Die legendariese dramaturg Athol Fugard het in Desember 2012 aan Murray La Vita vertel hoe 'n belofte aan sy ma daartoe gelei het dat hy op 80 sy eerste Afrikaanse toneelstuk geskryf het.
Athol Fugard lyk soos 'n Karooboer. Hy dra jeans en 'n kakiehemp. In sy mond is 'n kromsteelpyp waarin hy Magaliesberg-twak gestop het.
Hier staan hy. Robuus en lewenslustig. Vurige oë. Kragtige stem.
Ons sit aanvanklik in die leefvertrek van die tuinwoonstel op Stellenbosch waar hy tans woon as deel van sy sabbatsverblyf by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias).
Op die tafel is 'n keramiekbak vol pype. Reg voor hom, binne maklike bereik, is 'n Tupperware-houer vol twak.
Athol praat oor Die Laaste Karretjiegraf, sy eerste toneelstuk in Afrikaans. Dit spruit uit 'n belofte aan sy ma.
"Sy was 'n Potgieter van Middelburg, Kaap. Ek was 'n jong man en het al 'n paar toneelstukke geskryf en sy was natuurlik trots, maar sy het eendag vir my gesê: ‘Athol, ek het vir jou 'n goeie idee vir 'n toneelstuk.'
"Sy het vir my vertel van 'n geleentheid toe sy 'n jong dogtertjie was op Middelburg. Sy was buite die dorp; sy het vir iemand gaan kuier. Toe sy terugstap langs die hoofpad was daar 'n karretjie uitgespan. Onder die karretjie was 'n vrou besig om die lewe te skenk aan 'n kind. En my ma was die enigste een wat naby was en sy het toe die vrou gehelp.
"Sy het vir my gesê: ‘Is dit nie 'n wonderlike toneel nie, Athol? Kan jy nie daaroor skryf nie? Maar jy moet dit doen in Afrikaans, asseblief.' En ek het daai storietjie onthou. En noudat ek 80 jaar oud is, weet ek skielik die tyd raak nou min; ek moet daardie belofte nakom."
Karretjiemense
Hy het op die internet begin soek na inligting oor die karretjiemense.
"Die eerste ding wat ek gevind het, was die wonderlike doktorstesis van die Bloemfonteinse antropoloog Adriana Steyn, wat nou saam met my werk aan die stuk."
Hy het aan haar geskryf en gevra of hy aan haar 'n paar vrae mag stel.
"Sy was net ongelooflik vrygewig. Sy het ál haar inligting vir my gegee, al haar foto's; en só het dit begin."
Vir Athol moet daar altyd in sy toneelstukke 'n geheim wees.
"Ja, geheime het my nog altyd gemotiveer. Selfs wanneer jy 'n toneelstuk skryf - jy moet hom binne jou bêre soos 'n geheim! Jy kan nie jou baba uit jou baarmoeder haal en sê ‘Kyk hier!' nie. Jy moet níks daaroor sê nie."
Die gehoor word vir hom 'n karakter in 'n opvoering.
"As ek as speler op 'n verhoog uitstap om my rol te speel . . . my eerste, éérste gevoelens is om die pérsoonlikheid te verander met élke gehoor en ek moet onmiddellik my spel in 'n sekere mate . . . Jy weet soos wat jy 'n kitaar instel om die regte pitch te kry . . . Gaan hulle lag? Gaan hulle die grappe vang? Is hulle ernstig? Stel hulle glád nie belang nie? Here, dán sukkel jy, hoor!
"Dit gebeur dikwels. Veral in die buiteland waar hulle niks verstaan nie van Suid-Afrika en sy mense. Maar aan die ander kant het ek ook van die wónderlikste ervarings gehad met oorsese gehore. Met The Blood Knot dié keer in New York - wát weet die mense van Korsten-lokasie daar in Port Elizabeth? Hulle weet níks, man!"
Volgende jaar is Athol self weer op die verhoog (waarskynlik in New York) as dominee Marius Byleveld in The Road to Mecca. En teenoor hom speel twee ander groot akteurs - Vanessa Redgrave en Maggie Gyllenhaal. Liv Ullmann is die regisseur.
"Dis groot sterre, man! Ek is poepbang."
Athol en sy vrou, Sheila Meiring, woon die laaste jare in San Diego. Hul dogter, Lisa Fugard, en haar seun, Gavyn, woon ook daar.
Amerika?
Het hy dit nog nie oorweeg om oor Amerika te skryf nie?

"Nee, man! Luister, ek kan op 'n hoek staan in Port Elizabeth of in Middelburg, Kaap. Ek kan daar staan en net na die mense kyk wat by my verbyloop. En ek kán in 'n sekere mate 'n storie maak uit enigiemand wat ek sien. Maar as ek op 'n sypaadjie in New York staan, kan ek nie die mense léés nie. Ek kán hulle nie lees nie; hulle is vreemdelinge. Hulle is nie my mense nie."
Ons gaan sit buite in die tuin onder 'n boom. Athol vertel van 'n toneelstuk wat hy vir die negejarige Gavyn geskryf het: The Shadow of the Hummingbird.
"Dit is oor my en my kleinseun. Dit het baie eenvoudig begin. Ek het eendag in San Diego in my stoel gesit en skryf. Om die hoek van die huis, buite my sig, het 'n bottel gehang waaruit die kolibries (hummingbirds) suikerwater drink. Skielik het iets my oog gevang; 'n fladderende skaduwee teen die muur.
"Vir 'n oomblik was ek nie seker wat dit is nie. En toe besef ek dit is die skaduwee van 'n kolibrie by die bottel. Die son was nét op die regte plek om daardie skaduwee op die muur te laat val. Dit was vir my so pragtig; só pragtig."
En nou, onwaarskynlik soos dit kan klink, sien ek 'n donsveertjie op Athol se kakiehemp. Dit moes van een van die voëls (wat ons kan hoor) afgeval het en teen sy bors (bo-op sy hart) gaan lê het.
"En toe skryf ek die stuk. Daar is 'n ou man in 'n stoel. Daar is 'n muur. En daar is 'n seuntjie wat nou en dan vir sy oupa kom kuier. Hulle speel speletjies. Maar die ding wat die ou man veral fassineer, is die skaduwee wat teen die muur verskyn. Dit is 'n stuk oor liefde. Oor die krag van liefde."
André Huguenet
Ons praat oor sy vriendskap met wyle André Huguenet, die groot akteur van 'n vorige era. Hul verhouding het as inspirasie vir sy toneelstuk Exits and Entrances gedien.
" 'n Groot naam daai in my lewe! Ek het hom ontmoet toe hy my in 'n rol in Oedipus Rex in die Labia in Kaapstad gesit het. Ek was ook sy dresser. Ons het baie goeie vriende geword; báie goeie vriende.
"Hy kon nooit verstaan waarom ek oor die ‘lelike dinge in die wêreld' wou skryf nie. Dis hoe hy dit gestel het. Hy het gevra: ‘Waarom wil jy oor hierdie gemórs skryf? Die gemors van die lokasies! In hemelsnaam, man! Mense wil vermaak word; hulle wil lág! Hulle wil prágtige dinge op die verhoog sien! Of 'n gróót vertoning.' Hier het hy aan homself as Hamlet of Oedipus, of wat ook al, gedink."
Baie jare het verbygegaan.
"En eendag het ek besef André het verdwyn. Hy was vergete. Weet jy wat was André Huguenet besig om te doen? Hy was besig om bioskoopkaartjies te skeur in Boksburg of Germiston of Benoni iewers, ek vergeet nou waar dit was. Ek onthou die teater se naam was die Roxy. Hy was die portier. Hy was die portiér! Kan jy dit glo?
"Maar gelukkig vir my en vir André het 'n man in die nasionale teater wat 'n stuk met die naam The Prisoner wou doen, aan André gedink.
"Hulle het toe uitgevind waar hy is. Here, man, sy swart pak het geblink so oud was dit. Sy patent leather-skoene was skeefgetrap. Hulle het hom sover gekry om hierdie rol te speel van die Katolieke kardinaal wat 'n groot probleem met liefde het.
"En dis waar ek hom weer, aan die einde van sy lewe, ontmoet het. Hulle het die stuk na Port Elizabeth gebring. Ek het een aand gaan kyk. Ná die tyd het ek hom in sy kleedkamer gaan groet. Hy was baie bly om my te sien.
"Ons het gepraat en gepraat. Hy was vir 'n week in Port Elizabeth. Ek het 'n tweede keer na die stuk gaan kyk en ons het ná die tyd weer in sy kleedkamer gesels. Toe is hy terug na sy ou hotel toe - die Phoenix. Dít was André se lewe: 'n tas met 'n bottel brandewyn en 'n onderbroek in. Dit was sy lewe, man."
'n Dop brandewyn
Athol het hom nog een keer besoek.

"Dit was op die laaste aand van die toer. Ek het na sy kleedkamer gegaan. Ek dink hy het daardie aand vir my probeer sê dit is die einde van sy lewe. Wat ek nooit sal vergeet nie, is hoe hy daar in 'n stoel gesit het waarvan die stoffering besig was om uit te peul. Hy was net in sy onderbroek met sy boepensie wat uitsteek en 'n dop brandewyn in sy hand.
"Ons het oor Shakespeare gepraat en die groot rolle wat hy vertolk het. Toe sê hy: ‘O, die een waarvan ek die meeste gehou het, was Hamlet! En toe, met so 'n sardóniese, brutále realisme ten opsigte van sy eie lewe, sê hy: ‘To be or not to be . . . Is it worth going on André Huguenet as you are . . . do you still want to live? . . . Ay, there's the rub . . .'
"Hy het net daar gesit en hierdie woorde van Hamlet geuiter soos wat dit nog nóóit voorheen gedoen is nie. Hy het daardie aand in die Opera House in Port Elizabeth vir my 'n vertoning gegee wat ek nooit vergeet het nie.
"En ek het toe gegaan en Exits and Entrances gaan skryf. Aan die einde is 'n deel waarvan ek verál hou: Nadat André gepraat het, gaan die jong skrywer na sy lessenaar toe. En dan skryf hy in sy joernaal oor skaduwees."
Skaduwees.
"In The Hummingbird wag die ou man vir die voël se skaduwee om teen die muur te verskyn. Maar dan begin hy met sy eie skaduwee te speel. Hy praat daarmee. En dan kom die seuntjie daar aan en vra: ‘Wat doen jy, Oupa?' "
Stilte.
"Die beste van my sal jy in my toneelstukke kry. As hy as 'n jong man wil weet hoe sy oupa was, moet hy my toneelstukke lees."
Athol steek sy pyp, wat doodgegaan het, weer aan.
"Ek wil nie hê dit moet klink asof The Hummingbird my laaste toneelstuk is nie . . . Vir my is dit nog nie verby nie."





















