Proust met Karin Preller

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Karin Preller is 'n bekroonde beeldende kunstenaar van Johannesburg. Van haar werke is opgeneem in die versamelings van die Johannesburg-kunsgalery, Unisa, Absa, Sasol, die Pretoria-kunsmuseum en die Oliewenhuis-kunsmuseum.

Karin Preller.
Karin Preller.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?

Die PhD wat ek onlangs voltooi het. Of, ten minste, die uithouvermoë wat daarmee gepaard gegaan het.

Wat is jou idee van volmaakte geluk?

In hierdie stadium, 'n week of twee êrens ongerep in die Bosveld of by die see met die drie honde.

Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?

Oorwegend kalm?.?.?.

Wat is jou gunstelingberoep?

My eie, tans, 'n kunstenaar.

Wat is jou kosbaarste besitting?

Hoewel nie streng gesproke "besittings" nie, die honde; dit kan nie anders nie. Soveel honde is onlangs in inbrake gesteel. Alles is vervangbaar, hulle is nie!

Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?

My man, Johan.

Wat is jou gunstelingreis?

Met tente en saam met goeie vriende na Bo­tswa­na, die Kalahari, Namibië, Zimbabwe, Malawi en Mosambiek. En ek sou weer wou teruggaan na Madagaskar.

Wat is jou sterkste karaktereienskap?

Uithouvermoë.

Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?

In my ateljee in Melville, veral wanneer 'n skildery net werk.

Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?

Om 'n foto van myself geneem te kry vir enigiets, en vir vraelyste soos hierdie.

Wat is jou grootste vrees?

Om afhanklik te wees van ander.

Wat is jou grootste uitspattigheid?

Boeke koop. En kuns, wanneer ek kan.

Watter lewende mens verag jy die meeste?

Mense wat diere mishandel. En Jacob Zuma.

Waaroor is jy die meeste spyt?

Die waardevolle skildertyd wat ek verloor het deur 'n PhD te doen. En dat ek ophou tennis speel het.

Watter talent sou jy graag wou hê?

Die een wat ek het, maar dalk aangevul met 'n bietjie van die vermoëns van 'n Johannes Vermeer of Gerhard Richter.

Waar sal jy die graagste wil bly?

Net hier, in Melville, in Johannesburg.

Wat beskou jy as die grootste ellende?

Armoede, hongersnood.

Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?

'n Sin vir humor. Intelligensie.

Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?

'n Sin vir humor. Intelligensie.

Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?

Ek bekommer my te veel oor goed wat nooit gebeur nie.

Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?

Vooroordeel, en 'n gebrek aan empatie en medemenslikheid.

Wat waardeer jy die meeste omtrent jou vriende?

Lojaliteit, aanvaarding, en dat hulle bereid is om te luister.

Wie is jou grootste (fiktiewe) held?

Daar is nie een waaraan ek kan dink nie.

Wie is jou gunstelingskrywer(s)?

Dit verander na gelang van wat ek lees. Op die oomblik langs my bed is Ivan Vladislavic en S.J. Naudé. En Raymond Carver, Lydia Davis en Hilary­ Mantel se Giving Up the Ghost wat ek herlees, om verskeie redes.

Met watter geskiedkundige held identifiseer jy jou die maklikste?

Ek kan nie dink dat daar een figuur is met wie ek persoonlik identifiseer nie.

Wie is jou helde in die ware lewe?

Mense wat mishandelde diere red en rehabiliteer. En organisasies soos Gift of the Givers.

Watter lewende mens bewonder jy die meeste?

Johan, omdat hy my deur verskeie uitstallings en veral die doktorsgraad ondersteun het en staande gebly het.

Wat dink jy is die mees oorskatte deug?

Deugsaamheid self.

Wanneer vertel jy leuens?

Wanneer die waarheid iemand on­nodig sal seermaak.

Watter woord of frase gebruik jy te veel?

Good grief, of goeie genugtig.

As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?

Om meer kanse te waag, en my minder te bekommer oor alles.

Wat is jou gunstelingname?

Jack, Christiaan, Kate, Anna - eenvoudige, onsaamgestelde name.

Hoe sal jy graag wil sterf?

Skielik en vinnig.

As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?

Ek sou regtig nie graag wou terugkom nie. Maar 'n klip dalk.

Wat is jou motto?

Doen dit net. Alles sal regkom

SPELETJIES VANDAG

CTA