Jody Hendricks is 'n omroeper op RSG, tree op as gespreksleier en is 'n sakeman.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Ek het al baie vermag in my loopbaan in die media, maar het inCovid-19 op my eie onderneming begin fokus. Ek sou nooit kon dink dat ek eendag 'n suksesvolle sakeman sal wees nie. Ek en my suster bestuur tans vyf winkels tussen Johannesburg en Kaapstad en ons doelwit is om 10 voor die einde van 2025 te hê.
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
Om elke oggend op te staan en te doen waarvoor ek lief is en waarvoor ek 'n passie het.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
'n Bietjie gestres. Ek het tans baie projekte wat my aandag verg.
Wat is jou gunstelingberoep?
Entrepreneur.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My ouma se trouring wat sy op my 30ste verjaardag vir my gegee het.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My lewensmaat van die afgelope nege jaar, Cristal.
Wat is jou gunsteling-reisbestemming?
Hongkong. Ek was in 2017 daar en sal enige tyd weer teruggaan. Dit was een groot partytjie.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Veerkragtigheid. Ek gooi nie sommer maklik tou op nie.
Waar en wanneer is jy op jou gelukkigste?
Wanneer ek tyd deurbring saam met mense wat die beste vir my wil hê, en natuurlik met 'n lekker whisky met ys in die hand.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Mense wat voorgee en nie opreg is nie.
Wat is jou grootste vrees?
Dat mense wat na aan my is my te na sal kom of seermaak.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek het 'n horlosieversameling en van hulle was nogal duur. Ek het juis nou weer my oog op een, maar kan hom nog nie bekostig nie.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Daar is 'n hele paar, maar kom ons sê Donald Trump.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Dat ek oor tyd in die verkeerde mense belê het.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Ek sou graag wou dans. Maar ek het twee (groot) linkervoete en geen ritme nie.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Enige plek naby die see.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Dat mense nog nie die vermoë ontwikkel het om in vrede saam te leef nie.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Mans wat emosie kan wys.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Vroue wat vreesloos is.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek is baie ongeduldig, veral as ek nie in iets belangstel nie, dan gaan ek nie my tyd daarmee mors nie. Soms doen of sê ek dit op 'n manier wat mense aanstoot gee.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Rassisme. Jy het geen beheer oor jou velkleur nie, en dat ander mense op grond daarvan teen jou diskrimineer, is een van die domste dinge wat iemand kan doen.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Hulle bederf my baie, maar sal nie skroom om vir my te sê as ek iets verkeerd doen of sê nie.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Clark Kent, ook bekend as Superman.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Adam Small en Kirby van der Merwe.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Martin Luther King
Wie is jou helde in die ware lewe?
My ouma en oupa wat albei al oorlede is, en al die mense wat elke dag opstaan en 'n eerlike bestaan maak.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
My ma. Sy is al deur so baie in die lewe, maar het steeds net haarself gebly. Sy lewe absoluut vir haar kinders. Ons is baie dieselfde, maar verskil ook baie.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Wokeness. Dis mos deesdae die in-ding.
Wanneer vertel jy leuens?
As ek omring word deur mense wat ek nie vertrou nie.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Jody Hendricks vir RSG Sport."
As jy iets omtrent jouself kan verander, wat sal dit wees?
My gewig. Ek wil sowat 5kg voor die einde van die jaar verloor.
Wat is jou gunstelingname?
William en Louise: my oupa en ouma se name.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Vreedsaam, en ek wil nie weet wanneer dit gaan gebeur nie.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Arend. Dan sal ek die hele wêreld vol vlieg en dophou wat op die aarde gebeur.
Wat is jou motto?
"Wees die verandering wat jy in die wêreld wil sien." - Gandhi














