Proust met Jakkie Louw

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Jakkie Louw is 'n sanger en is volgende week in drie produksies te sien op die Aardklop-kunstefees.

Jakkie Louw
Jakkie Louw

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

'n Suksesvolle, geseënde loopbaan vir 26 jaar.

Wat is jou idee van perfekte geluk?

Ware geluk is familie- en vriende­gedrewe.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Gelukkig. Stres is my vyand. Besigheid my vriend.

Wat is jou gunstelingberoep?

Myne.

Wat is jou kosbaarste besitting?

My huis en kitare.

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My familie.

Wat is jou gunstelingreis?

Thailand toe saam met Anel.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Ek kan mense laat lag wat dit nodig het.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

Op my troudag en op die plaas as ek saam met my ouers kan Kersfees hou.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Mense wat swak maniere het.

Wat is jou grootste vrees?

Hoogtevrees.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

As ek wyn drink dan dans ek op my eie asof niemand kyk nie... maar almal­ kyk... ai.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Mense met swak maniere kry hier punte...

Waaroor is jy die meeste spyt?

Dat ek nie as jonger sanger meer opgestaan het vir myself en my musiek soos ek dit nou doen nie.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Om beter kitaar te kan speel.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Naby aan die see in Kaapstad. Iewers soos Kalkbaai.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Dat ek nie self weet of omgee oor wat 'n trefferliedjie is nie.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

Beskerm, voorsien, praat sag en dink hard.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

Wees lief, verstaan, beskerm, hoofmeisie met die kinders en lag heeltemal te veel.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek vat kritiek sleg en ook beledigings.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Mismoedigheid.

Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?

Hulle bel my as ek verjaar en maak my goed voel as ek iets behaal het.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Deadpool.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Jaco Jacobs, Robin Sharma, John C. Maxwell, Malcolm Gladwell en Stephen King.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?

Jesus.

Wie is jou helde in die ware lewe?

My pa, ds. Nico Louw.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Ek bewonder mense wat uit hul eie talente en besluite die lewe kon wen. Richard Branson, Elton John en ekself oor 15 jaar.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Om mense beter te los as wat jy hulle gekry het.

Wanneer vertel jy leuens?

Net as ek regtig moet. Soos nou.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Waarskynlik hierdie ene.

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Dat minder dinge waaraan ek niks kan doen nie, my pla.

Wat is jou gunstelingname?

Anel, Kara, Linke.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Gelukkig.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

Jakkie Louw die tweede.

Wat is jou motto?

Daar's baie amazing mense daar buite. As jy nie een kan vind nie... wees een.

SPELETJIES VANDAG

CTA