Profiele

Proust met Bonné de Bod

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Bonné de Bod is die aanbieder van Bewonder & bewaar met Bonné de Bod, Sondae om 20:00 op kykNET.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Dat die dokumentêre film Stroop 30internasionale pryse ontvang het en dat dit bewusmaking rondom die krisis­ van renosterstropery geskep het.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Wanneer ek iewers in 'n wildernis, op 'n berg of in die middel van die woestyn besig is om iets te verfilm.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Super-opgewonde! Oor 'n paar uur duik ek in die koue Kaapse waters om die groot Afrika-seewoud te ontdek saam met die span van die Oscar-bekroonde My Octopus Teacher.

Wat is jou gunstelingberoep?

Presies dit wat ek doen. Om die wonders van die natuur tot in mense se sitkamers te bring.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My familie.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

God en die natuur.

Wat is jou gunstelingreis?

Ek is ongelooflik geseënd om na wildernisse oor die wêreld heen te reis, maar ons eie Krugerwildtuin sal altyd my gunstelingplek op aarde bly.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Deursettingsvermoë. Ek gee nooit op nie.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Op 'n staptog saam met 'n wetenskaplike deur 'n skouspelagtige canyon in Patagonië op pad om 'n halsband om 'n wilde poema te sit. En onlangs saam met 'n navorser op soek na blaffende geitjies in die Namib-woestyn.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Admin.

Wat is jou grootste vrees?

Dat ek nie genoeg vir ons planeet en haar inwoners gedoen het nie.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Ek is nie 'n uitspattige mens nie, maar ek bestee nogal heelwat aan buitelugklere.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Ek is nie hier om te oordeel nie.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nie voortgegaan het met my ma se klavierlesse nie. Ek sou wat wou gee om vandag Tsjaikofski te kon speel.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Die vermoë van 'n topatleet. Op skool het ek gedink ek gaan eendag 'n goue medalje op die Olimpiese Spele in langafstand wen.

Waar sal jy die graagste wil bly?

In 'n houthut iewers in 'n afgeleë wildernis met net die basiese benodigdhede.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Mense sonder deernis.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Integriteit, eerlikheid en lojaliteit.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Integriteit, eerlikheid en lojaliteit.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ongeduld. Ek wil hê dinge moet vinnig gebeur. Maar soos hulle sê, goeie dinge kom na dié wat bereid is om te wag.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Wreedheid teenoor diere en bejaardes.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

As hulle my laat lag!

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Toe ek jonger was, was ek mal oor Jessica Fletcher in Murder, She Wrote­. Vandag sou ek sê Olivia Benson in Law & Order SVU.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Dalene Matthee, Jon Krakauer en Clive Cussler.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Debora in die Bybel.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Al die ongelooflike wildlewe-navorsers, wetenskaplikes en veeartse oor die wêreld heen.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Dr. Jane Goodall, omdat sy dapper genoeg was om te sê dat diere persoonlikhede het en omdat sy op 89 steeds meer as 300 dae van die jaar reis na geleenthede om mense met die natuur te verbind.

Wat dink jy is die mees onderskatte deug?

Oorspronklikheid. Ons is geneig om die meerderheid te volg.

Wanneer vertel jy leuens?

Wanneer die waarheid onnodig sal seermaak.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Wow!

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Om my gedagtes stil te maak.

Wat is jou gunstelingname?

Ek het nie eintlik gunstelingname nie. Dit is nie die naam wat 'n persoon maak nie, dit is die persoon wat die naam maak.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Vinnig en terwyl ek iewers besig is om te verfilm.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

Ons sterf net een keer en as jy in die hemel is, sal jy nie terugverlang na enigiets op aarde nie.

Wat is jou motto?

Kyk op, want dit is waar jou seëninge vandaan kom.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM