Tim Theron is 'n akteur en is van Dinsdag af op kykNET te sien in Plan B, 'n misdaadkomedie.

Wat is jou grootste prestasie tot dusver?
Dat ek pas op 'n buitelandse besoek klere en onderklere vir my vrou gekoop het en die groottes presies reg gekry het!
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Wanneer ek my kinders sien glimlag.
Wat is jou gemoedstoestand op die oomblik?
Opgewonde, gelukkig, met 'n stewige skoot gesonde frustrasie wat my dryf, en onderliggend melankolies, waarmee ek al lankal vrede gemaak het.
Wat is jou gunstelingberoep?
Akteur en vervaardiger. Ek lewe my droom.
Wat is jou kosbaarste besitting?
Ons boekversameling.
Wat of wie is die grootste liefde van jou lewe?
My vrou, omdat sy my elke dag kies, en my kinders, omdat hulle my bewus gemaak het van die mens se onbeskryflike kapasiteit om lief te hê.
Wat is jou gunstelingreis?
Die keer toe ek en Juanli New York besoek het.
Wat is jou sterkste karaktereienskap?
My dryf en deursettingsvermoë.
Waar en wanneer was jy op jou gelukkigste?
Met die geboorte van elk van my twee kinders.
Wat is die een ding waarvan jy die minste hou?
Mense wat deur hul besluite 'n direkte invloed het op ander se lewens en óf totaal onbekwaam is vir die verantwoordelikheid, óf te emosioneel onvolwasse is om die verantwoordelikheid te besef óf om te gee.
Wat is jou grootste vrees?
Om op te gee, om op te hou probeer. Om wakker te word en nie 'n rede te hê om op te staan nie.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Definitief reis.
Watter lewende mens verag jy die meeste?
Sê maar Wladimir Poetin, ek dink nie enige iemand hou van hom nie.
Waaroor is jy die meeste spyt?
My vrou sê ek moet sê die snor wat ek so 'n paar maande gelede probeer groei het.
Watter talent sou jy graag wou hê?
Ek sou ontsaglik graag beter wou kon sing en 'n musiekinstrument wou kon speel. En om goed genoeg te wees om vir die WP rugby te speel. As John Dobson die lees - ek dink nie dis al heeltemal te laat nie.
Waar sal jy die graagste wil bly?
Net hier in Stellenbosch waar ons bly. Maar 'n woonstelletjie in New York sou lekker wees.
Wat beskou jy as die grootste ellende?
'n Lewe sonder betekenis. En die feit dat mense nie meer deesdae moeilike gesprekke kan hê nie.
Van watter eienskap in 'n man hou jy die meeste?
'n Sin vir humor, standvastigheid, betroubaarheid, empatie, ambisie, 'n sterk selfbeeld, 'n sin vir regverdigheid en 'n skerp intellek.
Van watter eienskap in 'n vrou hou jy die meeste?
Dieselfde antwoord as vir mans.
Watter eienskap van jouself is die betreurenswaardigste?
Ek is nie altyd geduldig nie, en ek is al 'n keer of wat uitgevang dat ek lekker jammer vir myself gevoel het.
Watter eienskap in ander vind jy betreurenswaardig?
'n Tekort aan empatie, emosionele volwassenheid of vindingrykheid.
Wat waardeer jy die meeste van jou vriende?
My vriende is die mense by wie ek al die meeste kon leer oor menswees en oor ruimte en spasie skep vir ander.
Wie is jou grootste (fiktiewe) held?
Magnum. Hy was die motivering vir die tragiese snor.
Wie is jou gunstelingskrywer(s)?
Deon Meyer, Neal Asher, Terry Brooks, Lee Child, David Baldacci, Blake Crouch, Yuval Harari, C.S. Lewis en J.R.R. Tolkien.
Met watter geskiedkundige held identifiseer jy die maklikste?
Helde wat hul beste gee en goed wil doen, maar ook baie bewus is van hul foute en tekortkominge.
Wie is jou helde in die ware lewe?
My vrou wat nie net uitstekend is in haar eie werk nie, maar elke keer ook al die balle in die lug moet hou as ek weg van die huis af werk. My vennoot en vriend Cobus van den Berg, wat in my en my drome geglo het toe min ander mense het.
Watter lewendige mens bewonder jy die meeste?
Matthew McConaughey
Wat dink jy is die mees oorskatte deug?
Talent. Dis fantasties om te hê, maar gaan jou nêrens bring sonder harde werk en deursettingsvermoë nie.
Wanneer vertel jy leuens?
Wanneer ek onseker is van myself en bang is ek is nie goed genoeg nie. En toe ek onlangs in Londen was en vir die Engelse gesê het die weer is glad nie so sleg nie.
Watter woord of frase gebruik jy te veel?
"Ja, ja, ja" en "oh my hat" het ook onlangs ingesluip.
As jy iets aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek kon nog nooit heeltemal van my love handles ontslae raak nie.
Wat is jou gunstelingname?
Om te sê: Juanli, Sophia en Migael. Om genoem te word: Pappa.
Hoe sal jy graag wil sterf?
Oud en vinnig en in my slaap ná 'n dag waar ek en Juanli langs die see gaan stap, ek haar en my kinders (en hopelik kleinkinders) kon vashou en vertel het hoe lief ek vir hulle is. En, as dit nie te veel gevra is nie, dalk selfs nog die dag 'n bietjie skaapboud geëet het.
As jy ná jou afsterwe kon terugkom as 'n mens of 'n ding, wat dink jy sal dit wees?
Enige van die diere in ons huis, maar dalk meer spesifiek die katte.
Wat is jou motto?
Moenie na 'n lewe van geluk streef nie, streef na 'n lewe van betekenis en impak














