Mike Bolhuis is 'n private ondersoeker en TV-persoonlikheid.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Die feit dat ons vandag 'n verskil kan maak in Suid-Afrika in veiligheid en sekerheid.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Om te weet waar jy vandaan kom, wie jy is en waarheen jy gaan. Om vrede in jouself te hê, ongeag die omstandighede om jou.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
My gemoedstoestand wissel nie. Daar is altyd rustigheid en kalmte by my. Ek het vrede.
Wat is jou gunstelingberoep?
Die een waarin ek myself bevind - om misdaad te identifiseer, analiseer, ondersoek en op te los.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My gesin, my vrou en kinders - as 'n mens hulle as "besittings" kan beskou. Al my diere, van die skoothondjies tot by die flaminke. En my besigheid.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
"Wie" is God en dan my vrou, Carine, en almal aan haar verbonde (my kinders en familie). "Wat" is die natuur.
Wat is jou gunstelingreis?
Eilande, soos Koh Samet in Thailand, saam met familie. En berge op my eie.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
Ek dink leierskap, maar ek is wie ek is, ek gee nie voor om iets of iemand anders te wees nie.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Dit kan môre wees! Ek is altyd gelukkig, selfs harde tye maak my net bewus van die geluk wat ek reeds geniet het en nog gaan geniet.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Suid-Afrika se nasionale sport: skinder en k*kpraat.
Wat is jou grootste vrees?
Ek het geen vrese nie, eerder bekommernisse. My grootste bekommernisse is dat misdaad, siekte of leed die mense na aan my gaan raak.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek bestee dalk 'n bietjie te veel geld aan parfuum, maar ek hou van lekkerruikgoed.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Mense wat kinders, dames en bejaardes en diere leed aandoen.
Waaroor is jy die meeste spyt?
Dat ek nie almal kan help en alle misdaad kan verhoed nie.
Watter talent sou jy graag wou hê?
My talente is voldoende en genoeg, maar as ek moet kies, sal ek wil kitaar kan speel en mooi kan sing.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Net hier (die plot buite Pretoria). Ek is gelukkig hier waar ek al die natuur se geluide kan hoor.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
Armoede, onkunde en as mense geen verhouding met die Here het of wil hê nie.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
As 'n persoon totale deursigtigheid en eerlikheid het.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Dieselfde as vir mans.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Daar is nie so iets nie. Ek het van kleins af dieselfde karaktereienskappe en dit het net beter en groter geraak en dis reg so.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
Misdadigheid.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
Ek is weens die aard van my werk nie baie sosiaal nie. Ek het wel hegte familiebande en waardeer dat daardie verhoudings nie soos werk voel nie. Niemand verwag iets van my nie - ons geniet net mekaar se geselskap.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Ek het nie eintlik so iets nie. Ek kyk graag flieks soos John Wick want ek geniet dit as die boewe k*k, maar dis maar net vermaak.Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Ek lees net sake en artikels. Die laaste boeke wat ek gelees het, was in matriek en ek dink dit was Shakespeare.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Ek hou nie van vergelyking nie, ek sien myself as 'n original en uniek. As ek moet kies, is ek seker die Wolraad Woltemade-tipe wat die perd vat en in die see in ry om mense te red.
Wie is jou helde in die ware lewe?
Ek het nie helde nie. Ek kyk nie op na iemand of af na iemand nie. Ons is almal maar mens.
Watter lewende mens bewonder jy die meeste?
Ek sien nie enige persoon net in 'n lig van bewondering nie. Ek sien wel elke persoon se waarde, of dit nou die straatveër of die president is.
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Politieke korrektheid. Dit maak ons skynheilig - en word dikwels gedryf deur mense wat hang-ups het.
Wanneer vertel jy leuens?
Net om boewe te vang.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
Pasop vir skinder en k*kpraat.
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek wil niks verander nie, ek wil net alles wat ek reeds doen beter doen.
Wat is jou gunstelingname?
Ek like byname. Ons verwys na ons een hond as Banggat of Sugar en ek het my seun altyd Muis genoem.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Ek wil een aand gaan slaap en net nie wakker word nie. Rustig en kalm.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
Dit gaan nooit gebeur nie - jy gaan of hemel toe of jy gaan hel toe. Maar in 'n fiktiewe wêreld sal ek terugkom as wie en wat ek nou is en alles doen wat ek nie in my leeftyd kon doen nie.
Wat is jou motto?
"No drugs, no violence" vir my besigheid. My persoonlike motto is "Never give up" en my gesin se motto is "En ek en my huis - ons sal die Here dien".














