Henck Conrey is 'n vervaardiger, redigeerder en aanbieder van TV-programme soos Reno Race (SABC1), Vat jou goed en trek! (kykNET) en Dr. Nou(Via).

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Terugvoering wat ek ontvang van die mense wat ek op my TVprogramme help.
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
Om almal om my gelukkig en in 'n goeie spasie te sien.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
'n Hart wat oorloop van geluk, vrede en liefde.
Wat is jou gunstelingberoep?
Daar is baie hoedjies wat ek dra in my ondernemings, maar my hart kom altyd terug na storievertel.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My ouma se locket waarin sy altyd 'n foto van my en haar gehou het.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My werk. LOL.
Wat is jou gunstelingreis?
Enige goeie boek wat my laat dink en groei.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Leierskap.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Toe ek en my beste vriend 'n padreis oor Suid-Afrika heen aangedurf het.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Oneerlikheid.
Wat is jou grootste vrees?
Vlieg!
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Louis Vuitton.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Eckhart Tolle.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Ek is nie oor enigiets spyt nie, want alles gebeur om 'n rede en alles werk ten goede uit as jy werklik daaraan glo.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Om te kan eet en nie vet te word nie.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Waar ook al my mense is, daar is my huis.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Onverdraagsaamheid onder mense.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
As hy gemaklik is om emosie te wys.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Veerkragtigheid.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
My angstigheid.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
'n Gebrek aan deernis.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Hul eerlikheid.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Prince Charming.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Dalene Matthee en Abraham Verghese.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Erin Brockovich.
Wie is jou helde in die ware lewe?
My ouers, my vriende. Ek is geseën met mense wat my elke dag uitdaag om die beste weergawe van myself te wees.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Michelle Obama
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Dat tegnologie alles vinniger en vinniger laat gebeur.
Wanneer sal jy 'n leuen vertel?
Wanneer ek iemand se gevoelens probeer spaar, kan ek 'n wit leuentjie vertel.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Ek is baie opgewonde."
As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?
Minder ongeduldig wees!
Wat is jou gunstelingname?
Zeenon, Zsa Zsa, Zaskia.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Rustig in my slaap.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
My kat Zsa Zsa.
Wat is jou motto?
Doen dit nou!















