke van kliënte uitgevoer word.

Nog 'n besondere "byvoordeel" is om persoonlik te kan gesels met die ingenieurs wat spesifieke motormodelle ontwerp het. Een ontwerper het op versoek dadelik 'n skets ge­teken om die denkwyse agter­ die ontwerp te verduidelik. Dié stukkie papier bêre Hattingh as 'n kleinood.

As hy een voertuig van al die jare móét uitsonder, is dit 'n Geländewagen, bekend as die G-Wagen, van Mercedes-Benz met ses wiele wat motorskrywers tydens hul besoek aan Graz, Oostenryk, van 'n afstand kon beskou terwyl dit toetsritte in die veld onderneem het.

Nóg 'n voorreg van sy beroep is die geleentheid om motors te kan toets­bestuur. Hy het na raming al sowat 1 200 modelle getoets en oor berig.

Hattingh het aan die klublede benadruk dat die aanwysing van die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar nie 'n lukrake proses is nie. Elk van die 28 beoordelaars in die keurpaneel woon die toetsproses van drie dae by die Zwartkop-renbaan in Pretoria by. "Elkeen bestuur al die motors (vanjaar is daar 18 kandidate). Daar is 'n uitgebreide merklys oor alle fasette, van voorkoms en afwerking tot toerusting en tegniese detail, wat almal moet voltooi."

Hattingh geniet die skryf- en taal-elemente van motorverslaggewing.

"Dit verg 'n balanseertoer om 'n berig lekker leesbaar te maak en dat dit terselfdertyd die tegniese detail bevat. Dit moet soos 'n storie lees."

Dit is die motorskrywer se plig om lesers volledig op die hoogte te hou, ook as daar gebreke is. Oordeel en keurige beriggewing kry voorrang. Hy het een keer geskryf dat dit soos " 'n leë koekblik klink" as 'n gesogte model se deur toegeslaan word. Daar was reperkussies.

Verskeidenheid is ook belangrik, sodat oor motors vir alle smake en doeleindes en van verskillende prysklasse berig word.

Die motorskrywer berig onafhanklik, maar nie los nie van die ketting van motorvervaardigers, handelaars en die redaksio­nele advertensiespan.

Geskoolde motorjoernaliste, ook in Afrikaans, raak ál minder. Betaalde smaakmakers (influencers) wat hul getal volgelinge en clicks vir bemarking inspan, speel toenemend 'n rol.

Hattingh by 'n outomatiese Mercedes-Benz 280 S van 1974, W116-reeks, in Jaco en Annalie Kachelhoffer se Benz Barn.Foto: GERT COETZEE
Hattingh by 'n outomatiese Mercedes-Benz 280 S van 1974, W116-reeks, in Jaco en Annalie Kachelhoffer se Benz Barn.Foto: GERT COETZEE

Ingevoerde vuurwa

Klublede het ook oor hul motors en wedervaringe vertel. Van Zyl van Pletsen van Bloemfontein het Hattingh trots sy Mercedes-Benz 190 C van 1963 gewys waarvan hy die tweede eienaar is.

Van Pletsen se latere skoonpa, Ben Strydom, het daardie jaar sy termyn van drie jaar as wetenskaplike navorser voltooi in Wisconsin, Amerika, waar hy sy doktorsgraad in biologiese stikstofbinding behaal het.

Strydom het deur die Suid-Afrikaanse agent HAAK sy droommotor van die Mercedes-Benz-fabriek in Sindelfingen, Duitsland, bestel en gereël om dit self daar in ontvangs te neem.

Dit was die einste blou 190 C van die W 111-reeks met 'n 1897 cc-viersilinder-enjin, 'n regterhandstuur en 'n grys banksitplek voor.

Suid-Afrika het destyds nie invoerbelasting gehef op voertuie ouer as twee maande nie. Strydom het dus besluit dat hulle ná ontvangs van die motor eers twee maande in Europa sou toer.

Hulle is per boot van Amerika na Europa. By Sindel­fingen het die Fintail (of Heckflosse van die vlerkies) met 'n vol tenk brand­stof gestaan en wag.

Ná hul Europese reis is hulle op die Union Castle na Suid-Afrika met die motor ook aan boord van die skip.

By hul aankoms in Kaapstad is Strydom verwittig invoerregulasies is twee dae tevore gewysig. Belasting van 100% is gehef, wat die motor se prys laat verdubbel het - van R1 800 tot R3 600!

Namate die vier dogters groter en die motor ouer geword het, was hulle te skaam om daarin gesien te word. Van 1982 is dit twee jaar lank as 'n studentemotor in Kaapstad gebruik, het Van Pletsen vertel.

Hy het die motor die eerste keer gesien nadat hy Betsie, sy toekomstige vrou, in 1989 ontmoet het. Die motor was in onbruik.

Hy het aan Betsie se pa gesê dit kan nie net staan nie, maar moet gery word. Hulle het begin om een keer per maand met die motor te ry.

Nadat Van Zyl en Betsie in 1994 getroud is, het hy begin om herstelwerk aan die motor te doen. In Junie 2000 het "pa Ben" hom van Pretoria gebel en gesê hy moet die Benz kom haal, dit is nou syne!

Die reistrommel (trunk) wat Strydom in Wisconsin gekoop het, is steeds in die bagasiebak.

Die motor het in 2022 die tweede plek in die Fintail-klas op Mercedes-Benz se nasionale Concours behaal.

Die Mercedes-Benz-klub in die sentrale streek het lede in Bloemfontein, Vaalharts, Upington en Frankfort. Die motorgesprek met Hattingh is gehou in Jaco en Annalie Kachelhoffer se Benz Barn in Bainsvlei.

Hattingh het die kans waardeer om met motormense - en lesers - te kon kuier. Hul geesdrif het hom beïndruk.

Hattingh, 'n oud-Kovsie wat eers 'n predikant wou word, het ook 'n honneursgraad in die joernalistiek aan Maties verwerf.

Hy is die skrywer van die roman Zanzibar Zen en van As die Bokke nie will cuddle nie, 'n gids om mans beter te verstaan.

As kranige drawwer het hy onlangs die Athene-marathon en die Kaapse Red Hill- en Peninsula-marathon voltooi.

  • .

SPELETJIES VANDAG

CTA