Karla Pretorius is 'n Protea- en Vrystaat-netbalspeler. Sy het ook etlike jare vir die Sunshine Coast Lightning-span in Australië gespeel. Sy is nou kaptein van die Vrystaat Crinums.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Baie mense sal dink dit was toe ek die prys vir mees waardevolle speler by die Netbal-Wêreldbeker in 2019 ontvang het, maar ek neig meer na die feit dat ek my 100ste netbaltoetswedstryd vir Suid-Afrika hier op tuisbodem gespeel het voor my familie en my dogtertjie.
Wat is jou idee van volmaakte geluk?
Tyd saam met my geliefdes.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Oor die algemeen 'n gevoel van tevredenheid en vergenoegdheid.
Wat is jou gunstelingberoep?
Om saam met mense in my gemeenskap te werk! Op die oomblik is dit om netbal te speel en netbal af te rig!
Wat is jou kosbaarste besitting?
My dagboek.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My geliefde man, Werner, en my dogtertjie.
Wat is jou gunstelingreis?
Enige reis op agterpaaie.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Positiwiteit.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Nou! Net hier saam my mense! Vir baie jare moes ek oorsee my beroep beoefen van voltyds netbal speel. Ongelukkig moes ek oorsee gaan om my droom uit te lewe. Dit was 'n besonderse geleentheid, voorreg en tyd in my lewe, maar om nou tuis te wees en saam my geliefdes te wees, maak my net so gelukkig.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Negatiwiteit.
Wat is jou grootste vrees?
Die dood van 'n geliefde.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Antiekwinkels en -ontdekkings.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Wladimir Poetin.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Dis vir my moeilik om aan iets te dink, so ek glo nie regtig iets nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Om 'n musiekinstrument te kan bespeel.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Ek bly nou waar ek die graagste wil bly! Lekker in my huisie in Bloemfontein!
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Armoede, geweld en korrupsie.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
Bedagsaamheid.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Bedagsaamheid.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek is soms te nuuskierig.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Onbedagsaamheid.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Hulle liefde en ondersteuning.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Morphle the Magic Pet of Mila.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Marita van der Vyver.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Emily Hobhouse.
Wie is jou helde in die ware lewe?
My ouers.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Wel, enigiemand wat slegte omstandighede oorkom en ander daardeur inspireer.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Ek weet nie!
Wanneer vertel jy leuens?
Net partykeer as ek iemand se gevoelens wil probeer spaar en hulle nie wil laat sleg voel nie. Byvoorbeeld as iemand laat is en my lank laat wag het, dan sê ek dalk "ek het ook nou net hier aangekom".
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
Die woord "verstaan" of frase "ek hoop dit maak sin".
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek wil nog hoër kan spring!
Wat is jou gunstelingname?
Kara Elisabet.
Hoe sal jy graag wil sterf?
In my slaap.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
'n Boom.
Wat is jou motto?
Lewe vir nou!



















