Sielsdinge

Stille Uur: Om toegerus te word

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

Wat is jou doel op aarde? Dit is opvallend dat die lewe van die gelowige dikwels in die Bybel vergelyk word met saad. Met geloof so groot soos mosterdsaad kan berge versit word.

1 Petrus 1 praat van verganklike en onverganklike saad - en dat ons as gelowiges gebore is uit onverganklike saad.

Ons is nie bedoel om droë saad, sonder groei, te wees nie. Dit is mos absurd om 'n saadjie te plant en nooit water te gee nie en te verwag dat dit moet groei.

In Handelinge 2 lees ons van iets soos 'n stormwind en tonge van vuur. Waarnemings wat nie werklikhede was nie. Die werklikheid was wat gebeur het ná die uitstorting van die Heilige Gees: God laat praat. God laat luister. Hierdie hoor-wonder was die begin van die boodskap van Jesus se sterwe en opstanding sodat jy kan glo en werk in God se koninkryk. Die Heilige Gees ontkiem en laat groei.

'n Perskeboom êrens in 'n bos is nie veel werd nie. Daarom het die Here jou in 'n baie spesiale boord geplant. Ons noem dit die gemeenskap van die heiliges. Dan het ons 'n Landbouer wat sy boord versorg: In Handelinge 2 is die versorging toerusting. Hy maak sy boord "nat" met die Heilige Gees.

Die gevolg: Dissipels wat lafhartig in Getsemane weggehardloop het, preek onverskrokke. Toegerus maak hulle 'n verskil.

Dink hieraan: Die perskeboom kry geen voordeel van die pragtige perskes wat dit dra nie. Ander kry dit. Dit beteken as jy die toerusting van God reg gebruik, sal jy vrugte dra.

Jy moet reg na die vrugte kyk! Kyk wat beteken jy vir mense: ouers, kinders, vriende en geloofsgenote. Jou vriendelike woord, glimlag op die regte tyd, hoe jou gebede hulle dra. Kyk na jou vrugte. Kyk wat het die Heilige Gees deur jou laat groei. Dit is jou doel op aarde! - Dr. HF (Hennie) van Wyk (emeritus), UIt: GKSA-dagboek 2024

Stille Uur

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM