Proust met Charl du Plessis

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Charl du Plessis is 'n Suid-Afrikaanse klassieke en jazz-pianis wat ook gereeld in die buiteland optree.

Charl du Plessis
Charl du Plessis

Wat is jou grootste prestasie tot dusver­?

My uithouvermoë in 'n wêreld waar die kunste nie altyd 'n prioriteit is nie.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om alleen by my huis te wees en niks om af te handel nie.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Opgewonde. Ek vertrek vandag met 'n week vakansie by die see.

Wat is jou gunstelingberoep?

Ek dink dit moet wonderlik wees om die kaptein van 'n groot vliegtuig te wees. Vlieg het my nog altyd aangegryp.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My ore. Sonder die vermoë om te kan hoor sou musiek vir my ontoeganklik wees.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

Klaviere. Die instrumente. Verkieslik groot en nuut. Dit maak my altyd bly om 'n klavier te sien, daarop te speel of daaraan te werk.

Wat is jou gunstelingreis?

Enige plek waar ek al meermale was. Die gemak van bekendheid is vir my 'n groot gunsteling.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

My sin vir humor. Daar is altyd 'n grap of ironie of sarkasme om die dag in te kleur.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste­?

Toe ek vir die eerste keer op die verhoog van die Berlynse Filharmonie gespeel het met die jazz-legende Chick Corea.

Wat is die een ding waarvan jy die minste­ hou?

Slegte maniere.

Wat is jou grootste vrees?

Om alleen, arm en oud te wees.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Sjampanje en klaviere.

Watter lewende mens verag jy die meeste­?

Die een wat nie verkeersreëls nakom nie.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nie direk ná skool oorsee gaan woon het nie.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om alles te eet en geen gewig aan te sit nie.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Italië.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Wanneer mense nie besef daar is 'n beter manier om iets te doen nie.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Die waagmoed om vriendelik en saggeaard te wees.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Om onbeskaamd haar vroulikheid uit te straal.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste­?

Hoeveel tyd het ons? Kom ek volstaan met my ongeduld.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig­?

Die gebrek aan vriendelikheid.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Die samesyn en jare lange wedersydse lojaliteit.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

My ma.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Donna Leon, Richard Powers, Isabel Allende en sir Stephen Hough.

Met watter geskiedkundige held identifiseer­ jy die maklikste?

Victor Borge.

Wie is jou helde in die ware lewe?

My lewensmaat, Stefan (geduld), Nataniël­ (uithouvermoë) en Urs Bachmann (as die beste klaviertegnikus ter wêreld is hy enige pianis se droom/held).

Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?

Die pianis Martha Argerich

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Die strewe na aansien.

Wanneer vertel jy leuens?

Om mense se gevoelens te spaar

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

"Ek joke net."

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Ek sou 'n baie diep stem wou hê wanneer ek praat.

Wat is jou gunstelingname?

Octavia, Piotr (Russiese Peter) en Helen­.

Hoe sal jy graag wil sterf?

So skielik as moontlik.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

Ek sal wil terugkom as enige dier wat kan vlieg. Ek dink dit moet wonderlik wees!

Wat is jou motto?

Arbeid adel. Om aan iets te werk maak alles beter.

SPELETJIES VANDAG

CTA