Proust met Diaan Daniels

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Diaan Daniels is 'n modeontwerper en was ook te sien in die VIA-reeks Die bruid-boetiek.

Diaan Daniels
Diaan Daniels

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Twee TV-reekse op VIA en dat ek my ma se trourok vir haar kon maak.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Om gelukkig met jouself te wees, 'n werk te hê wat jou uitdaag en iemand te hê wat die lewe - goed en sleg - saam met jou kan ervaar. Ook om te kan voel jy beteken iets vir 'n vriend. Kortliks? Balans en selfliefde.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Dit was vir my baie moeilik toe my verhouding in Desember verbrokkel het, veral ook weens my angsversteuring. Maar gelukkig het ek vriende, familie en 'n werk waarvoor ek lief is.

Wat is jou gunstelingberoep?

My huidige beroep is my gunsteling, maar as ek 'n tweede een moet kies, sou dit balletdanser of 'n suksesvolle sjef gewees het.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My koffiemasjien en my nuwe lugbraaier.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My ouers en my troeteldiere (twee Franse boelhonde en twee Persiese katte). En my oorlede ouma, wat my ondersteun het en van kleins af geleer het om naaldwerk te doen.

Wat is jou gunstelingreis?

Thailand, 2022.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Lojaliteit.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

In die heel voorste ry by 'n Britney Spears-konsert in Londen in 2008.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Koekstruif en ligsinnige kletspraatjies.

Wat is jou grootste vrees?

Slange en dat ek 'n middelmatige lewe­ sal lei.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Tequila, om vriende te onthaal met aandete, en reis.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Niemand spesifiek nie. Ek unsub­scribe deesdae as daar sulke mense in my lewe inkom.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nie vroeër in my lewe lief was vir myself nie en dan ook dat ek nie vroeër al by die gimnasium aangesluit het nie.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om goed met syfers en administrasie te wees - dis vir my 'n groot uitdaging.

Waar sal jy die graagste wil bly?

In 'n elegante dakwoonstel in 'n mode-mekka soos Milaan, omring deur die kreatiewe geeste van die stad.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

As jy nie kreatiwiteit het nie en as jy nie empatie het nie.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Selfvertroue, styl en die vermoë om sy emosionele kant te deel.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Selfversekerheid en 'n vermoë om haarself te wees, ongeag haar roknommer.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Dat ek soms te streng met myself is, maar dit is net omdat ek weet ek kan soveel meer bereik.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Selfsug.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Hul eerlikheid, ondersteuning en vermoë om my geanker te hou.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Toe ek klein was, was dit Supergirl en "Die Swart Kat".

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Ek is lief vir Nataniël se kort stories. Die lewe kan soms te ernstig wees.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Cleopatra.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Behalwe my ouers, my kredietkaart!

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

In dié stadium is dit Cher (77). Haar boyfriend is 38?.?.?.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Hoop en selfbeheersing.

Wanneer vertel jy leuens?

Ek sal eerder sê ek gooi 'n lagie suiker oor die waarheid.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

"Jou heupe is in verhouding met die res van jou lyf."

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Om meer selfsugtig te wees met my tyd.

Wat is jou gunstelingname?

Xavier-Curtis - dis my middelnaam.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Laat ek eerder sê hoe ek graag nié wil sterf nie: verdrinking.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

Paris Hilton se hond

Wat is jou motto?

Jy het een naam, pas dit op. En wees die verskil.

SPELETJIES VANDAG

CTA