Ons leef in ’n tyd waar algoritmes ons almal soos digitale skimme agtervolg. Kunsmatige intelligensie het meteens die “betroubaarste” bron van kennis en ondersteuning vir miljoene mense geword.
Loop lig vir hierdie siellose wêreld. Moenie jou eie kreatiwiteit en verbeelding prysgee op die altaar van algoritmes nie. Intelligente masjiene gaan dalk wie weet hoeveel menslike take vervang, maar nie ons innerlike kreatiwiteit nie. Geen kletsbot mag ooit ons hart-aangedrewe verbeelding uitknikker nie.
Ons verbeelding is nie ’n kunsmatige ontsnappingsroete nie. Dis ons Godgegewe superkrag. Dis ons kreatiewe kyk en herkyk na die werklikheid. Dit was nog altyd só.
Vra vir Jesus. Hy het God se werklikheid gedurig raak gekyk en visueel verwoord. “Kyk na die lelies van die veld,” het Hy gesê om ons aandag te verskuif na God wat vir ons sorg. “Die koninkryk van die hemel is soos ’n versteekte skat in ’n saailand,” het Hy gesê om die kosbaarheid van God se nuwe wêreld beeldryk te onderstreep.
Jesus nooi ons uit om ons leefwêreld te herverbeeld. Dit begin elke dag wanneer ons as eregaste by sy ruim feestafel aansit. Dit gebeur deur die loop van elke dag wanneer ons as vreugdevolle werkers in sy wingerd leef – daar waar die genade-oeste altyd groot is.
Uit die Woord
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê . . .
“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels . . .
“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ’n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang.” – Matteus 13:44-47













