Ecce homo. Só vertaal die Vulgaat, die Latynse Bybel, die woorde van die Romeinse goewerneur Pilatus (soos te vinde in Johannes 19 vers 5). "Kyk, die mens!"
Pilatus spreek dié woorde uit nadat hy Jesus buitentoe, na die mense, laat bring het. Jesus is kort tevore gegesel en die soldate het 'n doringkroon op sy kop gesit het en 'n purperrooi mantel om hom gehang. Hoewel Pilatus sê dat hy geen skuld in Jesus vind nie, lewer hy hom tog oor om gekruisig te word wanneer die mense skree: "Kruisig! Kruisig!"
Deur die eeue het hierdie dramatiese toneel mense se verbeelding aangegryp. Ons vind dan ook talle skilderye wat die titel Ecce homo dra. Soos 'n werk wat eers onlangs, in 2021, aan die bekende Italiaanse kunstenaar Caravaggio (1571-1610) toeskryf is. Dit is tans, op bruikleen van die Prado-kunsmuseum in Madrid, as deel van die Caravaggio 2025-uitstalling in Rome te siene.
In hierdie kunswerk is daar drie figure. In die middel is Christus met 'n doringkroon, verwond en weerloos ná sy marteling en vernedering. Voor hom leun 'n bebaarde en onversorgde Pilatus oor die rand van die paleis se balkon met 'n uitdrukking op sy gesig wat spreek van verwarring, vertwyfeling en vermoeidheid. Pilatus kyk weg van Jesus na die mense, maar wys met sy hande terug na Jesus, so asof hy vir die skare wil sê: "Moenie hierdie mý saak maak nie". Die effek van hierdie uitbeelding is, soos die kunshistorikus Ingrid Rowland uitwys, dat die kyker deel voel van die skare. Asof dit nie net die Jode of die Romeine is wat voor 'n keuse gestel word nie, maar ook ons as toekykers wat moet besluit of ons wil skree "Kruisig hom!" of "Laat hom vry!"
In Caravaggio se Ecce homo is daar naas Jesus en Pilatus ook 'n derde figuur: 'n Jong man wat agter Jesus staan, en met gefokusde oë en 'n oop mond die kleed van Jesus se skouer oplig.
Rowland meen dat hier nie soseer sprake is dat Jesus van sy laaste stukkie waardigheid ontneem word nie. Dit is eerder 'n gebaar wat 'n misterie wil ontsluit. Kyk, dié lydende is die Messiaanse Koning, in dié weerloosheid is daar mag, in dié vernedering is daar verlossing.
Hierdie skildery se menslike uitbeelding van die mense vir wie ons dikwels die skuld gee vir Jesus se kruisiging kan - soos ook die Bybeltekste oor Jesus voor Pilatus - ons konfronteer met ons eie aandadigheid en medepligtigheid omdat ons sukkel om die vreemde gestalte van God se verskyning in ons wêreld te herken. - RRV



















