Proust met Barnard Beukman

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Barnard Beukman is die redakteur van Beeld.

Barnard Beukman
Barnard Beukman

Wat is jou grootste prestasie tot dusver­?

Dat ek in die koerantredaksies van Oosterlig, Die Burger, Rapport en Beeld verduur is. En uiteindelik min of meer ook deur Beeld se lesersgemeenskap.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Omgeef deur vreedsaamheid en rustigheid met 'n glas goeie rooiwyn in die hand. Dit in enige goeie geselskap, dalk om 'n vuurtjie iewers of selfs voor 'n goeie TV-fliek.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Vir die eerste keer in etlike weke weer baie goed en energiek. In November is dit "korporatiewe aftreetyd" vir my, maar 'n aktiewe toekoms wink.

Wat is jou gunstelingberoep?

Om te skryf vir 'n werk.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My kinderalbum.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My gesin.

Wat is jou gunstelingreis?

Die Yosemite- nasionale park in Kalifornië en die Louvre-museum in Parys. Het albei nog net een keer beleef en sal graag in albei verdwaal.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Dat ek my swakhede ken en erken.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste­?

Vele kere op verskeie plekke.

Wat is die een ding waarvan jy die minste­ hou?

'n Koue stort.

Wat is jou grootste vrees?

Benewens rotte en dat Donald Trump weer kan wen, dat die wêreld verswelg gaan word deur opstandige en onkeerbare massas honger, reddelose mense omdat daar nie betyds volhoubare oplossings vir 'n menswaardige bestaan vir almal gekry word nie.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Wanneer 'n mens skuldig voel dat die glas rooiwyn dalk te duur is. Indien dit wel baie lekker smaak, kwyn die skuldgevoel vinnig.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Niemand nie. Soms word 'n mens wel amper daartoe gedryf deur ouens met borselkoppe en dik nekke in wit viertrekvoertuie. Hulle wat lang toue vragmotors op die snelweg verbygaan en dan verwag jy, in die aankomende verkeer, moet eenvoudig in die niet verdwyn.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Oor min, maar onder meer dat ons as Afrikaners nie vinniger, takties en slimmer beweeg het in die 1980's nie. Dit sou ons as 'n groep en die land dalk op 'n beter plek gelaat het.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om beter te kan skryf.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Kleinmond. Maar as die ou Transvaal eers in jou bloed is . . .

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Toestande waaraan miljoene onderworpe is in oorloë, vlugtelingkampe, armoede en gevolglike hongersnood.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Dat hy die jongste rugbyreëls ken en nie uit onkunde op die skeids­regter skreeu nie.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Grasie. Ook hoe hulle mans met kreatiwiteit en veeldoelige taakuitvoering oorbie.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste­?

Om geduld en ongeduld soms in die verkeerde scenario's uit te leef.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig­?

Wanneer mense oningeligte besluite neem en dan ewe verbaas is oor die rampspoedige gevolge.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Om tussen die lyne en selfs die onuitgesproke te kan snap en nie die hele tyd in kuiertyd politiek te wil praat nie.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Bond. James Bond.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Dit gaan werklik oor wat ek op 'n bepaalde tyd lus het om te lees, wat my op daardie tydstip interesseer en of dit op vakansie is. 'n Verskeidenheid.

Met watter geskiedkundige held identifiseer­ jy die maklikste?

Leonardo da Vinci.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Ronald Reagan, Margaret Thatcher en Nelson Mandela.

Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?

Sir Richard Attenborough.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Begaafdheid sonder die regte basiese inligting.

Wanneer vertel jy leuens?

Om enige tou waarin ek staan vinniger te laat beweeg.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

"Ek het mos gesê," veral die laaste paar weke.

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Om ook soms, veral op 'n vakansiedag, te kan laat lê en nie net vroeg te wil opstaan nie.

Wat is jou gunstelingname?

Tans Karel Kat, die naam van ons wegloopkat uit 'n onwettige plakkerskamp naby Waterval Boven. Ongelooflike persoonlikheid.

Hoe sal jy graag wil sterf?

In blywende vrede met myself, my geliefdes en waarin ek glo.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

'n Reuse- Kaliforniese sequoiaboom, want hulle word tot 3000jaar oud.

Wat is jou motto?

Dag Hammarskjöld se opmerking: "Moet nooit ter wille van rus en vrede jou eie ervaring en oortuiging onbetuig laat nie."

SPELETJIES VANDAG

CTA